Estimated reading time: 5 minutes
Gevalle van Slenkdalkoors in die Kakamas- en spesifiek Augrabies-omgewing is deur die Noord-Kaapse Direktoraat van Veeartsenydienste bevestig. Die siekte wat onder ‘n aantal skape in die omgewing vermoed was, is deur die Onderstepoort Veterinêre Navorsingslaboratorium bevestig. Die voorkoms van die siekte volg na ‘n toename in muskietbevolkings ná die onlangse reën.
Die provinsiale regering het boere en landbou-rolspelers in die provinsie in ‘n verklaring op 14 November, versoek om hul beeste, skape en bokke fyn dop te hou vir siektetekens wat koors, aborsies, swakheid en lam-/kalfvrektes insluit. Waar moontlik moet muskietbeheer toegepas word deur die dreinering van stilstaande water en die gebruik van insekdoders.
Slenkdalkoors is ook ‘n soönose, wat beteken mense kan dit ook kry. Aktiwiteite wat ‘n groot risiko van infeksie vir mense inhou, sluit in die hantering van siek diere, aborsiemateriaal en plasentas, en die oopsny van karkasse. Beskermende klere moet gedra word en geïnfekteerde materiaal soos geaborteerde fetusse en plasentas moet diep begrawe word of verbrand word. Die risiko van besmetting is baie groot en mense moet bedag wees op simptome soos grieperigheid, spier- en gewrigpyn, asook hoofpyn. Die siekte kan dodelik wees en tot toestande soos breinontsteking lei.
Verdagte gevalle moet dadelik by die staatsveearts of -dieregesondheidstegnikus aangemeld word. Die direktoraat het boere ook aangeraai om onmiddellik hul skaap-, bok- en beeskuddes voorkomend teen Slenkdalkoors in te ent. Vir meer inligting of hulp, kontak ook jou kuddeveaarts of plaaslike landbou-organisasie.
Die nommers van die staatsveearts in Upington is 087 630 0304, 083 452 9850 of
078 486 9275. Mense wat vermoed hulle het die siekte onder lede moet dadelik hulle huisdokter of die naaste mediese fasiliteit kontak.
Meer oor die siekte
Slenkdalkoors is ’n ernstige insekgedraagde virussiekte wat by skape, bokke en beeste voorkom en wat ook ’n groot gesondheidsgevaar vir die mens inhou.
Die virus is die eerste keer in 1930 tydens ’n epidemie onder skape in die Slenkdalgebied in Kenia geïsoleer. Van 1950 tot 1956 het die siekte telkemale in Suid-Afrika onder beeste en skape voorgekom. Verskeie mense het ook al die siekte opgedoen. Tydens nog ’n uitbreking van die siekte in 1975, het dit groot skade vir veeboere veroorsaak. Verskeie mense het ook gesterf.
Die siklusse in die voorkoms van die siekte word grootliks deur reënval bepaal. Aanvanklik word die diere deur virusdraende muskiete gebyt en met die siekte besmet.
Verspreiding van die virus
Uitbrekings kan verwag word in jare met goeie reën wat gunstige toestande skep vir die oorlewing van die virus in Aedes-muskieteiers. Die Slenkdalkoors-virus oorleef in dié eiers, wat meebring dat muskiete wat uitbroei klaar met die virus besmet is. As sulke muskiete vee byt, dra hulle die virus oor en dan dien die diere as bronne van virusse om honderde ander Aedes-muskietwyfies te besmet, wat dit weer deur hul eiers aan hul nageslag oordra.
Besmette muskiete dra dan ook die virus na vatbare diere oor, wat sodoende die sirkulerende virusbevolking in stand hou en uitbrei. Die besmette muskietbevolking raak mettertyd groot genoeg om ‘n uitbreking van die siekte te veroorsaak. Vee kan ook regstreeks besmet word as hulle met geaborteerde fetusse of ander besmette materiaal in aanraking kom.
Na ’n aanvanklike uitbreking sal ander opportunistiese muskietspesies die siekte regstreeks van besmette diere na vatbare diere oordra. In gunstige klimaatstoestande kan dit ‘n baie groot uitbreking veroorsaak wat wyd kan versprei.
Volgens Eco Health Alliance (EHA) se navorsing, kan die eerste uitbrekings in die Vrystaat en Noord-Kaap voorkom (soos dan ook nou aangemeld is) omdat die regte grondtipes, plante en waterpanne daar voorkom om die virus in muskiet-eiers te laat oorleef.
Inenting as voorkoming
Al manier hoe ’n mens die vermenigvuldigingspiraal van die muskietbevolking en die uitbreking van Slenkdalkoors kan stuit, is met die inenting van vee. As die vee in die gebiede waar die eerste uitbrekings verwag word, voldoende immuniteit teen die siekte het omdat hulle geslaagd ingeënt is, sal die gasheermuskiete nie die virus so maklik versprei nie.
Uitbrekings van Slenkdalkoors kom gewoonlik voor in die laatsomer van ’n nat tydperk, wanneer toestande gunstig is vir die gasheermuskiete om uit te broei. As vatbare vee in dié tyd in laagliggende dele met vleie en panne loop, is die gevaar groter dat hulle die siekte kan opdoen.
Simptome om voor uit te kyk
Skaap- en boklammers is tot op ’n ouderdom van 14 dae hoogs vatbaar vir die siekte en word vinnig siek, ontwikkel ’n hoë koors, en verloor hul eetlus en energie. Tot 95% van hierdie lammers kan vrek.
Volwasse skape het ook ’n hoë koors, is lusteloos, haal vinnig asem, en het onwelriekende diarree met bloed daarin. Van 15% tot 30% van die volwasse skape kan vrek en tot 60% van die dragtige ooie kan aborteer. By bokke is die kliniese tekens nie so erg soos by skape nie.
Onder kalwers kom ligte kliniese tekens voor en van 10 tot 15% van die kalwers kan vrek. Van 10 tot 40% van die koeie kan aborteer en soms toon hulle geen siektetekens nie.
Besmetting by mense
Mense word gewoonlik deur die siekte besmet as hulle regstreeks met die virus in aanraking kom tydens nadoodse ondersoeke of tydens die hantering van geaborteerde fetusse. Die virus dring ’n mens se liggaam in deur slymvliese of wonde in die vel.
Die inkubasietydperk by mense is van drie tot sewe dae. Die simptome stem baie ooreen met dié van griep en begin met spierpyne, kouekoors, braking, bloed in die urine, donker stoelgang, swak sig, rug-, gewrigs- en hoofpyn, en koorsigheid. Sterftes beloop sowat 0,5%. ‘n Ander slegte nagevolg van Slenkdalkoors in mense, is gedeeltelike of algehele blindheid.
Praktiese oplossing
Die inenting van vee is die enigste praktiese beheermaatreël, aangesien dit nie prakties haalbaar is om die muskiete wat die virus dra, te probeer uitroei nie. Dit is ook raadsaam om vee in die somermaande nie in die laagliggende dele wat gunstig is vir die muskiete, te laat wei nie. Dipmiddels wat effektief is teen bytende insekte, mag ook oorweeg word. – Lynette Louw, Plaas Media
Raadpleeg jou kuddeveearts dadelik vir meer inligting.


