Die rustige Karoo, waar mens en dier die aarde waardeer en respekteer, het die afgelope paar jaar kort-kort onder die internasionale vergrootglas gekom. Eers was dit die Square Kilometre Array (SKA) radioteleskoop-projek in die Carnarvon-omgewing, waar sommige boere voel hulle is ingeloop met vae beloftes. Kort op sy hakke was dit die moontlike ontginning van skaliegas, wat in dele in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap sal plaasvind.

Die gemeenskappe in dié gebiede was uit die staanspoor ontevrede met die skaliegasprojek omdat dit hul waterbronne bedreig. Jonathan Deal van die Treasure Karoo Action Group (TKAG) sê hulle stoei al vir sewe jaar om hierdie projek te stop. Verlede jaar is aangekondig dat die projek eers op die ys gesit is.

In April vanjaar het die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, egter aangekondig dat die regering die groen lig gegee het vir die ontginning van skaliegas in die Karoo. Hy het aan die gemeenskap in Richmond verduidelik dat dié projek deel vorm van die land se Nasionale Ontwikkelingsprogram en dat baie werkgeleenthede vir die gemeenskappe beskikbaar gaan wees.

Bedreigde waterbronne

Jonathan beskou dit egter as loutere onsin. Na sy mening is hierdie aankondiging deur minister Zwane ondeurdagte politieke praatjies. “Die waterbronne in die Karoo word bedreig, met erge gevolge vir die gemeenskappe sowel as die landbou in Suid-Afrika. Dit het geen nut dat die regering werksgeleenthede wil skep en armoede wil verlig, maar in dieselfde proses mense se drinkwater gaan wegneem nie,” sê hy.

In die verlede is aan gemeenskappe gesê dat so ’n boorgat wat die gas uit die grond moet lei, tot 15 jaar aktief bedryf kan word, maar volgens sy navorsing in gebiede in Amerika waar soortgelyke ontginning reeds aan die gang is, is die beste boorgate binne twee tot drie jaar uitgeput. “Dan is die grond reeds verniel, die infrastruktuur van daardie gemeenskap is tot niet en die water is besoedel. Selfs al kan die boorgate vir 15 jaar bewerk word, wat gebeur daarna?”

Jonathan meen dit sal ’n wonderwerk neem om die ondergrondse water in die Karoo te herstel as dit eers besoedel is. Paaie word tans nie behoorlik in stand gehou nie. “As die vragmotors met hierdie projek die paaie verder verniel, gaan die hele infrastruktuur in die Karoo verder daaronder ly.”

Hidrobreking in Amerika

Hy verwys onder meer na gebiede soos Maryland en die staat New York in Amerika, waar ook aansoek gedoen is om hidrobreking te doen. Inwoners van dié gebiede dring egter daarop aan dat dié proses nie moet begin nie, omdat hulle waterbronne bedreig word. In Amerika is tans 27 000 klagtes teen dié maatskappye aanhangig gemaak, waarvan duisende in die hof gaan eindig weens kommer oor die proses.

Gregory Smith, ’n verteenwoordiger van Agri SA wat ook sy vinger op die pols van die skaliegas-projek hou, sê die aankondiging van minister Zwane kan hoogstens aandui dat die regering van mening is dat ontginning vir skaliegas mag voortgaan, onderhewig aan die toekenning van die nodige lisensies en permitte (wat tans nog uitstaande is).

Volgens Jonathan is dit egter nie ’n moontlikheid nie. “Heelwat Hooggeregshof-sake moet eers afgehandel word en as die regering die proses wil laat voortgaan, sal hulle van voor af moet begin met goeie wetenskaplike navorsing, behoorlike impakstudies, samesprekings met die gemeenskappe en nuwe regulasies oor die projek. Die studie en navorsing wat reeds gedoen is, is nie voldoende nie.”

Impak op kleinboere

In ’n dokument wat vir Agri SA saamgestel is, “Fracking and farms: Is there a future?”, word gesê dat dié projek veral ’n groot impak op kleinboere kan hê omdat hulle nie noodwendig die kontantvloei het om teen onnodige besoedeling te baklei nie en nog minder vir hofsake teen maatskappye wat omgewingskade aanrig. Die landbougebied wat deur die skaliegas-projek geraak gaan word, het ’n totale inkomste van R5 miljard per jaar, bied werkgeleenthede aan 38 000 mense en onderhou 133 000 mense (WNNR, 2016).

Aangesien hierdie dele van die Karoo groot skaapwêreld is en produsente hier die land van die beste skaapvleis voorsien, asook groente en vrugte op groot skaal produseer, is dit te verstane dat Karooboere hul waterbronne moet beskerm en dat landbou nie kan bekostig om kanse te vat nie.

Potensiële besoedeling kan ’n negatiewe uitwerking op landbou sowel as gesondheid in plattelandse gebiede hê. Kommer bestaan dat swakker gehalte water die gehalte van produkte negatief sal beïnvloed.

Boere se inkomste kan verminder omdat heelwat landbougrond in die gedrang kan kom en daar nie meer op sulke grond geproduseer sal kan word nie. Net so sal die inkomste uit ekotoerisme in die Karoo moontlik drasties afneem. Die Karoostreek se inkomste uit toerisme beloop ’n beraamde R2 miljard per jaar.

Omgewing- en sosiale skade

Jonathan sê skaliegas word op verskillende plekke in die wêreld ontgin, maar dit is bewys dat chemiese maatskappye op dié plekke baie meer omgewing- en sosiale skade aangerig het as wat hulle wil toegee en dit het ’n groot langtermyn negatiewe impak op die gemeenskap. “Die vergoeding wat dié maatskappye aanbied, is nie naastenby genoeg om te vergoed vir die skade wat aangerig is nie.

“In oorsese plekke waar skaliegas ontgin word, is die infrastruktuur van gemeenskappe so ingerig dat inwoners gas gebruik. Die gas word met pypleidings na alle huishoudings gelei. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie. Alle gas wat ontgin word, moet padlangs vervoer word.

“Volgens navorsing kan Suid-Afrika gas baie goedkoper uit ander Afrikalande soos Mosambiek, Tanzanië en Angola invoer. Selfs gas wat uit Brittanje ingevoer word, sal goedkoper wees as dié wat plaaslik ontgin word. Eskom is ook nog nie gerat om hierdie gas koste-doeltreffend in die energiestelsel van Suid-Afrika te gebruik nie. Ongeag hoe ’n mens dié projek benader, kom alles terug na die waterbronne in die Karoo wat bedreig word.”

Die kwessie van watersekerheid

In ’n ander dokument wat deur Agri SA opgestel is, “Fracking and water: Is there enough to go around?”, word verduidelik dat watersekerheid in die Karoo ’n belangrike faktor is en dat skaliegas-ontginning baie water gebruik. Volgens inligting wat Agri SA van die Departement Minerale Hulpbronne gebruik, gaan elke boorgat moontlik tussen 10 000 en 25 000 kubieke meter water nodig hê. Die vraag ontstaan of die Karoo se waterbronne dit kan hanteer.

Kommer bestaan oor die hantering en bestuur van terugvloeiwater. Dit is water wat terugvloei tydens die hidrobrekingsproses en gemeng word met brekingsvloeistof, wat ’n sterk soutkonsentrasie het en nadelige chemiese stowwe insluit. Suid-Afrika het nie noodwendig die geriewe, kapasiteit of vaardigheid om hierdie afvalwater te bestuur en veilig uit die waterbronne te hou nie.

Jonathan is bekommerd oor die bedreiging wat hidrobreking vir grondwater kan inhou. Die gemeenskappe in die Karoo is afhanklik van grondwater en kan dit nie aan dié risiko blootstel nie. In Suid-Afrika is water ’n waardevolle bron en dit kan nie verruil word vir geld nie.

“Die gemeenskap in die Karoo sal voortgaan om dié projek teen te staan totdat alle rolspelers oop kaarte met hulle gespeel het en daar voldoende bewyse is dat hierdie projek veilig is vir mens en dier. Op die oomblik blyk dit nie geval te wees nie en daarom sal die gemeenskap voortgaan om hul belange te beskerm,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel Jonathan Deal by 076 838 5150.

Fracking: Concerns regarding water and hydraulic fracturing

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY