Sako kies nuwe voorsitter

Estimated reading time: 6 minutes

Die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie (Sako) se algemene jaarvergadering is onlangs by die Riviera Hotel in Velddrif gehou. Die lewering van aartappels op varsproduktemarkte, die bestuur van ondergrondse water in die Sandveld en aartappelsiektes is van die sake wat bespreek is.

Na afloop van die jaarvergadering is Monique Vlok tot voorsitter van Sako verkies. Die uittredende voorsitter, Jannie Basson van Zandrug Boerdery in Clanwilliam, het drie jaar as voorsitter gedien en het homself nie weer beskikbaar gestel nie. Basson bly wel aan as die voorsitter van Aartappels SA se nasionale bemarkingskomitee.

Vlok boer saam met haar pa, Frans, op die plaas Valskuil naby Piketberg. Sy het in ’n rekenkundige rigting gestudeer, maar het as kind en student heelwat blootstelling aan boerdery gehad. “My liefde vir die grond en om iets te verbou wat gebruikswaarde het, was die dryfveer agter my besluit om voltyds by die boerdery betrokke te raak, ongeag die talle struikelblokke en uitdagings wat boerdery in die gesig staar,” het Vlok aan Plaas Media gesê.

Leer meer oor die Aartappelsertifiseringsdiens hier.

Eenheid en samewerking nodig

Vlok was eers by die Sandveld- en Weskus-bewaringskomitees betrokke. Sako word op beide van die komitees verteenwoordig en dit is hoe sy by Sako betrokke geraak het. “Die hulpbronuitdagings in die Sandveld (beide water en grond) het my afdeling binne Sako geraak en aangesien dit alle produsente beïnvloed, het dit net al belangriker binne Sako geraak,” het Vlok gesê.

“Ek is leergierig en geniet dit om my met mense te omring by wie ek iets kan leer. As voorsitter van Sako sal ek graag die spreekbuis vir alle Sandveld-produsente wil wees. Die Sandveld is nie ’n baie groot area nie en daar is nie meer baie aktiewe aartappelprodusente nie. Dit sal vir my lekker wees om eenheid en samewerking onder produsente te sien sodat ons saam ons delikate area kan beskerm en volhoubaar kan boer vir die geslagte na ons”, het Vlok gesê.

Sandveld se beeld belangrik

Basson, die uittredende voorsitter van Sako, het in sy voorsittersverslag ’n beroep op aartappelboere in die Sandveld gedoen om vir hul eie beswil en ook die beeld van die Sandveld, te let op die wetlike voorgeskrewe merkvereistes op aartappelsakkies. Daar was die afgelope jaar al hoe meer besendings aartappels uit die Sandveld wat nie aan die wettige merkvereistes en gehalte voldoen het nie. “Die probleem moet betyds aandag kry voordat dit die beeld van die streek skaad,” het Basson gesê.

Ettienne Booyens, hoof uitvoerende beampte van Prokon, het gesê aartappelprodusente in die Sandveld moet die streek as ’n prima aartappelverbouingsgebied vestig. Die Sandveld en Limpopo is die enigste streke waar daar primêre aartappelprodusente is.

“As julle die streek as ’n primagebied vestig, is dit belangrik dat julle geloofwaardig optree. Gehalte produkte moet bemark word en die regte gehalte produkte moet soos die etiket aandui, in die verpakkings wees,” het Booyens gesê.

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, het daarop gewys dat Suid-Afrika se aartappeluitvoere met 34% gegroei het van R324 miljoen in 2014 na R434 miljoen in 2023. Oor dieselfde tydperk het die Wes-Kaap se aartappeluitvoere egter met 46% gedaal van R126 miljoen na R67 miljoen. Die Wes-Kaap se aandeel in die totale aartappeluitvoere het van 39% in 2014 tot 16% in 2023 gedaal.

“My doelwit is om uitvoere van landbouprodukte noemenswaardig te laat toeneem, so ons moet hierdie tendens in die Wes-Kaapse aartappelbedryf omkeer,” het dr Meyer gesê.

Dink nuut oor waterbron

Basson het ook gesê die Sandveld se waterbron bly onder druk. Die streek is van ondergrondse water afhanklik en die droogtesiklus voor 2023 se bogemiddelde reënval het watervlakke en watergehalte negatief geraak. Verlede jaar se goeie reënval het wel ’n positiewe uitwerking op watervlakke gehad.

Volgens hom het die watervlakke van rustende en gepompte boorgate onderskeidelik met 2,8m en 4,5m gestyg, wat te wagte was na die hoë reëns. Die water se pH het bietjie gedaal van 5,7 na 5,3 en die nitrate van 6,4 na 5,2. Die elektriese geleidingsvermoë (EC) van die water het egter gestyg van 1,1 na 1,2.

“Na die goeie reën in 2023 het ons beter resultate verwag. Die situasie is kommerwekkend en ons sal beslis na ons waterverbruik in die Sandveld moet kyk om volhoubaar te boer,” het Basson aangedui.

Markte bly relevant

Geo van Zyl, bestuurder van die RSA Groep in Kaapstad, het die relevansie van varsproduktemarkte in die verhandeling van grootmaat-aartappels verduidelik. Hy het gesê daar is van 2019 tot 2023 altesame R14,6 miljard se aartappels (3,114 miljard kg) op die vier grootste varsproduktemarkte in Suid-Afrika (Johannesburg, Tshwane, Durban en Kaapstad) verkoop. Johannesburg se mark is verantwoordelik vir byna 50% van die totale verkope.

“Die varsproduktemarkte is betroubaar, maklik bereikbaar met onbeperkte toegang, alle transaksies op markte is deursigtig, die markte bied waarde vir geld, het ’n realistiese prysformulerinsproses en daar is vinnige reaksie op prysbepalende faktore. Daarby is ’n produsent se geld gewaarborg,” het Van Zyl uitgewys.

Hoër produksie moontlik

Willie Jacobs, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, het gesê aartappelproduksie in Suid-Afrika kan net verhoog word as produsente doeltreffender op die beskikbare grond boer. Produsente moet opbrengs per hektaar verhoog, beter gehalte produseer en so die winsgewendheid van aartappelverbouing verbeter.

“Ons moet grondbiologie en grondsiektes beter verstaan en bestuur, die gebruik van chemiese middels verminder en chemie saam met biologiese beheer gebruik om peste en plae te beheer.”

As produsente die insetkant en grondbiologie beter bestuur en die draaityd (siklus) van aartappels op dieselfde land verkort, kan hulle op dieselfde hektare nog ’n substansiële verbetering in produksie kry.

Jacobs het gewaarsku dat pepper ringspot-virus ’n groot probleem in Suid-Afrika kan word as dit nie reg bestuur word nie. Die virus kan voorkom word deur gesertifiseerde saad te plant, goeie onkruidbestuur en wisselbou toe te pas, verskillende kultivars van verskillende bronne te plant en vir die teenwoordigheid van stompwortel-aalwurm te toets.

“Dit is ook belangrik om ’n goeie verhouding met jou saadverskaffers op te bou,” het Jacobs gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

Must read

South African Sugar Value Chain Master Plan 2030

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: During the 2019 State of the Nation Address, President Cyril...

Eienaarskap van lewendehawe: Die regte en verpligtinge van plaasbewoners

Estimated reading time: 4 minutes Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en behalwe ’n besigheid, ook ’n hartsaak. As dit gaan oor plaasbewoners wat die reg geniet om lewendehawe aan te hou...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 25...

WCCA congress driving sustainable agricultural practices

Estimated reading time: 7 minutes The ninth World Congress on Conservation Agriculture (WCCA) recently took place at the Cape Town International Convention Centre in the Western Cape. The theme of the congress was “Enhancing agricultural...
Koring

RSG Landbou: 25 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Die nuwe koringtarief is verlede week uiteindelik aangekondig en Tobias Doyer van Graan SA verduidelik waarom ‘n tarief noodsaaklik is om internasionaal te kan meeding. Daar is slegs ‘n handjievol papaja-produsente in Suid-Afrika oor. Ons...