Estimated reading time: 6 minutes
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Wes-Kaap se jaarvergadering is een van die hoogtepunte tydens die eerste dag van NAMPO Kaap, wat op Bredasdorp in die Wes-Kaap plaasvind. Die tema was naspeurbaarheid.
Jaco van den Berg, RPO Wes-Kaap voorsitter, sê die Wes-Kaap was een van slegs twee provinsies wat nie bek-en-klouseer in onlangse jare aangemeld het nie en hy het rolspelers in die provinsie bedank vir hul voortgehoue verantwoordelike optrede. Die provinsie het egter ander uitdagings, soos die onderraportering van veediefstal, stygende insetkoste, en probleme weens gebrekkige infrastruktuur. “Verbruikers verkeer ook steeds onder druk en daarom koop hulle goedkoper proteïene, soos hoender,” het hy bygevoeg.
Deur die loop van die dag het Van den Berg uitgelig dat biosekuriteit en naspeurbaarheid met die meerderheid van hierdie kwessies kan help. Dit kan ’n produsent byvoorbeeld help om kostes te bespaar en peperduur insette meer spaarsamig te benut, omdat presisieboerdery tot ’n meer akkurate toediening van produk en gevolglik tot groter besparing lei.
Lees meer oor die Agri Wes-Kaap kongres.
Naspeurbaarheid bespreek
Tydens ’n paneelbespreking gelei deur Pierre Vlok, afgetrede bestuurder van wol in die westelike streek van BKB, het dit duidelik geword dat produsente nie moet vra of hulle ’n premie kan verdien deur naspeurbaarheid toe te pas nie, maar eerder moet begin dink wat hulle kan verloor as hulle dit nie doen nie.
“Ons lewer vleis aan ’n verbruiker en as verbruikers sekere goed in plek wil hê moet ons dit lewer,” sê Van den Berg en voeg by dat naspeurbaarheid produsente skielik toelaat om ’n kommoditeit in ’n produk te verander. “Dit help ons ook om beter beheer oor siektes te hê.” Indien naspeurbaarheid egter nie vinnig in plek gesit word nie, gaan onderlinge konflik tussen produsente snel toeneem, het Van den Berg benadruk.
Dian Gilliomee, bestuurder van Overberg & Hessequa Meat, het benadruk dat naspeurbaarheid veel belangriker as inenting is. “Geen enkele uitvoermark verwag dat die totale nasionale kudde ingeënt moet word nie, maar almal verwag naspeurbaarheid.”
Katar het verlede jaar sy grense vir Suid-Afrikaanse vleisprodukte gesluit weens dieresiektes en dít het ’n geweldige invloed op uitvoere gehad, het Gilliomee benadruk. Daardie land het in 2023 ’n totaal van 90 000 lammers se vleis (uitgewerk op ’n gemiddeld van 20kg vleis per lam) vanuit Suid-Afrika ingevoer, terwyl 120 000 lammers se vleis in 2024 uitgevoer is. Tot op hede is geen lamsvleis na daardie land uitgevoer nie. “Onthou – Suid-Afrika se skaapvleismark krimp jaarliks met 1%, terwyl buitelandse uitvoere teen ’n koers van 6% per jaar gestyg het.”
Louw van Reenen, uitvoerende voorsitter van Beefmaster, sê dis nie ’n nuwe ding dat voerkrale op naspeurbaarheid by hul verskaffers aandring nie. “Ons (Beefmaster) dring al vir jare daarop aan. Dis wel waar dat van ons opposisie nou daarop aandring.” Hy het bygevoeg dat dié nie ’n geval is van samespanning tussen voerkrale nie. Dis bloot hul mark wat op naspeurbaarheid en goeie biosekuriteit aandring.
Op die oomblik is die grootste uitdagings vir voerkrale egter om produsente te oorreed om naspeurbaarheid in plek te kry. Hy sê hoewel produsente nie op ’n premie moet hoop nie, sal hulle R12 miljoen meer kan verdien indien die land sy vleisuitvoere só kan lig dat hulle 20% van die land se beesvleis kan uitvoer.
Regering wil bande bou
Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaap se minister vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het tydens sy groeteboodskap gesê dat demokrasie tans plaaslik en wêreldwyd aangeval word. “Lande kyk al hoe meer na binne en as jy na binne kyk, dan verloor jy.”
Dr Meyer het kommer uitgespreek oor derduisende werke wat moontlik verlore kan gaan as gevolg van die Amerikaanse president, Donald Trump, se proteksionistiese wêrelduitkyk. “In die Wes-Kaap is ons strategie om die politieke temperatuur laag te hou. Politiek beïnvloed mense se lewens en daarom is my beste raad aan ons land se politici – hou jou bek.” Die rede vir dié streng woorde is die feit dat Amerika 26% van die wêreldekonomie uitmaak, terwyl Suid-Afrika slegs 0,6% uitmaak het hy verduidelik.
Met dié dat die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA)-ooreenkoms volgende week tot ’n einde kom, het dr Meyer gesê hy twyfel of dié ooreenkoms weer hernu sal word. Daarom is sy departement besig om hard te werk om bestaande markte te behou en nuwe markte vir produsente te probeer oopbreek. “Ek kan nie wag vir die nasionale regering nie. Boere staan 4 uur in die oggend op, terwyl nasionale staatsamptenare eers 10 uur wakker skrik.”
Daarom is dit vir hom ’n prioriteit om volgende week hegter internasionale bande te smee wanneer hy die landbouministers van die G20-lande in die Wes-Kaap ontvang. Vernaam omdat hierdie ministers 20 van die wêreld se rykste ekonomieë verteenwoordig. “Die Wes-Kaap moet kyk na Afrika, want 66% van al ons landbou-uitvoere word soontoe uitgevoer. En 96% van Suid-Afrikaanse produkte wat Europa toe uitgevoer word, is vry van tariewe. Daarom ís Europa ons vennoot. Ons werk ook hard om nuwe markte in Asië te ontsluit en handelsbande soontoe te versterk,” het Dr Meyer gesê.
John Durr, die RPO se koördineerder vir slaglamkompetisies, is tydens sy opening van die geleentheid deur beide die departement en die RPO Wes-Kaap vereer vir die reusebydrae wat hy tot die vestiging van nuwe produsente in die provinsie gelewer het. Durr het gedurende die laaste 17 jaar van sy drie dekades van betrokkenheid in georganiseerde landbou, aktief gehelp om nuwe boere te bemagtig. – Susan Marais, Plaas Media