RPO-vleis amptelik op internasionale standaard

Estimated reading time: 4 minutes

Hier is nou nóg rede om met jou braaivleis te spog: Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) voldoen nou aan internasionale ISO 9001-standaarde en het ook ’n RPO-gehaltebestuurstelsel geregistreer. Dié stelsel sal binnekort deel van ’n ‘plaas-tot-bord’ ISO-gesertifiseerde skema vorm.

Tydens sy kongres het die nasionale RPO amptelik bekendgemaak dat ’n nuwe ISO 9001- en RPO Skema-gehaltebestuurstelsel met behulp van Certification Partner Global (CPG) in werking gestel is. Thea Laufs, voedseldirekteur by CPG, sê hierdie internasionale sertifisering (ISO) beteken eerstens dat die nasionale RPO-kantoor op ’n internasionale vlak funksioneer wat administrasiestelsels betref. Tweedens maak dit binnekort ’n universele oudit op plase moontlik, wat sal verseker dat boerderye regoor die land aan eenvormige standaarde voldoen.

In die praktyk

Die ISO 9001-sertifisering verwys na die nasionale RPO se oorhoofse stelsels en standaarde, terwyl die RPO Skema op die spesifieke standaard fokus wat nou geïmplementeer en geverifieer kan word. Die skema het kortom ten doel om te bewys dat produsente voldoende na hul diere, mense en omgewing omsien. Plase sal dus geoudit word op grond van faktore soos dierewelstand en -gesondheid, omgewingsbestuur, arbeidspraktyke, biosekuriteit, naspeurbaarheid en wetlike nakoming.

“Uiteindelik hoop ek dat hierdie proses vir produsente gemoedsrus sal bring, deur hulle te laat besef dat hulle vir baie jare al ‘reg’ boer, maar hulle ook die kans gegun word om selfs meer aandag aan die fyner detail van hul boerderye te skenk.”

Laufs sê verder sy hoop dié stelsel bied aan produsente die geleentheid om hul boerderye uit te brei, omdat dit meer beheer aan produsente beloof. Die feit is dat jy meer kan vermag wanneer jy ’n saak beter kan beheer. “Elke keer as ’n nuwe stelsel in plek gestel word, lei dit tot groei, juis omdat meer dinge dan reg gedoen word.”

Oor die jare het Laufs gesien dat diegene wat sulke stelsels in plek het, minder kommer oor die herroeping van produkte het. ISO 9001 is juis ’n internasionale standaard wat raamwerke vir gehaltebestuur bied, met die klem op kliëntetevredenheid, deurlopende verbetering en die bestuur van risiko’s. Kwessies soos biosekuriteit, dierewelsyn en voedselveiligheid word deur die geregistreerde gehaltebestuurskema ingesluit wat onder produsente geïmplementeer sal word.

“Natuurlik is dit nie ’n oplossing vir byvoorbeeld die verspreiding van aansteeklike dieresiektes nie, maar dit kan wel help met bestuur en risikobeheer,” sê Laufs, en voeg by dat die hele stelsel in die bekende ‘One Health’-beginsel geanker is. One Health beteken eenvoudig: Wat goed is vir jou diere en jou omgewing, is ook goed vir menslike gesondheid. Siektes kan van diere na mense oorgedra word, en vuil water of swak gesondheidsbestuur kan almal siek maak. Deur dus jou vee gesond te hou, jou grond en water skoon te hou, saam met veeartse en ander gesondheidspersoneel te werk, en goed na jou arbeiders om te sien, beskerm jy jou gesin en plaas se toekoms.

ISO 9001 in die rooivleisbedryf

Die rooivleisbedryf het die afgelope dekade geweldige internasionale druk ervaar om aan strenger voedselveiligheids- en gehaltestandaarde te voldoen. Deur ISO 9001 en die RPO Skema toe te pas, poog die RPO om te verseker dat Suid-Afrikaanse rooivleis nie net aan die plaaslike standaarde voldoen nie, maar ook op uitvoermarkte kan meeding.

Produsente sal baat vind by duideliker riglyne vir boerdery- en hanteringspraktyke, terwyl abattoirs en verwerkingsaanlegte hul prosesse meer vaartbelyn kan maak om onder andere vermorsing te verminder en produkte van meer konsekwente gehalte te lewer. Soortgelyke stelsels is reeds by voerkrale en abattoirs geïmplementeer. 

Die byvoeging van die RPO Skema stel die bedryf dus in staat om ’n spesifieke produk te lewer, aangesien elke stap in die waardeketting aan die nodige standaarde voldoen. Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) sal as oorhoofse platform tussen die verskillende stelsels dien. RMIS het ook sy eie ISO 9001- en RMIS Skema-sertifisering gekry. Dit help om die sertifisering van die onderskeie rolspelers in die waardeketting te verbind. Dít behoort op sy beurt tot groter verbruikersvertroue te lei.

“Die jonger generasie verbruiker is ’n ingeligte persoon, en hulle wil weet dat die produk wat hulle gebruik op standaard is,” sê Laufs. En wat van ’n premie? “ ’n Produsent moenie net fokus op ’n beter prys nie, maar eerder die hele prentjie. Dit sluit in om te bepaal hoe winsmarges verbeter en risiko’s verlaag kan word deur hierdie stelsel te implementeer en produksiepraktyke te verfyn. Die werklike vraag is: Kan ’n produsent dit bekostig om die risiko te loop dat verbruikers hul rug op rooivleis draai, bloot omdat daar nie genoegsame inligting oor die produk beskikbaar is nie?” – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan Thea Laufs by Thea.Laufs@cpg.global

Related

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy primêre doelwit as selfregulerende inisiatief van die georganiseerde suiwelbedryf. Sy...