Thursday, September 12, 2024

Rotavirus veroorsaak ernstige diarree by jong kalwers

Estimated reading time: 4 minutes

  • Diarree in veral pasgebore melkkalwers is verantwoordelik vir groot verliese by melkboerderye.
  • Rotavirus kan soms geïsoleer word sonder die teenwoordigheid van enige kliniese simptome. Daarmee saam is navorsers van mening dat alle rotavirusse nie noodwendig patogenies of siekteveroorsakend is nie.
  • Dr Chris van Dijk, ’n spesialis herkouerveearts, beaam dat diarree by jong kalwers deur verskeie bakterieë, virusse en protosoë veroorsaak word. Hierdie oorsake, sê hy, komplimenteer mekaar tot ’n mate.
  • Die virus is in die meeste gevalle ’n normale inwoner van die dermkanaal van volwasse beeste wat dan die omgewing deur middel van mis besmet. Kalwers raak besmet as hulle die virus inneem.
  • Voldoende ontsmetting van kampe voor die volgende kalwers daarin geplaas word, is ononderhandelbaar.

Diarree in veral pasgebore melkkalwers is verantwoordelik vir groot verliese by melkboerderye. Daar is verskeie oorsake van diarree in kalwers, maar rotavirus is verantwoordelik vir soveel as 28% van sogenaamde ‘vroeë’ diarree in die eerste week of twee na geboorte, en soveel as 51% van ‘laat’ diarree, vier weke of langer na geboorte.

Rotavirus kan soms geïsoleer word sonder die teenwoordigheid van enige kliniese simptome. Daarmee saam is navorsers van mening dat alle rotavirusse nie noodwendig patogenies of siekteveroorsakend is nie. Die rotavirus, soos in die geval van koronavirusinfeksies, veroorsaak skade aan die dermkanaal wat gewoonlik nie dodelik is nie. Sou daar dan sekondêre infeksies met bakterieë soos E. coli of protosoa soos Cryptosporidium wees, styg die mortaliteitsyfer of aantal vrektes drasties. 

In die meeste ongekompliseerde gevalle van infeksie met slegs rotavirus, herstel die diere meestal sonder enige behandeling. Die aantal jong diere wat siek word en moontlik vrek, is meer as byvoorbeeld ouer diere.

Die meeste rotavirusinfeksies kom tussen dag drie en 21 na geboorte voor. Omdat ’n kalf sonder enige teenliggaampies teen rotavirus asook al die ander virusse en bakterieë wat diarree kan veroorsaak gebore word, moet ’n strategiese en doeltreffende immuniseringsprogram vir laatdragtige koeie gevestig word. Dit is om te verseker dat voldoende teenliggaampies geproduseer kan word om beskerming te bied tydens die uiters vatbare tydperk in die eerste week tot ses weke na kalwing.

Lees meer oor kalfgesondheid.

Diarree by kalwers

Dr Chris van Dijk, ’n spesialis herkouerveearts, beaam dat diarree by jong kalwers deur verskeie bakterieë, virusse en protosoë veroorsaak word. Hierdie oorsake, sê hy, komplimenteer mekaar tot ’n mate.

Die patogene (algemeen bekend as kieme) wat vir diarree in kalwers verantwoordelik is, kom meestal as ’n gemengde infeksie voor. Saam met die rota- en koronavirusse is daar ’n hele aantal bakterieë wat diarree by veral jong kalwers kan veroorsaak. Escherichia coli (E. coli), salmonella-stamme soos Salmonella dublin en Salmonella typhimurium, en ander organismes soos Cryptosporidium en verskeie koksidia, kan tot diarree aanleiding gee.   

Lees meer oor die speen van kalwers hier.

Rotavirale kalfdiarree

Dr Van Dijk sê die rotavirus is een van die meer algemene oorsake van virale enteritis en kan klinies nie onderskei word van die meeste ander oorsake van diarree in pasgebore kalwers nie. Dit word dus dikwels in kombinasie met ander virale, bakteriese en parasitiese patogene van diarree gevind. Hierdie dubbelstring RNA-virus behoort aan die Reoviridae-familie en is vir genetiese herrangskikking, en dus veelvuldige stamme soos onder andere die koronavirus, verantwoordelik.

Die virus is in die meeste gevalle ’n normale inwoner van die dermkanaal van volwasse beeste wat dan die omgewing deur middel van mis besmet. Kalwers raak besmet as hulle die virus inneem. Ná inname word die selle van die dermkanaal geïnfekteer, beskadig en vernietig wat dan aanleiding gee tot verswakte voedingstof- en vloeistofuitruiling.

Klinies kan dit reeds vanaf ouderdom twee tot vier dae gesien word. Dit word gekenmerk deur ’n oorvloedige waterige, bleek en geel diarree wat tot ontwatering, ’n elektrolietwanbalans, metaboliese asidose en vrektes kan lei.

Dit is moeilik om rotavirusinfeksies klinies van ander siektes wat deur virusse of bakterieë veroorsaak word, te onderskei. Dr Van Dijk sê daar is toetse beskikbaar wat op die plaas gedoen kan word, maar die beste is steeds om rotavirusinfeksies deur ’n geakkrediteerde laboratorium te laat bevestig. Dit is veral nodig as dit blyk dat die huidige entstof nie 100% doeltreffend is nie. In hierdie geval moet die tipering van die virus oorweeg word, waarna outogene entstowwe vir die spesifieke plaas moontlik vervaardig kan word. 

Tree voorkomend op

Soos met die meeste ander siektes is die frase ‘voorkoming is beter as genesing’ ook in die geval van rotavirusinfeksies waar. Melkkalwers word voor speen in die meeste gevalle in ’n kampie gehou en die opbou van ’n viruslading mag oor tyd plaasvind. Voldoende ontsmetting van kampe voor die volgende kalwers daarin geplaas word, is ononderhandelbaar.

Die immuniseringsprogram moet van so ’n aard wees, dat voldoende immunoglobuliene of teenliggaampies in daardie belangrike eerste ses uur na geboorte deur die biesmelk na die kalf oorgedra kan word. Dr Van Dijk sê daar is ’n kombinasie-entstowwe beskikbaar wat gewoonlik rota- en koronavirusfraksies asook E. coli en Clostridium perfringes tipe C bevat, wat vir sekere vorms van rooiderm verantwoordelik is. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Chris van Dijk by dairyvetza@outlook.com.