Estimated reading time: 7 minutes
In enige vorm van besigheid- of projekbestuur is daar sekere stappe wat geneem moet word om die projek suksesvol tot voltooiing deur te sien. Die eerste stap is gewoonlik om mikpunte en doelwitte wat jy met die projek wil bereik, te stel, en die laaste stap is om die projek deurlopend te evalueer, om seker te maak dat jy nog op die regte pad is.
Wat sê kuilvoerontledings vir ons?
Dieselfde reëls en stappe geld by die maak van kuilvoer. Die uiteindelike doelwit is om die optimale hoeveelheid en gehalte kuilvoer te maak, met goeie voedingswaarde en geen of lae vlakke van swam- of mikotoksienbesmetting.
Om te toets of jy by dié doelwit uitkom, is dit nodig om monsters van die kuilvoer te neem om te bepaal of die kuilvoer aan jou vereistes voldoen.
Metodes van monsterneming
Stephen Slippers, ’n veevoedingkundige van SCS Feed Consult, sê daar is verskillende metodes om monsters van jou kuilvoer te neem. Dit hang van die vorm van kuilvoerbewaring af, hetsy bunkers, silosakke of kuilvoerbale.
Die hantering van die monster is van uiterste belang, omdat dit ’n invloed op die uitslag van die monsterneming en analise kan hê. “ ’n Kuilvoermonster wat met die beste tegniek geneem is, kan maklik weens foutiewe hantering, in ’n swak, nie-verteenwoordigende monster verander,” meen hy.
Prof Robin Meeske, ’n spesialis wetenskaplike by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua Navorsingplaas en beskermheer van Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, sê daar is goeie, wetenskaplike metodes om monsters te neem, maar daar kan ook met die eerste oogopslag al gesien word of die kuilvoer van goeie gehalte is.
“As jy ’n handvol kuilvoer druk en daar vog uit kom, kan jy maar weet daar is probleme. Dan is dit duidelik dat die kuilvoer te nat is (’n voginhoud van meer as 70%), die gewas te vroeg gesny is, of dit nie lank genoeg gelê het om droog te word nie.
“Nog ’n vinnige toets is om aan die kuilvoer te ruik. Dit het gewoonlik ’n soet, aangename, vrugtige geur, maar nadat jy hou hande gewas het, is die reuk weg. Wanneer daar ’n slegte reuk aan jou hande bly kleef, beteken dit gewoonlik dat bottersuur in die kuilvoer gevorm het, weens die pH wat te stadig gedaal het. Diere vreet nie graag aan sulke voer nie.
“ ’n Ander eenvoudige metode is om die pH-vlak te meet. Dit moet gewoonlik onder 4,2 wees. Jy kan ook maklik bepaal of die kuilvoer te warm is wanneer dit in die diere se voerbakke gelaai word. Té warm kuilvoer beteken gewoonlik dat die voer onstabiel is, of daar swamme in gegroei en toksiene gevorm het, omdat die bunkers nie vinnig of deeglik genoeg toegemaak is nie.
“Verder kan ’n mens met die eerste oogopslag sien of die kompaksie van die kuilvoer goed is. En as dit nie goed afgeseël is nie, kan jy weet daar gaan probleme wees.”
Hy sê hierdie is egter net ‘simptome’ van probleem-kuilvoer. Die beste manier om die werklike gehalte van jou kuilvoer te bepaal is om monsters te neem en dit te laat toets.
Monsterneming vóór oopmaak
In die geval van monsterneming vóór die bunker oopgemaak word, word die monsters in ’n ‘W’-patroon vanuit die boonste oppervlak van die bunker geneem.
“Gebruik ’n kernboor (core sampler) met verlengstukke om op die diagonale lyne van die ‘W’ tot die volle diepte van die bunker te boor. Gooi elke keer die boonste 20cm van die monster weg, sodat muwwe of swak-gehalte kuilvoer bo-op die bunker nie in die monster beland nie. Neem nege tot 15 kernmonsters, afhangend van die grootte van die bunker. Hoe groter die bunker, hoe meer monsters moet geneem word,” verduidelik Stephen.
“Meng die monsters en gebruik dan ’n kwarteringstegniek om sowat 500 tot 1 000g submonsters te verpak om na die laboratorium te stuur. Verseël weer die monsternemingsgate in die plastiekbedekking van die bunker met ’n geskikte kleefband.”
Monsterneming ná oopmaak
In gevalle waar die bunker reeds oopgemaak is, word monsters vanuit die bunkergesig geneem.
“Gebruik weer die denkbeeldige ‘W’-patroon op die bunkergesig en neem nege tot 15 monsters op die diagonale lyne van die ‘W’. Die diepte van ’n kernmonster op die bunkergesig behoort sowat 45 tot 60cm te wees. Submonsterneming (kwartering), verpakking en hantering verloop daarna soos in die geval van monsters wat op die oppervlak geneem is.
Kuilvoerbale en -sakke
By kuilvoerbale moet drie kernmonsters van minstens vyf bale uit ’n lot geneem word, afhangend van die grootte van die lot wat gebruik gaan word. Verseël weer die monsternemingsgate in die plastiek met geskikte kleefband. Die submonsterneming, verpakking en hantering verloop ook dieselfde as by bunkers.
Vir monsterneming vanuit kuilvoersakke, kan kernmonsters langs die lengte-as van die silosakke geneem word, soos benodig. Gooi die eerste 20cm van die monster weg en verseël weer die gate in die plastiek met kleefband. Submonsterneming, verpakking en hantering verloop weereens dieselfde.
Ideale tyd vir monsterneming
Volgens prof Meeske is die ideale tyd vir die neem van monsters, wanneer daar reeds vóór die sny van die kuilvoer sekere eienskappe soos vogtigheid en droëmateriaalinhoud (DMI) bepaal is.
“Die voginhoud van die plante op die land kan bestuur word deur seker te maak dat dit nie meer as 70% is nie. Die grootste enkele fout wat ’n produsent kan maak is om mielies in te kuil by ’n DMI-persentasie van 25% of laer. Deur dit te doen, sal die opbrengs ongeveer 15% laer wees en die stysel- en energiewaarde van die kuilvoer daal.
“Vir die beste resultate is dit wenslik om op drie plekke in die mielieland ’n lopende meter van die mielies af te sny, dit te kerf en dan die DMI te bepaal. Indien die DMI 25% of laer is, moet daar eers vir ongeveer 15 dae gewag word met die inkuilingsproses. Die DMI behoort met 0,4 tot 0,5% per dag toe te neem,” sê hy.
Die kuilvoerprodusent se doelwit met monsterneming en ontleding is om vas te stel of hy daarin geslaag het om die voedingswaarde van die kuilvoer en die gehalte daarvan so hoog as moontlik te kry. Die eerste kuilvoermonsterneming word sowat drie tot vier maande ná inkuiling geneem.
Sommige bronne beveel aan dat dit binne die eerste ses weke gedoen word. Teen dié tyd is die fermentasieproses egter nog nie voltooi nie, want kuilvoer is eers volledig gestabiliseer teen ongeveer tien maande ná inkuiling. Die eerste monster wat drie tot vier maande ná inkuiling geneem word, gee egter vir jou ’n basis om vanaf te werk, vir die ontleding van die voedingsverwante fraksie en/of swamme en mikotoksiene.
Hoe gemaak met swak kuilvoer?
Indien die ontleding toon dat jou kuilvoer nie na wense is nie, sê Stephen, is daar verskeie maniere om dit te hanteer. Dit kan in klein hoeveelhede met goeie kuilvoer of ander dieetkomponente vermeng word, en soms kan risiko’s ook met voerbymiddels bestuur word.
Prof Meeske maan produsente egter om versigtig te wees. In gevalle waar die fermentasieproses goed deurgevoer is, kan die kans nog gewaag word, maar indien gemufde kuilvoer aan laatlaktasiekoeie gevoer word, kan hulle aborteer.
Klik hier om meer te lees oor inokulante vir kuilvoer.
“Kuilvoer wat bottersuur bevat moet ook nie aan koeie wat pas gekalf het gevoer word nie, aangesien dit die risiko van ketose verhoog,” waarsku hy.
Stephen voeg by dat indien pitverwerking (kernel processing) tydens inkuiling glad nie of nie behoorlik gedoen is nie, dit die styseldegradering kan benadeel. Soms word herverwerking van sulke kuilvoer in die gebruik van rantsoene aanbeveel. Hy sê die kostedoeltreffendheid van herverwerking moet egter goed oorweeg word.
“In uiterste gevalle, byvoorbeeld erge swambesmetting met broodskimmel, is dit beter om die kuilvoer te vernietig. Soms is die eerste verlies die beste verlies,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Stephen Slippers by 074 1952 283 of prof Robin Meeske by 082 908 4110.