Estimated reading time: 4 minutes
Lusern is hoog in proteïene en kalsium, en ’n wasagtige, chemiese beskerming vorm op die blare tydens hitte- en kouetoestande, of wanneer daar waterskaarste is. Hierdie beskermende bestanddele asook die hoë proteïeninhoud, veroorsaak dat gasborrels in skuimvorm vasgevang word. Dit veroorsaak groot druk in die rumens (grootpense) van diere wat dit inneem. Hierdie druk maak dat die dier nie doeltreffend kan asemhaal nie en versmoor.
Die produksie van goeie gehalte hooi
Veeplaas het met dr Johan van Rooyen van Steynsburg Dierehospitaal oor dié kwessie gesels.
Feite oor lusern en opblaas
Lusern is ’n gewilde gewas om vir hooimaak of beweiding in te span. Veeboere behoort egter van die feite oor lusern en opblaas kennis te neem, sê dr Van Rooyen, en moet voorsiening daarvoor in hul weidingsbestuursplan maak:
- Vanaf groeistadium tot ongeveer 10 tot 20% van die blomstadium, veroorsaak lusern maklik opblaas.
- Verlepte lusern weens ’n watertekort of hitte, is meer geneig om opblaas te veroorsaak.
- In donker en vlak grond is lusern meer geneig om tot opblaas te lei.
- Hoë vlakke van kunsmis kan positief of negatief tot opblaas bydra.
- Honger diere wat groot volumes vreet, sal makliker opblaas.
- Goeie reënval gevolg deur hitte laat lusern vinniger groei, wat die risiko vir opblaas verhoog.
- Ryp of baie koue nagte in die lente of vroegsomer verhoog ook die kans vir opblaas. Gerypte of gevriesde lusern hou vir tien dae ’n risiko in.
- Warm weer met westewinde maak lusern weer gevaarlik in die middag.
- Aanhoudende beweiding is gevaarliker as periodieke beweiding, aangesien daar konstant nuwe lote groei wat diere kan laat opblaas. Indien grasweidings beskikbaar is, moet die gras en lusern daagliks afgewissel word.
Bestuur en behandeling
Wolskape en Angoras moet voorkomend gedoseer word. Vee kan twee tot vier keer per week vóór hulle begin wei, met minerale-olie soos aptekersparaffien gedoseer word ten einde die risiko vir opblaas te verminder. Die dosis kan met ondervinding verfyn word, maar 10ml per skaap en 50ml per bees dien as basis.
Plantaardige olies soos sonneblom of kanola moet daagliks toegedien word. Vir matige opblaasgevalle kan olies met ’n kwas aan beeste (100mm) en bokke (25mm) se sye of lieste geverf word, sodat hulle dit aflek.
Skuimbrekende produkte kan in lekke bygevoeg word, maar die kans bestaan dat diere nie die lek vreet nie. Die persentasie insluiting sal van die bepaalde lekinname afhang, sodat diere die korrekte daaglikse dosis inkry. Opblaasprodukte of minerale-olies in water is riskant, omdat sommige skape glad nie water drink as hulle op groen weidings loop nie.
Minerale- of sonneblomolie, terpentyn (Bloatex) en opblaasprodukte (Bloatguard), asook trokarspuite, -naalde en -maagbuise, moet byderhand wees vir ’n akute uitbreking.
Wenke vir die behandeling van siek diere sluit die volgende in:
- Lig die voorlyf op om die gewig van die grootpens op die longe te verminder. Beeste kan in ’n opdraande drukgang gejaag word.
- Terpentyn kan direk in die grootpens gespuit word (5 tot 20 ml). Doseer ’n halfbottel kookolie vir ’n bees en 100ml vir ’n skaap. As diere erg opgeblaas is, sukkel hulle om te sluk en kan ’n maagbuis dan gebruik word.
- Sorg dat daar ’n tydelike kraal en drukgang by die lusern is om diere vinnig te kan behandel.
- Blousuur (sianied) vorm ook in lusern en kan probleme vererger. Blousuur kan die windbreekrefleks verlam, wat die opbou van gas aanhelp. Om blousuurvergiftiging te voorkom kan Hypo (natriumtiosulfaat) en swawel, wat om die helfte saam fyngemaak is, elke tweede of derde dag teen een teelepel toegedien word. Soms word Hypo een of twee keer per week in ’n glasbottel in die krip gesit. – Carin Venter, Veeplaas
Sewe reëls vir opblaasbestuur · Vermy jong lusern. · Laat diere smiddags op lusern wei as daar koue was. · Laat diere soggens wei as die middae baie warm is. · Moenie honger diere op lusern jaag nie. · Voer hooi as diere permanent op lusern wei. · Doseer olie as voorkomende maatreël. · Merk gewoonte-opblasers en hou hulle van lusern af weg. |
Vir meer inligting, kontak dr Van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.
