Richmond-skou wemel van topgehalte skape

Estimated reading time: 4 minutes

Die gemeenskap van Richmond bied elke jaar die eerste Merino-skou van die jaar in Suid-Afrika aan. Vanjaar se skou is op 24 Januarie gehou en die opkoms was bo verwagting goed. Vertoners het van heinde en ver gekom en altesaam 460 Merino’s is vir die skou ingeskryf. Meer as ‘n 100 Dorpers het ook meegeding.

Volgens die voorsitter van die skoukomitee, Henry Ackerman, is hierdie skou al vir so lank ‘n deel van die gemeenskap, dat hy hom nie die dorp sonder sy skou kan voorstel nie.

Die skoukomitee se doel is om ‘n liefde vir die bedryf onder lede, veral die jonges, van die gemeenskap te kweek, sê Ackerman. “Ek glo dit is hoe landbouskoue sal voortbestaan. In Richmond het ons wonderlike samewerking onder die inwoners, want mense wil graag saam wees, inligting uitruil, skouers skuur en by mekaar te leer,” vertel hy.

Dorper-wenners

Die Dorper-beoordeling het flink verloop en die organiseerders het besluit om nie ’n skoukampioen aan te wys nie, maar slegs wenners in drie kategorieë. In die afdeling vir tweetand-ooie het De Aar Stone Farmers van Jannie en Manfred Lambrecht, Pikkie Louw en Chris Jansen die eerste en tweede plekke opgeraap. Die derde plek is deur Carel Theron ingeneem.

In die afdeling vir ooie bo 40kg het Arnu Viljoen die eerste twee plekke verower en Herman Kock het die derde plek ingepalm. De Aar Stone Farmers het ook in die afdeling vir lammers onder 40kg met die louere weggestap, terwyl Viljoen die tweede plek ingeneem het en Kabous Visser derde.

In die Dorperskou se tweetandklas tydens die Richmond-skou het De Aar Stone Farmers die eerste en tweede plekke opgeraap. Die derde plek is ingeneem deur Carel Theron. Hier is Theron en die Stone Farmers: Manfred Lambrecht, Jannie Lambrecht, Pikkie Louw en Chris Jansen. Die hanteerders is Jan Marais, Pierre van Wyk en Hendrico Lucas.

Merino-wenners

Die son het al begin sak toe die Merino-telers se kampioene van die dag aangewys is. Van die land se beste Merino’s het hier meegeding en die uiteindelike kampioenram is deur Kobus, Gerrit en Gideon Viljoen vertoon. Die kampioen-ooi is deur Fanie van Heerden vertoon.

Die beoordelaars by die Richmond-skou het ’n moeilike taak gehad om die kampioenram en -ooi te kies. Die titel van kampioenram het gegaan aan hierdie pragtige ram van Kobus, Gerrit en Gideon Viljoen. Die hanteerder is Boetie Kiewiedo. (Foto: Amelia Nel)
Richmond-skou se kampioen Merino-ooi vir 2026 is ’n besondere mooi ooi van Fanie van Heerden. Die hanteerder is Almaans Gallant. (Foto: Amelia Nel)

Die groter prentjie

Tydens die skou het Grant Naudé, president van Merino SA, gesê hy is baie beïndruk met die Richmond-skou. Hy beskou dit as een van die groter Merino-skoue in die land, veral as gekyk word na die aantal skape wat hier vertoon word.

Vir hom is dit belangrik dat ’n gemeenskap vir Merino-produsente geskep word – nie noodwendig net vir stoetboere nie, maar ook vir kommersiële boere. Hy meen dit is juis die doel van die plattelandse skoue. Hy het ook die organiseerders van die skou geloof vir die protokolle wat gevolg is om bek-en-klouseer uit die gebied te hou.

Hy glo dat die Merino-bedryf ’n absolute aanwins vir die kleinveebedryf in die land is. “Ons het ’n wolbedryf wat besig is om sy kop op te tel en ‘n vleisbedryf wat baie goed vorder in vergelyking met waar dit ’n jaar of twee gelede gestaan het. Hanover het ’n jaar of twee terug met ’n voerkraalprojek begin om te bepaal watter skape die beste sal presteer en die Merino’s het uitstekend gevaar. Vanjaar word die projek weer aangebied en sal ons kan sien of die syfers dieselfde bly.

“Ek glo die Merinobedryf lyk op die oomblik rooskleurig vir ons telers.” – Koos du Pisanie, Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...