Erfdwang: Die fondasie van selektiewe teling

Estimated reading time: 5 minutes

Die goue reël vir ’n winsgewende skaapstoetery in die Karoo, aldus Groep 3 Merino’s, is ’n bloedlyn met goeie erfdwang om die heel beste genetiese eienskappe na die volgende geslag oor te dra.

Veeplaas wou meer oor dié groep se teelbeleid te wete kom en het ’n draai by Theo Potgieter op sy plaas Zuurplaats tussen Graaff-Reinet en Murraysburg gemaak. Daar het hy en sy twee besigheidsvennote uitgewei oor hul teelbeleid wat vir langer as 20 jaar al dividende oplewer.

Groep 3 Merino’s is in 2003 gestig met groeplede Theo Potgieter, Kleintjie Pienaar en Tiefie Wolfaardt. Hulle oogmerk is om ramme te teel wat hulle as ‘n groep op die nasionale Merino-veiling op Graaff-Reinet asook op hul jaarlikse produksieveiling kan verkoop. Die veilingsramme moet hul egter eers bewys deur stof in die ander ramme se oë te skop tydens ’n ses-maande toetslopie op een van die groeplede se grond. Slegs die beste ramme word vir die veiling voorberei. In die verlede kon elke lid ’n maksimum van 20 ramme inskryf, maar vandag hang dit af van elke lid se seleksieproses waarvan goeie gehalte ’n gegewe is.

Theo se seun, Jaco, wat tussen Murraysburg en Richmond boer, het intussen sy eie poenskopstoet in 2015 op die been gebring en in Tiefie se plek by die groep aangesluit.

Theo Potgieter (links) het hierdie ram tydens die 2017 Merino SA nasionale veiling vir R255 000 aan Jaco Wiese en Margot Hoon (middel) van Biesiespoort Merino-stoet in Loxton verkoop. Aan hul regterkant is Steven Bosman, die hanteerder. (Foto: Jacobus le Roux, BKB)

Doelgerigte seleksie

As maatstaf van die groep se sukses verseker erfdwang dat die beste kudde-eienskappe in die nageslag vasgevang word. Sou dit die slag nodig wees om die skape se bloedlyne ‘oop’ te maak, gebruik hulle ’n uitsonderlike ram van buite om die balans te herstel.

“Vir ons beteken erfdwang dat die ramme uit die stoet of kudde hul pa’s se skoene moet kan volstaan,” sê Theo. “Minstens 70 tot 80% van die lammers uit die stoetooie moet geskik wees vir die stoet. Diegene wat ons diere koop, moet dieselfde tendense of kenmerke in hul eie kuddes ervaar. Verder moet ons skape oor hoë-gehalte wol en ’n uitstekende bouvorm beskik, asook aanpasbaar wees. Hierdie kenmerke is eie aan Groep 3 Merino’s se diere.”

Hoë-gehalte wol gaan hand aan hand met ’n goeie mikron, die regte hoeveelheid olievloei en optimale skoon opbrengs.

Jaco sê goeie balans wat bouvorm betref, is ’n vereiste tydens die seleksieproses. Hulle selekteer streng daarvolgens, maar danksy hierdie proses vertoon hul ramme baie sterk manlike koppe en pas ook maklik onder bykans enige toestande aan. Kleintjie beskryf hulle voorkeur vir die fisiese vorm van die skape soos volg: “Bouvorm is ononderhandelbaar, maar beteken nie noodwendig die teel van ’n groter dier nie. Bouvorm verwys na my mening na die vleiseienskappe asook die wyse waarop dit saamgestel is en wat die dier se konstitusie bepaal.”

Die drie raai enigiemand wat ’n stoet op die been wil bring, aan om te begin met ooie met ’n goeie bouvorm en gehalte wol. Spring ook eerder weg met ’n kleiner groepie as ’n groot groep ooie, en selekteer die tipe waarvan jy hou en wat in jou area sal aard. Jaco sê dit is belangrik om met die regte Merino te boer: ’n skaap wat in jou boerdery-omgewing sal aard en wat jou nooit in die steek sal laat nie.

Hulle ander ooie word natuurlik gepaar, terwyl die top-ooie jaarliks in Februarie kunsmatig met saad van Groep 3 Merino’s se nasionale Merino-veilingramme geïnsemineer word. “Kunsmatige inseminasie lei tot ’n meer intensiewe boerdery en help ons om die diere beter te bestuur,” sê Jaco. “Die KI-ooie lam in lamhokke of op aangeplante weidings. Ons verkies om die lammers vroeg te speen, gewoonlik rondom ouderdom agt tot tien weke, mits die omstandighede dit toelaat. Dit gee die ooie kans om te herstel voor die volgende paring en stimuleer wolgroei weens die ekstra energie.”

Boer saam met verandering

Al hoe meer produsente dring aan op best linear unbiased prediction of BLUP-syfers van die diere waarin hulle belangstel. Groep 3 Merino’s gebruik die afgelope paar jaar hierdie teelwaardes as ’n hulpmiddel om hul diere se liggaamskondisie te meet. Volgens Jaco doen hulle tot dusver goeie prestasietoetsing op hul jong ooie.

“Ons gebruik ook genomiese toetsing op al ons voortreflike poenskopramme wat vir die nasionale Merino-veiling bestem is. Baie stoetprodusente versoek hierdie tipe toetsing en daarom sal dit van volgende jaar af verpligtend wees vir diegene wat ramme op die veiling wil verkoop. Dit is ’n eenmalige toets wat op ’n jong dier gedoen kan word en waarvan die koste tussen R700 en R800 beloop.”

Volgens die driemanskap is die oudits wat op plase gedoen word ’n goeie ding vir die naspeurbaarheid van produsente se produkte. Hulle hoop wel dat die kostes wat daaraan verbonde is na die wolprys sal deurtrek. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Jaco Potgieter by jpotgieter9@yahoo.com of skakel 082 210 4160.

Related

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy primêre doelwit as selfregulerende inisiatief van die georganiseerde suiwelbedryf. Sy...