Estimated reading time: 3 minutes
Die ondersoeke in twee veediefstalsake waarin bykans ʼn miljoen rand se vee onlangs teruggevind is, vorder goed en inhegtenisnemings word eersdaags verwag.
Dit volg nadat ʼn opleidingsessie vir buurtwaglede skielik in die ware Jakob verander het toe die gesteelde vee teruggevind is. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, sê daar is verskeie fasette wat deur die polisie ondersoek word en soos met die meeste veediefstalsake, vorder dit tydsaam.
Opleiding word werklikheid
Lede van die organisasie se Valke-buurtwag op Delmas was tydens die tweede laaste naweek van Junie besig met opleiding en het twee veilings besoek. Onraad is bemerk en vermoedelik gesteelde beeste is in twee krale opgemerk. Daar was aanduidings dat die brandmerke verander of verwyder is wat die uitkenning van die beeste bemoeilik het. By verdere ondersoek is ’n kraal met koeie gevind waarvan die ore afgesny is, vermoedelik om die tatoeëermerke te verwyder.
Die daaropvolgende Donderdag het die buurtwag in samewerking met die polisie nog elf verse teruggevind wat vermoedelik die vorige nag gesteel is. Altesaam 64 beeste ter waarde van sowat R960 000 is in die twee operasies teruggevind.
Bekker sê afgesien van die diere wat teruggevind is, is waardevolle inligting verkry wat wys dat die beweerde veediewe goed georganiseer is en dalk aan ʼn veediefstalsindikaat verbind is wat wyer bedrywig is.
Veediefstal bly pla
Die omvang van veediefstal in Suid-Afrika is kommerwekkend. In die afgelope finansiële jaar is minstens 80 600 skape, 55 700 bokke, en 53 600 beeste ter waarde van sowat R860 miljoen by die Suid-Afrikaanse polisie as gesteel aangemeld.
AfriForum bereken dat boere van Januarie tot Maart vanjaar ʼn regstreekse verlies van sowat R200 miljoen weens veediefstal gely het. Dit sluit nie indirekte verliese, soos die verlore aanwaspotensiaal, in nie.
Hennie Laas, voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum in Mpumalanga, sê veediefstal is soos ʼn kanker wat voortdurend aan produsente vreet. Daar is weekliks en soms daagliks veeverliese wat produsente verplig om veiligheidsmaatreëls op te skerp, soos om wagte aan te stel en hommeltuie te gebruik, wat alles produksiekoste verhoog.
Lion du Plessis, voorsitter van Agri Mpumalanga, sê veediefstal is ʼn groot uitdaging in dié gebied. Die lang tydperke wat verloop voordat diefstalsake in die hof dien, is ʼn verdere uitdaging. Beweerde veediewe word gevang, en ʼn paar dae later is hulle weer op straat op borgtog vrygelaat.
Produsente is grootliks self verantwoordelik om veediefstal te bekamp – hulle vang die veediewe en oorhandig die saak dan aan die polisie. Landbouers raak egter ongeduldig omdat min gebeur, maar besef ook dat indien hulle die reg in eie hande neem, dit weer tot ander probleme kan lei. – Andries Gouws, Plaas Media