Estimated reading time: 3 minutes
Rosyntjieboere in die Noord-Kaap het tot dusver uitstekende produksietoestande gehad en aankopers uit ander lande is opgewonde om dié Suid-Afrikaanse produk aan te skaf, aldus Wessel Lemmer, hoof uitvoerende beampte van Raisins SA.
Lemmer glo Suid-Afrika bied ’n uitstekende produk aan, wat in Brittanje en die Europese Unie (EU) gesog is, maar voel ook dat die bemarking daarvan kan verbeter. Hy sê Suid-Afrikaanse rosyne is nie sommer net nog ’n rosyntjie nie. Die bedryf het so ’n mooi storie wat hulle vir die wêreld kan vertel en dit moet gedoen word.
“Ons het soveel positiewe dinge wat ons kan gebruik vir bemarking: ons storie oor die rosyntjiebedryf in die Noord-Kaap, ons etiese standaarde wat baie hoog is omdat ons nie kinderarbeid gebruik nie en die feit dat ons organies boer. Dit is alles deel van die goeie storie wat ons in ons bemarking aan die wêreld kan vertel en wat sal verseker dat Suid-Afrika se rosyne ’n beter vastrapplek in die uitvoermark kan kry.”
Turkse kompetisie
Lemmer sê Suid-Afrika se grootste mededinger in die mark is Turkye omdat hulle die grootste voorsiener van rosyne in die Verenigde Koninkryk (VK) en die EU is. Hy glo dat bedryfsorganisasies soos Raisins SA en uitvoerders voortdurend moet poog om Suid-Afrika mededingend te hou.
“Turkye se voordeel is dat hulle naby aan die mark is, maar ons kan hulle uitstof. Voor die 30%-tarief in VSA ingestel is, het ons omtrent 17 tot 20% van ons produk soontoe uitgevoer, waar ons ook reeds ’n gevestigde mark het. Toe die tariewe egter ingeskop het, was die pryse gelukkig so gunstig dat ons die produkte na ’n nuwe mark kon skuif,” verduidelik Lemmer.
Uitdagings vir produsente
Daar is egter ook uitdagings waarmee die rosyntjieprodusente te doen kry en die grootste daarvan is produksiekoste. Raisins SA poog voortdurend om boere te help kyk waar hulle kan verbeter, hoe hulle meer ekonomies kan boer en meer doeltreffend kan wees.
Die ideaal is om produksie van 6 ton na 8 ton per hektaar te lig. Verder wil die organisasie ook kyk hoe produsente meer ekonomies kan boer deur die bestuur van uitgawes soos arbeid, kunsmis en chemikalieë.
Die tweede uitdaging is die watergehalte van die Oranjerivier. Die regering se planne vir die Hoogland-waterskema is vir die boere langs die Oranjerivier ’n groot bekommernis, sê Lemmer. Dié planne gaan watervolumes verminder én watergehalte verminder. “Die Oranjerivier is ’n lewensaar vir hierdie boere en hulle is afhanklik van die reën en die damme in die rivier.”
Hoe om op die voorpunt te bly
Die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf is op die voorpunt van die internasionale mark en dit is belangrik om daar te bly. Lemmer sê Raisins SA se unieke direksiesamestelling bestaan uit produsente en verpakkers – die een hand kan die ander was. Met insette uit verskillende oorde in die bedryf kan hulle dus ’n beter bemarkingsplan opstel, wat al die faktore in ag neem. In Suid-Afrika is die verpakkers en produsente baie goed georganiseerd en dít beteken dat hulle ’n produk van hoogstaande gehalte op die wêreldmark kan aanbied. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan wessel@raisinsa.co.za.


