Pronkerige perde en pluimvee in die kollig by Swellendam se skou

Estimated reading time: 7 minutes

“Lekker kos, lekker musiek, en ’n lekker atmosfeer.” – Ivan Meyer, die Wes-Kaap se minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme.

Swellendam se burgemeester, Francois du Rand, het blad geskut met Kobie Smit as ‘n blyk van waardering vir sy insette met die skou. (foto: Swellendam skou)

Tradisie en landbou het in die Breederiviervallei koning gekraai tydens Swellendam se 194ste landbouskou wat besoekers van 26 tot 28 Februarie verwelkom het.

Die dorp se onberispelike skougronde is ’n voorbeeld van toewyding en die komiteelede se deurgaanse insette. Daar was ook meer as genoeg plek vir al die indrukwekkende landbou-implemente.

Die geleentheid, waarvan Plaas Media die trotse mediaborg is, het vanjaar nie gespletehoefdiere ingesluit nie weens streng voorsorgmaatreëls wat geld vir die huidige bek-en-klouseer (BEK)-situasie in die Wes-Kaap en elders in die land. Die feestelike atmosfeer op die skouterrein het egter daarvoor vergoed, met iets vir alle ouderdomme.

Inleiding tot die skou: ’n landbou-oggend

Een van die eerste aktiwiteite op die program was ’n suksesvolle landbou-oggend wat deur 280 produsente en rolspelers in die landbouwaardeketting bygewoon is. Die genooide sprekers, dr Piet Croukamp, medeprofessor in politieke studies en internasionale verhoudinge, Noordwes-Universiteit, en Theo Vorster, uitvoerende hoof en medestigter van Galileo Capital, het waardevolle insigte gedeel oor die politieke situasie in Suid-Afrika en internasionaal, en hoe hierdie dinamika die land se ekonomie raak.

Piet Croukamp, medeprofessor in Politieke Studies en Internasionale Verhoudings by Noordwes-Universiteit, Theo Vorster, uitvoerende hoof en medestigter van Galileo Capital, en Anneke Vorster tydens die landbou-oggend.

Croukamp het gefokus op die verhouding tussen uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag, en verduidelik hoe verskynsels soos korrupsie dik kan beïnvloed. Vorster het weer beklemtoon dat produsente op hulle eie besighede moet fokus om suksesvol te wees. Om jou blind te staar teen politieke en ekonomiese nuus dra min by tot werklike vooruitgang.

Deelnemers het ook waardevolle insette ontvang van dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO; Daneel Rossouw, hoof van verkope by Nedbank Landbou; en Francois Swanepoel, uitvoerende hoof van die Sentraal‑Suid‑Koöperasie (SSK). Strydom het die waarde van landbou‑oggende beklemtoon as ’n plek waar produsente nuwe kennis kan opdoen. Rossouw het gefokus op die positiewe vooruitsigte in die sektor, ten spyte van bestaande uitdagings, en benadruk dat daar steeds baie ruimte vir groei is. Swanepoel het teruggekyk op die afgelope seisoen se droogtetoestande, maar ook beklemtoon dat die onlangse reën uitstekende vooruitsigte vir die komende plantseisoen geskep het.

Slaglamkompetisie

Altesaam 68 lammers is vanjaar vir die slaglamkompetisie ingeskryf en tydens ’n spesiale geleentheid opgeveil. Volgens JG du Toit van OVK in Swellendam, die voorsitter van die skou se slaglamkompetisie, is hierdie aantal inskrywings besonders goed, veral in ag genome die huidige boerdery-omstandighede in die Suid-Kaap. Die inskrywings het uit die hele Suid-Kaap en ook van die Swartland ingestroom.

Die wenlammers in beide die groep-van-drie-lammers-afdeling én die enkellam-aan-die-haak-afdeling, is deur Vredesig Boerdery van Darling in die Swartland ingeskryf.

Die wenlam, ’n Suffolk-Dormer-kruising, het ’n slaggewig van 21,7kg, ’n A2-gradering en ‘n punt van 98,76 uit 100 behaal. Die lam is vir R160/kg op die veiling verkoop. Du Toit sê die beoordelaars was veral beïndruk met die wenlam se vetverspreiding.

Die tweede- en derdeplekwenners in die enkellam-aan-die-haak-afdeling het onderskeidelik 97,77 en 95,86 uit 100 behaal. Die lammers is onderskeidelik deur Lourence van der Colff van Overberg Meat, Bredasdorp en Vredesig Boerdery van Darling ingeskryf.

JG du Toit (links) van OVK op Swellendam, die voorsitter van Swellendam-skou se slaglamkompetisie, is hier saam met die wenners van die enkellam-aan-die-haak-afdeling, Dewald Linde (tweede van links) en Johnny Forbes (middel) van Vredesig Boerdery, Darling, wat die eerste en derde plekke in die afdeling ingeskryf het; en Lourence van der Colff (tweede van regs) en Dian Giliomee (regs) van Overberg Meat, Bredasdorp, wat die tweede plek behaal het.
Vredesig Boerdery van Darling het die eerste plek in die groep-van-drie-lammers-aan-die-haak-afdeling ingeskryf en Overberg Meat van Bredasdorp die tweede- en derde plekke. Van links is JG du Toit, voorsitter van die slaglamkompetisie; Dewald Linde en Johnny Forbes, Vredesig Boerdery; Lourence van der Colff, Overberg Meat en Richel Wilson, tweede skouprinses.
In die enkellam-op-die-hoef-afdeling het Vredesig Boerdery van Darling die eerste- en tweede plekke behaal en Posstal Boerdery van Swellendam die derde plek. Van links is JG du Toit, voorsitter van die slaglamkompetisie; Johnny Forbes en Dewald Linde, Vredesig Boerdery; Nelis Swart, Posstal Boerdery en Chantel Gonsalves, eerste skouprinses.
In die enkellam-op-die-hoef-afdeling het Vredesig Boerdery van Darling die eerste- en tweede plekke behaal en Posstal Boerdery van Swellendam die derde plek. Van links is JG du Toit, voorsitter van die slaglamkompetisie; Johnny Forbes en Dewald Linde, Vredesig Boerdery; Nelis Swart, Posstal Boerdery en Chantel Gonsalves, eerste skouprinses.

Geveerde kampioene

Volgens Chrismi Smith, wat die pluimvee-uitstalling bestuur het, was daar vanjaar altesaam 153 inskrywings.

“Dit was ’n heerlike en suksesvolle uitstalling met pluimvee van uitmuntende gehalte, wat die toewyding en passie van ons telers duidelik weerspieël,” het sy aan Plaas Media gesê. “Ons het vanjaar 27 raskampioene en 18 reserwekampioene aangewys – ’n bewys van die hoë standaard en sterk kompetisie. Die beoordelaars was beïndruk met die algehele aanbieding en kondisie van die voëls, en die skou het ’n positiewe en opbouende atmosfeer geskep waar ervare telers en nuwelinge mekaar kon ondersteun en kennis deel.”

Johan Swart en een van sy Sussex-henne waarmee hy vanjaar geskou het. Hy boer met al die groot rasse hoenders.
In die pluimvee-afdeling het ’n silkie-teler en pluimvee-beoordelaar, Tertia Castelyn, met Plaas Media gesels oor hoe ’n silkie moet lyk wanneer daar met hulle geskou word, en wat dit behels om ’n beoordelaar te word.

In die perde-arena

Die deelnemende rasse het onder meer die inheemse Suid-Afrikaanse Vlaamperd, elegante Walliese ponies, statige Saalperde en die veelsydige SA Boerperd ingesluit. Klasse het onder andere ruiterkuns, driegang-ryperd, enkeltuig en damessiertuig, asook die immer gewilde Suid-Afrikaanse Vlaam wa-span van agt perde ingesluit, wat groot bewondering ontlok het. Willie Buys en Tania de Jager, beide met uitgebreide ervaring in ruiterkuns, het die deelnemers beoordeel en tot die hoë standaard van die kompetisie bygedra.

Buys het tydens die skou gesê dat die tema van Swellendam-skou se perdekampioenskappe “Endurance excellence” was. “Ons kyk dus veral na die gehalte van die perde en die ruiters, sowel as na die afrigting van die perde. Die gehalte was deurgaans uitstekend en een van die hoogtepunte van die skou was tien dubbeltuigspanne in die damesafdeling.”

Die atmosfeer was deurgaans gesellig, met goeie sportmangees en ’n duidelike liefde vir perde en die skoukultuur wat oral sigbaar was. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, en Breyton Milford, die algemene bestuurder van Agri-Expo, het die pryse oorhandig. Hul teenwoordigheid het die belangrike rol wat landbouskoue in die land se gemeenskappe speel, beklemtoon. – Carin Venter en Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur gerus ‘n e-pos na skou.reception@gmail.com.

Calf health from birth to weaning

Estimated reading time: 4 minutes Every cattle producer depends on healthy calves to ensure profitability....

Veld, value, and verification: The case for a grass-fed grading system

Across South Africa’s rangelands, a quiet shift is taking place. It is visible only...

Skaap se kind laat die goudtand blink

Estimated reading time: 7 minutes "Hoewel die Merino ’n wolskaap by uitstek is, is dit...

Beskerm só jou vee teen respiratoriese siektes

Estimated reading time: 1 minute Respiratoriese siektes is multifaktoriaal en ontstaan weens komplekse interaksies tussen...