Friday, April 25, 2025

Produksie en reproduksie in ’n veranderende omgewing

Estimated reading time:4 minutes

  • Die kanse is goed dat veeprodusente se grootste uitdaging in die toekoms waarskynlik gaan wees om op volhoubare veeproduksie voort te bou – om volhoubaarheid as ‘t ware volhoubaar te hou.
  • Klimaatsverandering is maar een van talle uitdagings in die veebedryf.
  • Die grootste uitdaging vir die toekoms is om diere met uiteenlopende fisiologiese eienskappe, met gepaste bestuursbeginsels in die verskillende klimaatstreke van die land te laat aanpas.
  • Aanpasbaarheid moet aandag kry voordat op enige ander aspek van veeproduksie gefokus kan word.
  • Uiteindelik versag die gebruik van tegnologie die impak wat veeproduksie op die omgewing en dit gaan verseker in die toekoms al hoe belangriker raak.

Veeprodusente is as ‘n reël aan die natuur, dieresiektes en verbruikersvoorkeure uitgelewer. Net soos hulle kuddes moet produsente ook by veranderende omstandighede kan aanpas.

Prof Eddie Webb, ’n spesialis op die gebied van diereproduksie by die Universiteit van Pretoria se Departement Veekunde asook die Tarleton State University in Texas, het verlede jaar tydens sy aanbieding by die 54ste kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde in Oos-Londen op die toekoms van veeboerderye gefokus.

Volhoubare vleisproduksie

Wanneer na die aanpasbaarheid van ’n dier en sy/haar reproduksie gekyk word, verduidelik hy, kan die fisiologie van vee in ekstensiewe produksiestelsels geweldig vergewensgesind of dinamies wees. “As ’n mens jou vee reg bestuur, kan jy selfs die beste produksie uit ’n onaangepaste tipe dier kry.

“Die kanse is goed dat veeprodusente se grootste uitdaging in die toekoms waarskynlik gaan wees om op volhoubare veeproduksie voort te bou – om volhoubaarheid as ‘t ware volhoubaar te hou. Volhoubaarheid is op drie fundamentele komponente geskoei, naamlik verbruikers se behoeftes, die winsgewendheid van produksiestelsels, en die omgewing waarin produksie plaasvind.”

Klimaatsverandering is maar een van talle uitdagings in die veebedryf. Hoewel die invloed daarvan nie betwis word nie, is die goeie nuus dat diere besonder aanpasbaar is. “Ek glo die kanse is baie goed dat ekstensiewe veeproduksie nie betekenisvol daardeur geraak gaan word nie. As ’n mens boonop die moderne behuising van meer sensitiewe spesies soos pluimvee en varke as voorbeeld neem, dan is die stelsel voldoende om wisselende klimaatsfaktore maklik te bestuur.”

Lees meer oor Watervoorsiening in ekstensiewe veestelsels.

Diere-fisiologie en aanpassing

Volgens prof Webb sal die groeiende behoefte aan diereprodukte slegs volgehou kan word met strategiese vertikale integrasie van landbouproduksiestelsels. Dit behels ’n delikate wisselwerking tussen ekstensiewe en intensiewe plant- en veeproduksie. Horisontale integrasie, daarteenoor, is skadelik vir die omgewing, omdat dit daarop neerkom dat meer natuurlike areas in landboustelsels omskep word.

Indien klimaatsverandering die oppervlaktemperatuur van die aarde met meer as 1,5°C gaan verhoog, sal daar meer druk op die aanpasbaarheid van ekstensiewe vee wees. Veekundiges wêreldwyd het al goed gevorder om die produksie van vee dramaties deur aangepaste genetika en voeding te verbeter.

“Die grootste uitdaging vir die toekoms is om diere met uiteenlopende fisiologiese eienskappe, met gepaste bestuursbeginsels in die verskillende klimaatstreke van die land te laat aanpas. Wat intensiewe landboustelsels betref, en ondanks sommige verbruikers se bedenkinge daaroor, is bewys dat intensiewe stelsels groot voordele vir produksiedoeltreffendheid en dierewelsyn bied. Dit is te danke aan byprodukte wat doeltreffender benut word en minder druk op natuurlike hulpbronne plaas.”

Noodsaaklike trappe

Volhoubare diereproduksie is op vier trappies gebaseer (Figuur 1):

  • Aanpasbaarheid moet aandag kry voordat op enige ander aspek van veeproduksie gefokus kan word.
  • Die omgewing moet so wees dat diere volgens of so na as moontlik aan hul genetiese potensiaal kan groei en ontwikkel.
  • Reproduksie is noodsaaklik vir die vermeerderingsaspek. Sodra diere aanvaarbaar produseer, kan gefokus word op doeltreffender groei, reproduksie en produksie.
  • Produksie is die laaste noodsaaklike trappie. Diereproduksie moet so bestuur word dat die stelsel en uiteindelike gehalte aan verbruikers se behoeftes voldoen. Verbruikers ‘stem’ met hul aankope en produkte wat nie met verbruikers se behoeftes tred hou nie, het eenvoudig nie ’n volhoubare toekoms nie.

Figuur 1: Die piramiede van vee-aanpasbaarheid. (Bron: prof EC Webb)

blank

Toekomsbeplanning

Dit is belangrik dat produsente bewus is van die veeproduksiewaardeketting en dat faktore soos doeltreffender benutting van natuurlike hulpbronne, byprodukte, water en grond met groter erns bejeën word.

“Ek glo ons moet getoetste tegnologieë op ’n wetenskaplike wyse benut,” sê prof Webb. “Dit verwys na voeding, genetika, en die gebruik van eksogene molekules, mits dit getoets en veilig is vir die verbruiker. Uiteindelik versag die gebruik van tegnologie die impak wat veeproduksie op die omgewing en dit gaan verseker in die toekoms al hoe belangriker raak.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak prof Edward Webb by profedwardwebb@gmail.com

Clanwilliam-ekspo toon goeie groei

Estimated reading time: 10 minutes Die Canwilliam-eskpo wat na Covid erg onder vandalisme deurgeloop het,...

Beplande speentyd en aksies het groot waarde

Estimated reading time: 7 minutes Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in. Die speenneusringmetode...

Sectoral Determination 13 in a nutshell

Estimated reading time: 4 minutes South Africa’s labour legislation is highly regulated, creating a challenging...

Frikkie Wentzel: Om te boer, is in my hart

Estimated reading time: 5 minutes Frikkie Wentzel het tydens die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV Oos-Kaap)...