Tuesday, February 4, 2025

Ondersteuning met brandbeskerming in die Oos- en Suid-Kaap

Estimated reading time: 5 minutes

Die suidelike dele van die Oos-Kaap, insluitend die Suid-Kaap, word heeljaar as ’n brandseisoen gekategoriseer. Die sentrale en noordelike gedeelte van die Oos-Kaap word as ’n winterbrandseisoen beskou wat van Mei/Junie tot November strek.

Thinus Botha, brandbeskermingsbeampte by die Oos-Kaapse sambreelliggaam vir brandbeskerming, ECUFPA, sê groot dele van die Oos-Kaap het vanjaar goeie reën gehad, wat die graslading dus aansienlik hoër maak. “Dit beteken die risiko vir brande is hoër en produsente sal in die komende maande op hul hoede moet wees.”

Sy kollega, Hein Niemand, is op administratiewe vlak ten nouste betrokke by die onderskeie brandbestrydingsentiteite in die Oos-Kaap. Hy benadruk dit dat mense kennis moet neem dat ’n brandverbod gewoonlik van 1 Augustus tot 31 Oktober in die sentrale- en noordelike dele van die Oos-Kaap geld.

“Dit beteken dat niemand veld in dié tydperk mag brand nie, tensy daar onder baie streng maatreëls te werk gegaan word, nadat die nodige goedkeuring verkry en beplanning gedoen is.”

Brandbestrydingsondersteuning

ECUFPA het vliegkontrakte met Working on Fire (WOF) en werk saam met van die bosbou-entiteite sowel as die 48 plaaslike brandbeskermingverenigings (BBV’s) in die Oos-Kaap, om die las te help verlig.

Buiten die lugsteundiens en ondersteuning van grondspanne wat WOF op kontrak in die Oos-Kaap bied, word ook met die onderskeie BBV’s en landbouverenigings in die provinsie geskakel. ECUFPA bestuur, sentraliseer en verskaf ook huidige en voorspelde weerdata aan die onderskeie BBV’s, en bied opleiding in basiese brandbestryding en insidentbestuur.

Lede van die BBV’s is in baie gevalle ook lid van hul plaaslike boerevereniging en dié twee werk gewoonlik nou saam om brande te beheer. Van die belangrikste voorkomingsmaatreëls is om betrokke te wees, brandbane te skep, brandtoerusting gereed te kry en plaaswerkers op te lei.

Voorbrande word by Penhoek gemaak.

Brandbane vir voorbrande of om wegholveldbrande te stuit, word gewoonlik tussen Mei en Julie gemaak. ’n Produsent wat voorbrande wil maak, moet eers ’n permit by die plaaslike BBV kry alvorens gebrand word.

Verder moet produsente seker maak dat alle brandtoerusting soos vuurplakke, bakkie-eenhede en windblasers (wind blowers) gereed is. Elke werknemer op die plaas moet natuurlik ook weet wat om te doen. Die plaaslike BBV-beampte sal in baie gevalle plaaswerkers oplei wanneer brandbane of kampbrande gemaak word.

Fokus op brandvoorkoming

Die Suid-Kaapse Brandbeskermingsvereninging (SKBBV) is ’n geregistreerde BBV met sowat 5 000 lede oor ’n gebied van sowat 6 869 007ha wat oor die Tuinroete, Sentraal-Karoo, Baviaans-gebied, Langkloof en Tsitsikamma strek.

Dirk Smit, SKBBV-bestuurder, sê hul primêre doelwitte sluit in om lede en die publiek bewus te maak van die risiko’s rondom veldbrande, sodat proaktief opgetree kan word om die kwesbaarheid van eiendom te verminder.

Hulle beoog om eerste te reageer as ’n veldbrand ontstaan, om ’n strategie vir geïntegreerde veldbrandbestuur te ontwikkel en in te stel, om die risiko van veldbrande kostedoeltreffend te verlaag en om te verseker dat lede aan alle wetlike vereistes voldoen.

“Ons help grondeienaars met brandbaanooreenkomste om die impak op die natuur te verminder deur, byvoorbeeld, een brandbaan te maak tussen twee aangrensende plase, pleks van twee aparte brandbane,” sê Dirk.

“Ons staan grondeienaars by met aansoeke om kwytskelding van die plig om ’n brandbaan te maak, en fokus daarop dat die grondeienaars binne die BBV mekaar bystaan tydens veldbrande en toerusting deel.”

Die SKBBV het toegang tot meer as 200 WOF-brandbestryders en toerusting wat direk aan die vereniging toegevoeg word. Hierdie spanne help met brandvoorkomingswerk, soos om brandbane te maak, beheerde brande uit te voer, of brande te bestry. Die beheer van uitheemse indringerplante en bewusmakingsprojekte word ook onderneem.

Gratis opleiding in brandbeskerming en -voorkoming

Die SKBBV bied basiese vuurlynopleiding gratis aan lede en hul werkers. Lede se eiendomme kan op aanvraag kosteloos besoek word om hulle met raad te bedien oor alle aspekte van geïntegreerde brandbestuur.

“Ons is deel van alle plaaslike forums met betrekking tot geïntegreerde brandbestuur, om te sorg dat die negatiewe impak van brande op die landskap beperk word,” sê Dirk. “Die SKBBV reël gereeld wegholbrandsimposiums of verleen hulp aan die organiseerders daarvan.

“Ons woon boerevereniging- en gemeenskapsvergaderings by as deel van ons brandvoorkoming- en bewusmakingstrategieë. Baie ander BBV’s spits hulle toe op die bestryding van brande, terwyl ons op brandvoorkomingswerk fokus en om ons lede se kapasiteit op te bou.

“Ons probeer nie net om plantasies te beskerm nie, maar ook inheemse plantegroei. Dit gaan oor watersekuriteit in ons opvangsgebied en daar is groot bewaringsareas binne die gebied. Ons moet jong veld beskerm en ou veld bestuur. Van ons lede kweek vrugte, boegoe en ander gewasse, of besit privaat natuurbewaringsgebiede. Deel van ons werk is om hulle by te staan met die beskerming daarvan.” – Carin Venter, Veeplaas

Lees van brandbeskerming in Limpopo.

Vir meer inligting, besoek gerus die ECUFPA se webtuiste
by www.ecufpa.co.za, of die SKBBV by www.scfpa.co.za.

rivieroewer

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...