Nuwe sertifisering van SA Stamboek ‘n eerste in Afrika

Estimated reading time: 3 minutes

SA Stamboek het geskiedenis gemaak toe dit die eerste organisasie in Afrika geword het wat deur die Internasionale Komitee vir Diere-aantekening (Icar) as ’n DNS-data-interpretasiesentrum gesertifiseer is. Dit stel SA Stamboek in staat om meer akkurate ouerskapontdekkingsverifikasie by diere te doen.

Icar is die wêreldwye organisasie wat vir die vestiging en instandhouding van standaarde vir diere-aantekening en genetiese verbeteringspraktyke, -metodes, en -verwerkings verantwoordelik is. Sertifisering deur Icar is die internasionale maatstaf vir die gehalte en betroubaarheid in dieredata.

‘n Wêreldklasdiens, plaaslik

Dr Bobbie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek, sê dit is ’n groot eer wat die organisasie te beurt val om saam met wêreldkenners te werk. Dit is ook ’n bewys van die standaard van die dienste wat SA Stamboek aan sy genootskappe en telers bied.

Hy sê ontwikkelings en internasionale navorsing op die gebied van genomiese toetsing met behulp van enkelnukleotied-polimorfisme (SNP)-tegnologie, maak dit ook moontlik om ouerskapbepalings en -verifikasie akkuraat uit te voer. Hierdie gevorderde tegnologie analiseer sowat 50 000 SNP-genetiese merkers op elke dier se genetiese kode om onder meer die ouerskap van die dier te bepaal, mits die werklike pa en ma ook ’n genomiese SNP-profiel op die databasis het.

SNP-genomiese profiele is egter nie versoenbaar met huidige DNS-ouerskapprofiele nie, aangesien huidige ouerskaptoetse ’n ander metodiek gebruik, naamlik mikrosatelliet-tegnologie.

‘n Eerste in Afrika

Dr Van der Westhuizen sê SA Stamboek is een van net 14 genetiese DNS-sentrums wêreldwyd. Dit is boonop een van net twee instansies in die Suidelike Halfrond en die eerste op die Afrika-kontinent wat hierdie sertifisering het.

“Hierdie sertifikaat is vir SA Stamboek nie net ’n titel nie; dit plaas ’n verantwoordelikheid op ons om die standaard van ons werk op ’n internasionale vlak te hou. Ons sal alles in ons vermoë doen om akkurate uitslae aan ons kliënte te publiseer om genetiese vordering in die Suid-Afrikaanse nasionale veekudde te verseker. Genetiese verbetering is een van die steunpilare van volhoubare landbou en voedselsekuriteit,” verduidelik hy.

Voordele vir veeprodusente

Volgens dr Van der Westhuizen hou hierdie sertifisering groot voordeel vir veeprodusente in, omdat die stambome van diere op hierdie manier meer akkuraat bygehou kan word, veral waar van veelvuldige bulparings gebruik gemaak word.

“Die voordeel en gemoedsrus lê in die verifiëring van akkurate ouerskap en stambome. Korrekte ouerskap- en stamboominligting bly een van die heel belangrikste bronne van inligting wat doeltreffende genetiese verbetering teweegbring. Verskeie telersgenootskappe en telers het reeds hierdie tegnologie opgeneem en dit word reeds op grondvlak in Suid-Afrika gebruik,” sê hy. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting kontak dr Bobbie van der Westhuizen by 082 802 6606.

Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Estimated reading time: 7 minutesSuurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele...

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...

AFMA Matrix September 2026 – Forum issue now available

Estimated reading time: 2 minutesThe September 2026 edition of AFMA Matrix is a special...