Noordwes-jongboer bou vir die volgende geslag

Estimated reading time: 5 minutes

  • William Harvey, ’n jong produsent van die Tlakgameng-omgewing noord van Vryburg, is vanjaar as Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys.
  • Die Tlakgameng-omgewing het uitstekende grasweiding vir beeste, en daarom is dit vir William belangrik om hierdie weiding ten volle te benut.
  • Hy werk met groot kuddes en natuurlike seleksie is ‘n interessante uitvloeisel van sy stelsel.
  • Bemarking is ’n belangrike deel van William se boerdery.
  • Sy langtermyn ideaal is om ’n volhoubare boerdery vir sy kinders en kleinkinders na te laat.

William Harvey, ’n jong produsent van die Tlakgameng-omgewing noord van Vryburg, is vanjaar as Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys. Hy glo dat boerdery deel is van sy DNS.

William kom uit ’n familie wat oor die jare as leiers in die Vryburg-landbougemeenskap uitgestaan het. Sy pa, Keith, was van die eerste produsente in die area wat holistiese boerdery ondersoek en presisieboerdery in ‘n beesvertakking toegepas het. Dit was konsepte waarmee William grootgeword het en wat hy vandag self toepas.

William, Reinette en hul vier kinders boer hoofsaaklik met Bovelder-beeste. Harvey Cattle Ranches het ’n bekende naam onder beesprodusente geword, nie net by diegene wat nuwe teelmateriaal wil aanskaf nie, maar ook by die kommersiële mark wat goeie speenkalwers en slagbeeste aanvra. Hoewel hy ook ’n klein braaihoenderonderneming op die plaas bedryf, vorm die beesboerdery die hoofkomponent van die boerdery.

William boer met Bovelder-beeste wat ’n redelik onbekende beesras in die Vryburg-omgewing is.

Boer met gras

Die Tlakgameng-omgewing het uitstekende grasweiding vir beeste, en daarom is dit vir William belangrik om hierdie weiding ten volle te benut om ’n volhoubare boerdery te verseker. Hy vertel dat sy pa gereeld buite die boks gedink en nuwe dinge op die proef gestel het, maar ook ’n ander benadering oorweeg het indien iets nie sou uitwerk nie.

Hy was veral gesteld daarop om die weiding te beskerm, en omdat gras onder drukbeweiding en goeie rus gedy, het William dit deel van sy boerdery gemaak. Sy kampe kry voldoende kans om te rus en herstel voordat dit weer bewei word.

“Weidingsverbetering is ’n langsame proses wat baie geduld verg. Elke aksie het ’n reaksie; daarom moet jou beplanning van so ‘n aard wees dat jy volhoubaar kan boer. Dit is ‘n beginsel wat ek by my pa geleer het en waarvoor ek dankbaar is. Oor die jare het baie dinge in die landbou verander waarby ons moes aanpas. Vandag pluk ek die vrugte van die planne wat my pa gemaak het.

“Hoewel ons aanvanklik op die bevordering van die gras gefokus het, is ons nou op ’n stadium waar beide die beeste en gras bevoordeel word. Op dié manier kan ons volhoubaar bly boer.”

Kuddeprestasie

Hy werk met groot kuddes en natuurlike seleksie is ‘n interessante uitvloeisel van sy stelsel. Die beeste word feitlik daagliks geskuif as deel van die drukbeweidingstelsel, wat veroorsaak dat hulle teen mekaar meeding om genoeg gras vir die dag te kry. As hulle wil presteer, moet hulle baie stap en fiks bly. Die gevolg is natuurlike seleksie, omdat die swakkes vinnig begin uitval. “Ons fokus veral op vrugbaarheid: Sou daar ’n koei wees wat nie ’n kalf gee nie, word sy onmiddellik uitgeskot. Sodoende bewys die diere hul waarde. Daar is nie plek vir passasiers in die kudde nie.”

Natuurlike seleksie is ‘n integrale aspek van William se boerderystelsel en ‘n bees moet ver kan loop, fiks wees en kan meeding vir genoeg gras.

Wat dieregesondheid betref, volg William ’n baie eenvoudige program. Hulle gee die noodsaaklike inentings om siektes te voorkom, maar as een dier ’n ernstige probleem ontwikkel word slegs daardie dier behandel en nie die hele kudde nie. Hierdie benadering vorm deel van sy seleksieprogram. Omdat hulle op ’n natuurlike wyse boer, kan die diere hulself teen siektes beskerm en word dus baie minder gespuit en behandel.

Bemarking as ’n sleutelpilaar

Bemarking is ’n belangrike deel van William se boerdery. “Dit is moeilik om ’n goeie naam op te bou en te behou. Harvey Cattle Ranches is ‘n lid van die Molopo Bovelder-studiegroep en ons werk hard daaraan om die ras se naam bekend te maak, aangesien dit ’n redelik onbekende bees in hierdie omgewing is,” verduidelik hy.

Die studiegroep hou die afgelope agt jaar jaarliks ’n inligtingsdag om elke faset van Bovelderproduksie te bespreek en produsente van die ras bewus te maak. Verder is hulle betrokke by vetveeskoue in die omgewing en die verseskou in Vryburg. Die groep bied die afgelope twee jaar speenkalfveilings op Piet Plessis in Noordwes aan, waar hulle net die beste speenkalwers bemark.

Vir William is boerdery nie sommer net nog ’n beroep nie, maar ‘n daaglikse bestaan. Sy langtermyn ideaal is om ’n volhoubare boerdery vir sy kinders en kleinkinders na te laat. Die kennis wat hy van sy pa en oupa gekry het, is van onskatbare waarde en hy wil dit graag aan sy nageslag oordra. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak William Harvey by 071 108 343.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...