Die behoefte aan ’n Suid-Afrikaanse naspeurbaarheidstelsel vir lewendehawe geniet gewoonlik aandag ná die uitbreek van siektes soos bek-en-klouseer. Dié praatjies raak egter gou weer stil soos wat siektetoestande verbeter en die bemarkingskanale weer oopgestel word.
’n Naspeurbaarheidstelsel van lewendehawe beteken dat volledig rekord gehou word van die eienaarskap en beweging van lewendehawe deur alle fases van hul lewe. Dit is dus uiters belangrik dat so ’n stelsel betroubaar en geloofwaardig is.
Volgens die vereistes wat op die oomblik aan lewendehawe-eienaars in Suid-Afrika gestel word met betrekking tot die merk van vee, ingevolge Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002), moet vee-eienaars hul diere met hul geregistreerde identifikasiemerk merk. Voorsiening word gemaak vir die gebruik van tatoeëer- en brandmerke en vee moet teen sekere ouderdomme (wat tussen spesies verskil) gemerk wees.
Deur gebruik te maak van die identifikasiemerke kan die eienaar van die vee geïdentifiseer word, terwyl nie voorsiening gemaak word om tussen individuele diere te onderskei nie. Die stelsel hou rekord van die vee-eienaar se residensiële adres en nie noodwendig waar die lewendehawe aangehou word nie.
Bestaande stelsels
Verskeie lande het reeds hul eie weergawes van lewendehawe identifikasie- en naspeuringstelsels (LITS) ingestel en dit blyk glad te loop. Dit is nie net die meer gevorderde lande (Europese Unie, Australië en Amerika) wat dié tipe stelsels gebruik nie, maar daar is ook al ’n paar lande in Afrika soos Namibië, Botswana en Ethiopië wat naspeurbaarheidstelsels het. In die meeste van die lande waar hierdie stelsels gebruik word, is dit verpligtend vir produsente om aan die bepalings daarvan te voldoen.
Hoe word diere gemerk?
Voorheen is gebruik gemaak van bolusse (soos in Botswana) wat gesluk word deur beeste om hulle te identifiseer deur middel van ’n elektroniese leser. Die bolusse blyk in sommige gevalle probleme te veroorsaak waar die elektroniese leser nie meer die bolus kon opspoor nie, en die bolusse kan ook nie herwin word voordat die diere geslag word nie.
Elektroniese skyfies wat onder die vel ingeplant word, word in sommige gevalle en by sommige spesies as ’n opsie beskou. Die meeste naspeurbaarheidstelsels werk met oorplaatjies waar vereis word dat diere met ’n oorplaatjie (gewoonlik geel) gemerk word, met ’n unieke nommer daarop.
Wetgewing is ook al aangepas om voorsiening te maak vir elektroniese oorplaatjies (EID) wat saam met die visuele oorplaatjies gebruik word om tussen individuele diere te onderskei en rekord te hou. Op die plaatjie word die land van herkoms ook aangedui (bv. NAM vir Namibië). Indien diere na dié lande toe ingevoer word, moet hulle volgens die nodige vereistes gemerk word en soms moet hulle met ’n ander kleur oorplaatjie gemerk word om onderskeid te tref.
Die meeste lande het een instansie wat verantwoordelik is om die oorplaatjies uit te reik, hoewel in enkele lande meer as een verskaffer is waar die oorplaatjie verkry kan word.
Wie moet merk en wanneer?
Soortgelyk aan die vereistes om ’n identifikasiemerk in Suid-Afrika te kry, moet alle produsente geregistreer word vir die naspeurbaarheidstelsel voordat hulle dit kan gebruik. Die ouderdom waarop vee gemerk moet wees, verskil tussen lande. Hierdie verskil sal waarskynlik te make hê met die produksie-omstandighede en die teikenmark waarheen die vee of hul vleisprodukte uitgevoer gaan word. In sekere lande moet vee van so vroeg as 20 dae ná geboorte korrek gemerk word, tot en met die ouderdom van ses maande in ander lande.
Nadat die vee gemerk is, moet alle inligting op ’n sentrale databasis gelaai en geberg word. Produsente kan óf self die inligting op ’n aanlynplatform oplaai, óf die inligting aan die korrekte owerheid stuur om op die stelsel gelaai te word. Behalwe geboortes, hou die sentrale databasisse ook onder andere rekord van die verskuiwing van vee, verwisseling van eienaarskap, plek van geboorte en vrektes.
Wat die vervoer van vee betref, vereis sommige lande dat toestemming verkry moet word voordat die vee vervoer of verskuif kan word, terwyl ander lande eers nadat die diere verskuif is, aanmelding daarvan verwag. Rekords oor die verskuiwing van diere word ook geberg en kan nagegaan word ten tye van siekte-uitbrekings.
Voordele van naspeurbaarheid
Die Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies het in 2016 ’n dokument gepubliseer wat klem lê op die ontwikkeling en integrasie van veeldoelige diere se rekordhoudingstelsels. In die dokument word verskeie voordele gelys vir die naspeurbaarheid van diere.
Voedselveiligheid en die gehaltebeheer van voedselprodukte afkomstig van diere, is een van die voordele van ’n behoorlike naspeurbaarheidstelsel, waar die voedselproduk terugwerkend na die bron nagespeur kan word. Dit bring mee dat besmette en swakgehalte produkte spoedig uit die waardeketting onttrek kan word, vóór dit die verbruiker bereik. Dit is dus belangrik dat die naspeurbaarheidstelsel verby die punt van slag strek, tot waar dit op die rak geplaas word.
Toegang tot uitvoergeleenthede en die sertifisering van produkte is nog ’n voordeel wat naspeurbaarheidstelsels kan inhou. Dit kan ’n belangrike rol speel om te verseker dat uitvoerlande aan die sanitêre en fitosanitêre standaarde van hoër-waarde uitvoermarkte voldoen. Die voordele en begunstigdes van naspeurbaarheid sal verskil, afhangend van die omvang en hoe volledig die naspeurbaarheidstelsel inligting op rekord hou.
Die versameling van diere se gesondheidsinligting is ook een van die hoofredes om ’n naspeurbaarheidstelsel in te stel. Dit kan gebruik word om die gesondheidstatus van die nasionale kudde te bepaal. Die bepaling van die nasionale kudde se status is ’n voorvereiste vir die beplanning van enige waarnemings- of beheerstrategie, asook waar ’n kompartementaliseringsbeleid ingestel gaan word.
Naspeurbaarheid kan ’n belangrike rol speel om te verseker dat lande hul internasionale pligte nakom met betrekking tot die aanmeld van dieresiektes en vroeë waarneming daarvan. Vinnige optrede kan die direkte en indirekte verliese beperk en verbruikersvertroue herstel. Dieregesondheidsinligting kan ook handig wees om die voorkoms van siektes asook die impak van die siektes op diereproduksie en vrektes te bepaal.
Afhangend van die tipe en omvang van inligting wat ’n land se naspeurbaarheidstelsel versamel, kan dit voordele vir die bepaling van prestasie en produksie inhou. ’n Nasionale naspeurbaarheidstelsel sal beteken dat statistiek beskikbaar sal wees oor die getal diere in die land en die produksie per spesie.
Dié inligting sal weer handig te pas kom vir produsenteorganisasies en besluitnemers wanneer planne gemaak moet word om ’n land se voedselsekerheid te verbeter en lewendehawe se produktiwiteit te verhoog. Omdat diere individueel bestuur word, sal dit produsente se dag-tot-dag-besluitneming vergemaklik rondom watter diere uitgeskot moet word.
Die verslag noem dat naspeurbaarheidstelsels gebruik kan word om veediefstal te verminder deur eienaarskap vas te stel. Omdat die stelsel volledig rekord hou van vee se bewegings, kan dit gebruik word om diere ten tye van natuurrampe op te spoor en terug te besorg aan hul eienaars. Veeversekering kan makliker verkry word omdat elke dier individueel uitgeken kan word.
Waar trek Suid-Afrika?
In 2018 is ’n konsepdokument deur die voormalige Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Nasionale Dieregesondheidsforum vrygestel. Die doel was om ’n funksionele lewendehawe-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel (LITS SA) vir Suid-Afrika in te stel.
Volgens die dokument sal plaaslike produsente na afloop van registrasie gebruik moet maak van geel oorplaatjies met individuele nommers daarop om diere uit mekaar te ken. Alle instansies waar diere aangehou word, hanteer word of deurbeweeg, kan op die stelsel geregistreer word om te verseker dat noukeurig rekord gehou word.
Die konsepdokument maak ook voorsiening vir vee wat van bek-en-klouseer-gebiede afkomstig is. Hulle gaan met onderskeidelik groen en pienk oorplaatjies gemerk word om aan te dui dat hulle ingeënt of nie ingeënt is nie. Daar is wel nog geen amptelike nasionale stelsel nie.
Plaaslik het verskeie rolspelers in die veebedryf al hul eie naspeurbaarheidstelsels ontwikkel wat hulle gebruik. ’n Nasionale naspeurbaarheidstelsel vir Suid-Afrika is egter nodig om te verseker dat ons nie al ons uitvoergeleenthede verloor as daar weer ’n siekte-uitbreking is nie.
– Dr WA Lombard en Onkgopotse Tswai, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting of bronverwysings,
epos dr WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za.