Estimated reading time: 7 minutes
Die 2024 Nasionale Skaapboer van die Jaar, Andries Marx, die eienaar van FEM Dohne Merino, glo dat harde werk beloon word. Hy het op 26 Februarie vanjaar Sewefontein se plaashekke in die Burgersdorp-distrik oopgegooi vir ’n indrukwekkende boeredag en veiling, wat met egte Karoo-gasvryheid en groot gesels gepaardgegaan het.
Tussen die sprekers en aktiwiteite deur, het Andries tyd gemaak om met Plaas Media te gesels oor die toekenning en werk wat die byeenkoms voorafgegaan het. “Dit was vir ons ’n groot voorreg om al die mense by ons boeredag en veiling te verwelkom. Ek is baie dankbaar vir die toekenning en ook vir die geleentheid om ’n dag soos dié te hou. Dit is lekker om te weet dat daar mense is wat raaksien wat ’n mens op die plaas doen.”
Voermol se plaaslike agent, Riaan Oosthuizen, wat Andries die afgelope ses jaar met raad en daad bystaan, het hom vir die kompetisie ingeskryf. Oor Riaan vertel Andries: “As adviseur bring Riaan gereeld nuwe inligting plaas toe en hy stel ook nuwe produkte voor wat ’n positiewe impak op my skape se produksie het. Dit is presies wat ’n mens van ’n raadgewer wil hê.”
Sonder sy plaasbestuurder, Gideon Hayward, sou dinge ook nie aldag so vlot verloop het nie, en Andries het hom tydens die boeredag uitgesonder. “Sonder my vrou, Anél, se ondersteuning sou ek beslis ook nie ver kom nie.”

’n Skaapboerdery is nie iets wat ’n mens oornag opbou nie. Andries se pa, Frans Marx, het 55 jaar lank geboer en die boerdery stelselmatig opgebou. Hy het in 2003 by sy pa aangesluit. “Dit was vir my ’n groot voorreg om die stokkie by hom oor te neem en aan te gaan waar hy opgehou het. Ek glo dit maak ’n pa opgewonde en trots wanneer sy kinders op sy suksesse voortbou.”

’n Inligtingsessie vir nadenke
Die boeredagprogram het ’n lys van goed-ingeligte sprekers ingesluit. Andries het gepraat oor bestuurspraktyke wat help om ’n suksesvolle skaapboerdery te waarborg. Die geheim om met skape te boer is, volgens hom en sy pa, nie soseer om meer ooie aan te hou nie, maar om die droogte uit te stel. Een van die belangrikste aspekte van ’n ekstensiewe skaapboerdery is die beskikbaarheid van water. Daar moet standhoudende water vir al die kampe op die plaas wees.
Hy glo praktiese kennis, soos wol- en KI-kursusse, veral vir produsente wat nuut in die skaapbedryf is, is van onskatbare waarde. “Om te boer is ’n eenvoudige konsep, maar die eenvoudige goed moet reg gedoen word. Finansiële bestuur is eweneens belangrik. Jy moet weet wat die bruto wins van jou kleinvee-eenheid is.
“Dit is belangrik om jou persoonlike uitgawes en die boerdery se inkomste en uitgawes apart te hou en ’n goeie begroting op te stel. Dit stel ’n mens in staat om vinnig aan te pas as jou inkomste verminder of as daar onbeplande uitgawes is. Hoe vinniger jy aanpas, hoe gouer laat jy jou probleme agter.”
Andries sê sy hamel- en ooilammers kry kruiplek pleks van kruipvoer. “Dit is vir ons die mees ekonomiese en goedkoopste manier om die lammers groot te maak. Die inname van die kruiplek word nie net met sout beheer nie, maar ook met die smaaklikheid van die produkte daarin.” Die lammers gaan na speen veld toe waar hulle gemaklik aanpas en in Junie en Julie afrondpille gevoer word, asook in Desember, wanneer die mielieprys gewoonlik laer is.
Lees meer oor Meganisasie en arbeidsbesparing op ’n skaapplaas.
Finansiële oorlewing
Vertroue in die Suid-Afrikaanse landboubedryf lyk beter, volgens Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou en een van die sprekers. “Die landboubesigheidsindeks het gedurende die vierde kwartaal verlede jaar na die positiewe kant toe gespring. Politieke stabiliteit en vermindering van beurtkrag het natuurlik ’n groot rol gespeel.”
Maree het gesê ’n moontlike rentekoersverlaging van 75 basispunte vir die jaar behoort vir baie produsente verligting te bring. “Ons het in Januarie ’n 25 punt-verlaging gesien en, afhangend van hoe dinge in die Amerikaanse ekonomie verloop, verwag ons nog ’n verlaging van 50 basispunte oor die res van die jaar.”
Oor kunsmatige intelligensie het hy gesê inligting word al hoe belangriker. “KI, in hierdie geval nie kunsmatige inseminasie nie, gaan moontlik ’n groot uitwerking op die boerderylandskap hê in terme van produktiwiteit en die voordele daaraan verbonde.” Klimaatsverandering sal waarskynlik vanjaar ’n groot rol by boerderye speel, net soos die onstabiele geopolitieke situasie in die Midde-Ooste, wat ’n positiewe of negatiewe invloed op Suid-Afrika se olie- en dieselpryse kan hê.
Kyk na jou diere
Corné Nel, BKB se streekbestuurder vir vesel in die westelike streek, het sielkunde vanuit ’n onverwagse hoek benader toe hy met die gehoor oor dieresielkunde praat. Hy sê stres onder vee is een van die produsent se grootste vyande. “Dit verlaag produksie drasties. Diere verskil net soos mense en wanneer met vee gewerk word, moet dit in ag geneem word.”
Die algemene reël is dat diere nie mense gewoond is nie. Die vee waarmee ons boer, is eintlik wilde diere. Voorbeelde van faktore wat in ag geneem behoort te word, is diere wat op hul skraalste is na ’n lang en uitgerekte skeertyd. Vuil voertuie dien as teken dat die diere daarop stres ervaar het nadat hulle uit hul gemaksone gehaal is. Daarom is dit belangrik dat aspekte soos hierdie goed bestuur word.
“Ons het vandag gehoor van teling, dieregesondheid en voeding, maar neem ons altyd die produksiefabriek in ag? Produsente sal weet dat ’n dier waarvan die kondisie afneem, se produksie aan hul sak gaan vat as gevolg van wol wat breek, swak melkproduksie, verlaagde follikel-ontwikkeling en selfs vrektes. Kyk dus ook na jou diere se sielkundige welstand en hulle sal na jou kyk.”

Hanteer hulle soos super-atlete
Dr Josef van Wyngaard, waarnemende nasionale tegniese bestuurder van Voermol, het gesê die drie groot handremme rondom lamtyd, naamlik metaboliese steurnisse soos melkkoors, domsiekte, en grastetanie (magnesiumtekort), moet eerder voorkom word as om dit te behandel. “Die skape waarmee ons vandag boer is hoogs vrugbaar. Onder ekstensiewe toestande is die algemene verwagting dat ’n ooi minstens drie lammers oor ’n tydperk van twee jaar sal lewer.

“Ongelukkig val die metaboliese prosesse in ’n dier se lyf soms plat, juis omdat die diere so hard gedruk word om te presteer. Daarom moet ons baie mooi na hulle kyk. Een van die groot uitdagings met diere soos hierdie is wanvoeding wat tot metaboliese steurnisse kan lei. Voorbeelde van oorsake is laer kuddereproduksie en ’n afname in melkproduksie.”
Oor die Skaapboer van die Jaar-kompetisie wat Voermol en verskeie medeborge aanbied, het hy gesê daar word na alle bestuursaspekte op die plaas gekyk. “Op grondvlak kyk ons na die beskikbare bronne, soos die produsent se weidingstelsel en veldbestuur, asook die kondisie van die diere en hul produksiesyfers. Gesondheid speel ’n belangrike rol en rekordhouding is een van die belangrikste aspekte waarna ons kyk. Nuwe tegnologie is net so belangrik. Andries het gewys hy is ’n voorstander van tegnologie.” – Carin Venter, Veeplaas Tydskrif (Plaas Media)
Vir meer inligting, kontak Andries Marx by 083 451 0969 of andriesm@nokwi.co.za.




