Boereseep
Tannie Elsa van Schalkwyk is die kenner van Williston se geskiedenis, maar ook ’n mens wat vir niks stuit nie. Sy het ’n paar jaar gelede al begin om roerseep te maak en het dié stokperdjie uitgebrei tot ’n volwaardige besigheid. Uit die ou boere-resepteboeke het sy begin om salf en lyfroom ook te vervaardig.

Uit die moeilikste omstandighede spruit daar dikwels iets goeds. Die droogte van 1933 was een van die ergstes wa Suid-Afrika getref het en baie boere was op hul knieë. Die destydse Departement van Landbou het alles in hul vermoë gedoen om die boere op hul plase te hou en hulle gemotiveerd te hou. As deel van dié poging het die Department ’n trein deur die land gestuur wat op feitlik elke klein dorpie aangedoen het. Op dié trein was kenners wat vir die boere raad gegee het om hul boerderye aan die gang te hou en hulle moed in te praat, maar daar was ook vroue wat die plattelandse vroue geleer het om met dit wat hulle tot hul beskikking iets beter van hul lewens te maak.

Roerseep roer harte

So gesels tannie Elsa van Schalkwyk van Williston, ’n gastehuis eienaar, maar ook ’n bekende met die dorp se geskiedenis. Sy vertel dat haar skoonma een van die vroue was wat na dié praatjies gaan luister het. Soos wat tannie Elsa ouer geword het, het die praatjies haar al hoe meer begin interesseer. Volgens haar skoonma was dié vroue van die trein, se uitgangspunt om vir plattelandse vroue vaardighede te leer wat hulle op ’n primusstofie kan doen. Een van die dié dinge was om roer-seep te maak.

Vir tannie Elsa was die seep ’n interessante stokperdjie en sy het in haar ma se resepte gaan krap tot sy dié resep opspoor. Sy vertel ook dat hul huishulp ’n bobaas seepkoker was en haar maatstaf was dat die seep van so ’n aard moet wees dat ’n man sy baard kan skeer daarmee.

Vir tannie Elsa het dit ook ’n maatstaf geword.

Oor die jare het sy bekend geword vir haar seepmakery, maar op ’n dag het sy weer die ou familie-resepteboeke van toentertyd deurgeblaai en op ander resepte afgekom waarmee jy handeroom en salf kon maak.

Ou boere resepte kry nuwe lewe

“Die ou mense het nie winkels gehad waar hulle so ’n ou bederfie kon gaan koop nie. Hulle moes dit wat hulle tot hul beskikking gehad het, gebruik en skape is mos nou die een ding eat ons hier in die Karoo tot ons beskikking het. Skaapvet is vir baie meer as seep gebruik,” gesels tannie Elsa.

Vir haar was dit opnuut ’n uitdaging en sy het met dié resepte begin eksperimenteer. Uit die ou boere-resepte het sy begin om handeroom, ’n pynsalf, ’n treksalf en selfs ’n sepie vir grys hare te maak!

Sy was baie bedrywig met haar stokperdjie en ouma se ywer het selfs haar kleinkinders begin fassineer. Hulle het hul ouma oortuig sy moet ’n besigheid daarvan maak. Een van die kleinkinders het etikette ontwerp vir die produkte en vandag verkoop sy ’n verskeidenheid alledaagse rome en sepe wat stam uit die ou boere-resepte.

Van dié resepte is al meer as 100 jaar oud. Sy het wel hier en daar aangepas, maar die basis bly dieselfde.

Sy sê dit is vir haar wonderlik dat die voorgeslagte die natuur so goed geken het. Hulle het geweet wat om te gebruik om alledaagse produkte te maak. In die Karoo is elke deel van die skaap ten volle gebruik. Skaapvet was ook vir talle doeleindes gebruik, van seepkook tot ’n plaasvervanger van ghries. Niks is gemors nie.  

Persone wat meer wil uitvind oor hierdie besondere sepies, rome en salwe, kan gerus met tannie Elsa van Schalkwyk skakel by 053 391 3069 of 072 074 0919. – Koos du Pisanie, AgriOrbit