Estimated reading time: 4 minutes
Een van my onderwysers het jare gelede vir my gesê dat skape eintlik soos tieners is, nie omdat ’n mens hulle wil wurg as hulle dom goed doen nie, maar omdat ’n skaap of tiener, sodra hy of sy veilig voel, ophou om die reëls te toets en amper aangenaam raak.
Ek het hieroor nagedink terwyl ek so by my skape in die voerhok sit, terwyl Maart se wurm-volmaan silwer op die dou glinster. Die enigste beweging in die hok kom van twee ooie wat dromerig herkou terwyl hulle eintlik diep slaap.
Doel van ‘n sittery
My nagwaak is te danke aan studies oor Oos-Europese herderskappraktyke, asook die filosofie van die ‘stapelgek’ produsent, Joel Salatin, en die intensiewe boerderymetodes van James Kahiga. Laasgenoemde het as ‘n aandelemakelaar in die Verenigde State afgetree en ’n Dorper-stoet in sy tuisland, Kenia, begin.
Al drie hierdie stelsels vereis dat mense daagliks met die skape werk. Europese herders melk hulle ooie om uiters winsgewende pecorino-kase te maak. Salatin se klein trop word as natuurlike onkruidvreters langs heinings en in boorde ingespan, terwyl Kahiga die gesondheid van elke ram en ooi fyn dophou sodat sy stoetrekords nie net op datum is nie, maar bykans op die uur akkuraat is.
Om by die skape te sit het twee doelwitte: as laaste linie van verdediging teen veediewe te dien, en as eerste linie van verdediging teen die herder se ander twee ewe gevaarlike vyande, pasteurellose en klostridium-bakterieë.
Maart lui die begin van herfs in. Dis wanneer bakterieë hul kans gebruik om skape siek te maak, selfs al is al die inentings op datum. Dit verduidelik waarom ek my leeswerk sit en inhaal terwyl ek die koppe van die meer aanhoudende aandagsoekers krap, en terselfdertyd aanteken watter lammers hoes.
Die lammers wat sonder ophou hoes kry dan die volgende oggend ’n multivitamien-inspuiting. Die lammers wat bloot dol is oor ’n krap agter die ore, ontvang ’n melasselek om die ander aan te moedig om hierdie mak gedrag na te boots.
Om skape aan mense gewoond te maak is die belangrikste deel van my groter doelwit: om spanning in die trop te verminder. Deur bloot daar te sit is ek besig om die skape op te lei. Mense, aan die ander kant, verg ’n bietjie meer moeite, veral as hulle moet leer om stadiger te beweeg en sagter te praat wanneer hulle met die skape werk.
’n Vierwielspeelding vir pa
Toe ek oor die Toyota GT GR-supermotor lees, was dit gou duidelik dat Toyota juis nié stadige bewegings en sagte geluide in gedagte gehad het met hierdie vier-liter, dubbelturbo V8 nie. Dit is ’n straatwettige renmotor wat met ’n matige hibriedstelsel uitkom wat selfs die kleinste turbovertraging glad laat verloop.
Teenoor die gewone Duitse en Italiaanse supermotors, sowel as elektriese voertuie wat soos blits uit die wegspringblokke trek, troon die Toyota GT GR ver bo sy mededingers uit wat eienaarskoste betref. Sy koopprys is relatief laag en die betroubare meganika is deur Gazoo Racing geslyp. En natuurlik word alles gerugsteun deur Toyota se reputasie vir duursaamheid.
Petrol is die veiliger opsie
Hoewel my kanse om eendag agter die stuur van die GT GR in te skuif maar skraal is, hoop ek steeds om die ‘Baby FJ’ Cruiser te toets wanneer dit volgende maand op die mark kom.
Soos in die geval van die GT GR-supermotor, is die vervaardiging van die Baby FJ goed deurdink, met Toyota wat slegs beproefde onderdele gebruik om die langslewendheid van nog ’n 4×4-legende te verseker.
Die Baby FJ is omtrent dieselfde grootte as die nuwe Rav4, maar beskik oor ’n verkorte weergawe van die staal leerraam-onderstel van die Hilux. Danksy ’n lae-strek ratkas, soliede agteras en agterste ewenaarslot kan hierdie baba orals ry waar daar traksie is.
Die enigste nadeel vir baie van ons landbouers is dat die Baby FJ uitgerus is met die 20-jaar-oue 2,7 VVT-i-petrolenjin wat miljoene Siyaya-taxi’s in Suider-Afrika aandryf.
Maar, met al hoe meer berigte oor vuil diesel en paraffienverdunning wat die rondte doen, kan hierdie besluit nog die redding van baie potensiële Baby FJ-bestuurders beteken, aangesien petrol oor die algemeen reg oor Afrika meer betroubaar as diesel is.
