Estimated reading time: 4 minutes
Drie-dae-stywesiekte (DDS) is ‘n ernstige siekte wat op groot skaal onder beeste kan uitbreek en skerp toeneem in gebiede waar goeie reën voorgekom het. Ondanks dié virussiekte se lae vrektesyfer, het dit ’n hoë morbiditeitskoers, terwyl dit beduidende ekonomiese verliese vir produsente kan inhou.
Volgens dr Chris van Dijk, ’n spesialis-beesveearts, is DDS ’n voorbeeld van ’n arbovirus wat by beeste deur muskiete oorgedra word. Simptome kan, soos die naam aandui, binne drie dae opklaar, maar kan ook weke duur. Diere van alle ouderdomme is vatbaar, maar die siekte is ligter by kalwers jonger as twaalf maande. Swaar bulle en koeie asook melkbeeste, toon die duidelikste simptome.
Voorkoms
Volgens drs Vorster en Mapham van onderskeidelik Vetdiagnostix-veterinêre patoloë en die Veterinary House-dierehospitaal in Pietermaritzburg, komDDS meestal in die somer en herfs in die subtropiese en gematigde gebiede van Afrika, Asië en Australië voor, en verdwyn weer na die eerste ryp.
Die siekte oorleef nie lank buite die gasheerdier nie, omdat dit baie vatbaar vir beide hoë en lae pH-vlakke is. Die hoë vlakke van binnespierse melksuur wat tydens post-mortale outolise (vernietiging van ’n sel deur die handeling van sy eie ensieme) vorm, inaktiveer die virus vinnig, en direkte oordrag vanaf diere, kledingstukke of gereedskap, liggaamlike afskeidings of weefsel, speel dus geen rol nie.
Patogenese en simptome
Volgens dr Van Dijk sluit die basiese inflammatoriese reaksie skade aan spierselle, verlamming en die afname van bloedkalsium in. Die siekte het ’n skielike aanvangs, en kan vinnig tot ’n ernstige vlak vorder, maar vrektes is oor die algemeen laag.
Volgens die New South Wales Department of Primary Industries (NSW DPI) in Australië, word die siektetydperk gewoonlik deur ’n vinnige en volledige herstel gevolg, maar die erns daarvan kan wissel.
Simptome sluit in ’n skielike hoë koors, verlies aan aptyt en depressie. Diere kwyl en ontwikkel ’n neusafskeiding en waterige oë. Bewerasies en stywe ledemate kom voor, met lamheid in slegs een ledemaat wat ’n algemene kenmerk is. Gewrigte kan geswel lyk en soms is daar swelling om die kakebeen. In erge gevalle sal diere gaan lê en weier om te beweeg.
Die virus kan die dier se senuweestelsel beïnvloed, en sluk affekteer. Diere loop dan die risiko om kos, water of speeksel in die longe te kry, wat tot longontsteking kan lei. Bulle en vet koeie verloor vinnig kondisie en is traag om weer gewig aan te sit. Weens hoë koors kan bulle tydelik vir drie tot ses maande onvrugbaar raak. Permanente onvrugbaarheid is ongewoon, maar moontlik.
Vrektes is gewoonlik weens ’n ongeluk, longontsteking of te min beweging. Daar is ’n geringe moontlikheid dat diere permanent verlam kan word weens skade aan die rugmurg, hetsy as ’n direkte gevolg van die virus of weens beserings as die dier val of sukkel om op te staan.
’n Skielike en ernstige afname in melkproduksie is die eerste teken van siekte. Koeie in gevorderde dragtigheid kan ’n paar weke later aborteer weens koors, eerder as ’n direkte uitwerking van die virus. Melkproduksie daal gewoonlik met minstens 50% en hoëproduserende diere word die ergste geraak.
Koeie wat tydens laatlaktasie aangetas word kan opdroog, en aborsies kan in ’n klein persentasie van vêr-dragtige koeie en verse voorkom. Mastitis ontwikkel soms, met ’n duidelike toename in somatiese seltellings. Die longe kan aangetas word en lugborrels kan onder die vel tussen en agter die skouerblaaie versamel.
Behandeling en beheer
Anti-inflammatoriese produkte kan toegedien word om koors en kliniese simptome te verlig. Tekens van hipokalsemie soos rumenstase, spierbeweging of parese, moet met binneaarse kalsiumprodukte behandel word. Noukeurige monitering vir kliniese reaksies en die vermyding van ’n oordosis kalsium, moet in ag geneem word. Mondelinge medikasie moet verkieslik nie toegedien word in die afwesigheid van ’n goeie slukrefleks nie.
Beskerming teen omgewingstoestande word aanbeveel waar hitte en humiditeit hoog is en die dier se vermoë om water en kos te bereik, beperk is. Diere wat kan herstel moet vir ’n paar dae geen spanning ervaar nie, sodat weefsel- en elektrolietherstel kan plaasvind.
Die voorkoming van DDS berus op immunisering van die gasheerpopulasie en omgewingsbeheer van vektore. Omgewingsbeheer van insekvektore is ‘n uitdaging, en die beheer van muskiete en gebiede waar eiers gelê word is raadsaam, asook die gebruik van geregistreerde insekdoders en bestryding.
Diere kan vanaf ouderdom ses maande jaarliks aan die begin van die somer ingeënt word vir voortgesette beskerming. Sommige produsente verkies om slegs hul waardevolle, swaar diere soos bulle en stoetkoeie in te ent. Weens die ernstige afname in melkproduksie, word inenting van melkkuddes aanbeveel.
Vir meer inligting, kontak dr Chris van Dijk by dairyvetza@outlook.com.
