Thursday, December 12, 2024

Meet en weeg is ‘n bestuursleefstyl

  • Bianca Lueesse is die 2022 Molatek/Landbouweekblad/Breedplan-stoetteler van die jaar & skryf dié eer toe aan goeie seleksiemetodes.
  • Bianca Lueessee boer vandag op 6 066ha in die bergagtige Khomas Hochland, so 30km suidwes van Windhoek. Die diere wat sy teel is by die klipwêreld aangepas en wei tot bo-op die berge.
  • Luiperds is ’n betreklike groot uitdaging in hierdie bergagtige deel van die land en daarom word elke koei met haar kalf saans kraal toe gebring en gaan weer vroegoggend uit. Net koeie wat ’n kalf speen verdien om deel van die stoeterye te bly.
  • Kalwers word gewoonlik in Augustus gespeen wanneer hulle net ouer as sewe maande is. Die kalwers word geskei en die verse gaan veld toe.
  • Bianca glo die feit dat sy ’n duidelike teeldoelwit het, teelwaardes gebruik om te vorder na die teeldoelwit en alle eienskappe meet wat meetbaar is, het grootliks daartoe bygedra dat sy in 2022 as teler van die jaar aangewys is.

Bianca Lueesse was nog op die skoolbanke toe sy die gewigte en metings van die Simmentaler- en Brahmanstoetery op die plaas Lichtenstein West in die rekenaar vasgelê en ontleed het. Vandag is dit steeds deel van haar boerdery wat, met behulp van die nuutste tegnologie, die seleksie van produktiewe diere vergemaklik.

Dit is vanjaar 130 jaar sedert Bianca se oupagrootjie, Ernst Rusch, die eerste Simmentalers ingevoer het. Bianca is in 2022 as die Molatek/Landbouweekblad/Breedplan-stoetteler van die jaar aangewys. Sy skryf dié eer toe aan die noulettende en progressiewe seleksiemetodes en teelbeleid wat deur haar voorouers en in die besonder haar pa, Reinie Rusch, gevolg is.

Lees meer oor Bianca Lueessee se boerdery hier.

Klipwêreld met baie gras

Bianca boer vandag op 6 066ha in die bergagtige Khomas Hochland, so 30km suidwes van Windhoek. Die area word gekenmerk deur uitstekende weiding met minstens 50 grasspesies. Die belading is een grootvee-eenheid (GVE) op 12ha, wat ook voorsiening maak vir die baie vrylopende wild.

Die diere wat sy teel is by die klipwêreld aangepas en wei tot bo-op die berge. Sowat 4 000ha wat in 70 betreklik klein kampe verdeel is, word benut met beeste wat in troppe loop en weekliks na ’n nuwe kamp skuif, sodat elke kamp ses weke rus voordat dit weer bewei word.

Sy boer met sowat 100 Simmentaler- en 60 Brahman-teelkoeie. Die twee rasse word eenders bestuur met die teeldoelwit om beeste onder natuurlike toestande te produseer wat elke jaar kalf en die kalf winsgewend grootmaak.

’n Verlede met ’n storie

Haar oupagrootjie en oupa het wild en roofdiere met perde en later met voertuie gevang, in kratte gesit en per skip na Europa uitgevoer om hul inkomste aan te vul in die tyd toe vleis relatief min werd was. Haar oupagrootjie was ook een van die eerste twee produsente wat Simmentaler-beeste per skip uit Switserland via Duitsland na die destydse Suidwes-Afrika gebring het.

Die beeste is na Swakopmund gebring. Daar was nie geriewe om die beeste af te laai nie en hulle is in die see laat sak en moes uitswem strand toe. Daarvandaan is die diere deur die woestyn aangejaag tot op die plaas.

Omdat die beeste se hoewe aan die malse omgewing van die Alpe gewoond was, het hulle pote baie gou so seer geword, dat hulle nie verder kon loop nie. Daarom is die beeste beslaan; ’n boereplan wat die familie tot betreklik onlangs gebruik het as beeste uit die sanderige dele na die bergplaas gebring is.

Oorlewing in ’n strawwe omgewing

Haar pa het sy eie stoetery met diere van haar oupa begin. Hy het van meet af groot klem op vrugbaarheid gelê en sodoende die regte dier vir die omgewing geselekteer, want net aangepaste diere sal jaarliks in die strawwe omgewing kalf.

Luiperds is ’n betreklike groot uitdaging in hierdie bergagtige deel van die land en daarom word elke koei met haar kalf saans kraal toe gebring en gaan weer vroegoggend uit. Net koeie wat ’n kalf speen verdien om deel van die stoeterye te bly.

In die laaste paar jaar het Bianca die dekseisoen aangepas. Dit is oor ’n tydperk van drie tot vier jaar aangeskuif tot Maart, April en Mei. Sy het dit gedoen omdat die reën al later gekom het en die veld deesdae in dié tyd groen is, en die koeie dan makliker ’n kalf kan grootmaak en weer dragtig raak.

Seleksiebesluite

Die besluit oor watter bul sy op watter koeie gebruik, is waarskynlik die kuns wat ’n teler suksesvol maak. Sy besluit met behulp van teelwaardes sowel as fisiese voorkoms watter bulle saam met watter koeie gaan loop. Op dié manier mik sy daarna om die genetiese potensiaal van die nageslag aan te pas om haar teeldoelwit te bereik.

Kalwers word gewoonlik in Augustus gespeen wanneer hulle net ouer as sewe maande is. Die kalwers word geskei en die verse gaan veld toe. Uitgesoekte bulkalwers gaan na die toetsstasie om netto-voerinname (NVI) te bepaal, en die res word op die plaas gehou en met ’n produksielek aangehelp.

Sy probeer ook om al die bulkalwers te hou sodat sy die hele kontemporêre groep op 600 dae kan weeg om die teelwaardes van haar diere meer akkuraat te maak. Met keuring, wanneer die bulletjies sowat 30 maande oud is, word na die strukturele korrektheid van die bulle gekyk en word die finale seleksie gedoen nadat noukeurig na die teelwaardes gekyk is. Sy begin die bulle op ’n jong ouderdom gebruik, dikwels as hulle twee jaar oud is. Dit geld veral vir die bulle wat goed presteer het in die NVI-toetsing, omdat sy dié eienskap vinnig in die kudde wil vestig.

Bianca selekteer die verse eers op 24 tot 30 maande. Die verse wat geen sigbare tekortkominge het nie, gaan bulle toe en met keuring selekteer sy vir strukturele korrektheid. Al die verse wat nie dragtig is nie, word uitegooi.

Die bulle wat van haar af na ander streke gaan, pas gewoonlik baie goed aan. In die sanderige streke groei hulle kloue stadiger omdat daar minder druk is, terwyl bulle uit die sanderige streke soms tot ’n jaar vat om in die klipperige dele aan te pas.

Lees meer oor Duncan Watson se seleksie-proses hier.

’n Kudde van kurweknakkers

Tydens seleksie neem sy die behoeftes van die kommersiële speenkalf- en ostelers in ag. Hulle verkies deesdae vroegrypdiere wat makliker vet neerlê en daarom selekteer sy al hoe meer in daardie rigting. Aanvanklik was dit hoofsaaklik die positiewe teelwaardes vir groei en kalwingsgemak waarop sterk klem gelê is. Soos wat indekse ontwikkel is vir meer teelwaardes, het dinge makliker geraak.

Haar klem val nou op diere met positiewe indekse vir alle ekonomies-belangrike eienskappe. Omdat haar voorouers deurentyd groot klem gelê het op kalwingsgemak en ’n lae geboortegewig, bestaan die kudde deesdae grootliks uit kurweknakkers wat kalwers met ’n ligte geboortegewig en sterk groei daarna lewer.

Haar volgende oogmerk is om sogenaamde dubbelkurweknakkers te teel wat ’n lae geboortegewig het, sterk groei, en ’n laer volwasse koeigewig sal hê wat vrugbaarheid sal bevorder.

Vir oorlewing in die hedendaagse stoetbeesbedryf, is dit noodsaaklik om teelwaardes te gebruik om geneties te vorder. Teelwaardes is die gereedskap waarmee jy dit kan doen. Jy moet meet, weeg en data hê om te kan selekteer.

Lees meer oor die 2023 LRF Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar-kompetisie hier.

Teler van die jaar

Bianca glo die feit dat sy ’n duidelike teeldoelwit het, teelwaardes gebruik om te vorder na die teeldoelwit en alle eienskappe meet wat meetbaar is, het grootliks daartoe bygedra dat sy in 2022 as teler van die jaar aangewys is.

Sy is baie dankbaar vir die erkenning wat sy gekry het en dra dit aan haar voorgeslagte op. Haar strewe is om die uitmuntende fondament wat hulle gelê het, tot nuwe hoogtes te voer.

In Namibië produseer vleisbeesboere onder natuurlike toestande iets wat al hoe skaarser in die wêreld word. Daarom is dié vleis baie gesog. Met die naspeurbaarheidstelsels wat hulle toepas en die feit dat hulle vry van bek-en-klouseer is, kan hulle vleis na Europa en Amerika uitvoer. Sy glo die toekoms is veral rooskleurig vir beesrasse waarvan die diere geneties in staat is om aan te pas by omstandighede en markvereistes.

Vir meer inligting, kontak Bianca Lueesse by +264 81 149 2394 of epos panorama@afol.com.na.

Must read

SSA – 2024 was ‘n jaar van veerkragtigheid

Die Suiwelstandaardagentskap het in 2024 'n hele paar hoogtes bereik en kan volgens besturende direkteur, Jompie Burger, met die woord "veerkragtigheid" opgesom word. In die onderstaande potgooi, deel hy 'n paar doelwitte vir 2025 en die...

RSG Landbou: 12 Desember 2024 – geborg deur BKB

Agbiz, die Landboubesigheidskamer, het die 2024 International Food and Agribusiness Management Association kongres in Brasilië, bygewoon. Ons gesels in vanoggend se RSG Landbou met Theo Boshoff hieroor. Hy brei onder andere uit oor globale...

RSG Landbou: 11 Desember 2024 – geborg deur BKB

Algemene veiligheidsaspekte en wetlike vereistes wat van toepassing is in terme van beroking en plaagbeheer in die graanbedryf het onder bespreking gekom tydens nog ‘n aanlyn SHEQ-werksessie. Dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA, het ook...

Brommers kan ‘n skaap lewendig opvreet

Estimated reading time: 4 minutes Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Groenbrommers is die grootste probleem op wolskaapplase en is verantwoordelik vir 90% van die aanvalle. In feitlik alle gevalle is vog in...

The lion in the room: WRSA addresses concerns in conservation

Estimated reading time: 7 minutes Wildlife Ranching South Africa (WRSA) is currently addressing two Government Gazettes, published on 14 and 15 November 2024, that will fatally affect the commercial lion industry – the welfare of...