Estimated reading time: 6 minutes
Die Swartlandskou wat van 3 tot 6 September op Moorreesburg gehou is, het vanjaar ’n rekordgetal van meer as 21 000 besoekers gelok. Die skou is ’n toonvenster vir die landboubedryf in die Wes-Kaap. Dit spog met sterk vleisbees-, perde- en kleinvee-afdelings, en is ook bekend vir uitstallings van die jongste werktuie en tegnologie.
Volgens Jacques Bester, voorsitter van die Swartlandskou, is dié skou wat vanjaar 91 jaar oud is, met harde werk deur hul voorouers geskep. Oor die jare het die bestuur gesorg dat die skou nie stagneer nie. “Vandag groei dit steeds. Al druk die ekonomie word die skou deur die goeie gesindheid van die gemeenskap en die passie van die nagenoeg 40 bestuurslede gedryf wat elke jaar poog om ’n trappie beter te doen.”
Hy het sy dank teenoor alle vertoners, uitstallers, vennote, en borge uitgespreek vir hul betekenisvolle rol in die sukses van skou. “Die skou se ekonomiese bydrae tot die omgewing is beduidend. Die hele gemeenskap pluk die vrugte daarvan – van die kleinste tot die grootste ondernemings.” “Sonder die plaaslike gemeenskap, bestuurslede, vrywillige werkers, die Swartland-munisipaliteit en die Weskus-distriksmunisipaliteit se samewerking kan die skou nie aangebied word nie,” het Bester gesê.
Tydens die voorsittersonthaal het Abrie Visser, operasionele bestuurder: Suidstreek by AFGRI, die hoofborg van die skou, vrywilligers wat by geleenthede soos die Swartland-skou werk geloof, en gesê dit is dié mense wat ’n gemeenskap bou. Die platform wat die skou skep bevoordeel nie net die landbougemeenskap nie, dit is tot voordeel van die héle gemeenskap. As dit goed gaan met boerdery, gaan dit goed met die gemeenskap, en as dit goed gaan met die platteland, gaan dit goed met Suid-Afrika,” het Visser gesê.
De Panne maak geskiedenis
Die De Panne Swart Angusstoet van Jannie Kotzé van Moorreesburg, het vanjaar geskiedenis gemaak toe ’n bul en koei van die stoet as die opperste kampioenbul en die opperste kampioenkoei aangewys is. Dit was die eerste keer dat ’n teler al twee hierdie kampioenskappe in een jaar verower, het Franco Koch, die sameroeper van die vleisbeesafdeling, gesê.
Wenkarkas vir R21 000 verkoop
Die skou se slaglamkompetisie is vanjaar goed ondersteun. Die wenkarkas was ’n Dormerlam van 24,4kg met ’n punt van 99,28%. Die teler van die wenlam is Vredesig Dormers & Suffolk van Darling. Die wenkarkas is vir R21 000 (ongeveer R860/kg) aan Francois Coertzen van Coertzen Engineering Consultants in Parys verkoop.

Inligtingsdae bied oplossings
’n Reeks paneelbesprekings en seminare is vanjaar by die Swartlandskou aangebied. Die produsenteseminaar, die sessie oor die bevordering van uitvoergeleenthede, en die InteliGro Intelek Solutions-dag het ten doel gehad om werklike uitdagings en geleenthede in die landboubedryf uit te lig en oplossings te bied, het Bester verduidelik.
Plaas Media, die skou se mediaborg, was ook ’n borg van die produsente-seminaar. Die Produsenteseminaar was weer ’n groot trekpleister wat deur byna 400 mense bygewoon is. Die paneelbespreking tydens die geleentheid is deur Theo Vorster, hoof uitvoerende beampte en medestigter van Galileo Capital, gelei. Die paneel het bestaan uit Tobias Doyer, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, prof Johan Fourie, professor in Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, en JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder en konsultant vir Nedbank Private Wealth.
InteliGro het weer hul Intelek Solutions-dag aangebied waar daar op praktiese landboukennis en werkbare oplossings gefokus is wat regstreeks tot volhoubare boerdery bydra. Hulle het navorsingsinligting en -resultate met produsente gedeel van proewe met, onder meer, swamdoders en produkte wat biologiese boerdery bevorder. Sowat 280 boere het vanjaar hierdie inligtingsdag bygewoon.
Weskusstreek by skou bevorder
Die Weskus-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ambassade-verteenwoordigers van Frankryk, Italië, Namibië, en Kanada na die Swartlandskou genooi om uitvoergeleenthede na dié lande te bevorder en beleggingsgeleenthede in die streek aan die verteenwoordigers bekend te stel.
Kallie Louw, woordvoerder van die Weskus-distriksmunisipaliteit, het gesê die Weskus-distrik voer reeds na dié vier lande uit en die uitnodiging was om sterker bande met die verteenwoordigers van die ambassades te smee. “Die besoek het goed afgeloop en daar was groot belangstelling vir groter samewerking. Weskus-toerisme sal eerste voordeel trek met belangstelling van al vier lande,” het Louw gesê.

Vleisbeestelers bring room van streek
Altesame sewe verskillende beesrasse, naamlik die Swart en Rooi Angus, Hereford, Simmentaler, Santa Gertrudis en die Romagnola, het vanjaar aan die vleisbeesskou deelgeneem.
Sterk mededinging vir Merinokampioene
Altesame nege telers met 136 skape het aan die Wes-Kaapse Merino-kampioenskappe tydens die Swartland-skou op Moorreesburg, deelgeneem. Die vertoners wat deelgeneem het, is Manie Fourie van Oude Muragie, Riversdal; J.A. Saayman en Seun van Platkop Merino’s, Riversdal; Uysie Willemse van Goedeverwachting Merino’s, Heidelberg; Johan Kotzé van Korhaansrug Merino’s, Moorreesburg; Adriaan Geldenhuys van Uitkyk, Riversdal; die Van As-broers van Kinko Merino’s, Swellendam; Jan en Hennie de Villiers van Koringland Merino’s, Moorreesburg; Eric Louw van Houmoed Merino’s, Moorreesburg; en Eben Schellink van Swartland Merino’s, Hermon.
Skou lok puik SA Vleismerino’s
Altesame 73 SA Vleismerino’s van ses telers het aan die Super 10 SA Vleismerino-kampioenskap deelgeneem tydens die Swartland-skou. Die telers wat deelgeneem het is De Villiers Mouton van Nuwerus Boerdery, Piketberg, Du Toit Cillié van Agterland SA Vleismerino’s, Porterville, Jan du Toit van Vlakkerug SA Vleismerino’s, Riebeek-Kasteel, Gawie Carstens van Carstens-boerdery, Riebeek-Wes, Joubert Nolte van Bastion SA Vleismerino’s, Moorreesburg, en Jean Cillié van Agterland SA Vleismerino’s, Porterville.
Die Victor Ludorum-trofee is vanjaar aan Jan du Toit van Vlakkerug SA Vleismerino’s, Riebeek-Kasteel, oorhandig. Die teler van ramkampioene was De Villiers Mouton van Nuwerus-boerdery, Piketberg, en die teler van ooikampioene Gawie Carstens van Carstens-boerdery, Riebeek-Wes.
Perde sorg vir skouspel
Die perdevertonings is al die jare heen een van die spilpunte waarom die Swartlandskou draai, en vanjaar was dit nie anders nie. Die nasionale Vlaamperdkampioenskap, sowel as die Wes-Kaapse Saalperd-streekskampioenskap, is by die 2025-skou aangebied.
Die wagspanne van agt perde is elke jaar ’n groot hoogtepunt en vanjaar het Martin Eksteen van Bredasdorp as die wenner in die klas weggestap.
Skeerders wys hul vaardighede
Vanjaar is die Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskappe by die Swartlandskou in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaapskeer-federasie en dr Jasper Cloete van die landboukollege Elsenburg aangebied. In die kampioenskappe is daar afdelings vir beginner- en professionele klassers en skeerders.
Tydens die kampioenskappe het skaapskeerders die geleentheid gehad vir die 2026 Nasionale Kampioenskappe te kwalifiseer. Hans Van Schalkwyk (eerste plek), Zakobane Qamakhana (tweede plek), Dumisani Xhasa (derde plek) en Willie Vusumzi (vierde plek) het die eerste vier plekke in die ope-skeerafdeling behaal.
Jong skoumanne blink uit in Jeugskou
Sowat 170 kinders uit verskillende Wes-Kaapstreke het vanjaar in 16 afdelings en in drie ouderdomsgroepe aan die Wes-Kaapse Streeksjeugskou by die Swartlandskou deelgeneem.
Opwindende vooruitsig
Die Swartlandskou gaan in 2026 vanaf 2 tot 5 September gehou word, so teken dit solank in jou kalender aan! Besoek gerus www.swartlandskou.co.za vir meer inligting. – Hugo Lochner, Plaas Media.









































