Thursday, September 19, 2024

Marydale se slaglamprodusente wys hul staal 

Estimated reading time: 4 minutes

Die bestuur van die Marydale-landbouvereniging het ’n baie geslaagde slaglamkompetisie aangebied, maar vanjaar was daar ‘n kinkel in die kabel. Die doel van die kompetisie was om vanjaar Marydale se slaglam-boer van die jaar te kies. 

Die kinkel in die kompetisie was dat elke dier wat ingeskryf is, op gelyke voet met mekaar moes meeding. Pleks daarvan dat elke boer sy eie lammers afrond, het die diere vir ses weke in Willie Maree, voorsitter van die landbouvereniging, se voerkraal gestaan. Die doel van was om te bepaal watter lammers die beste in die voerkraal presteer. Genetika het dus ’n baie groot rol gespeel. 

Hamels en rammetjies 

Elke inskrywing het bestaan uit vier lammers wat die skaal op tussen 25 en 28kg trek. Slegs hamel- en ramlammers kon aan die kompetisie deelneem. 

Willie sê nege boere het diere ingeskryf, met een wat selfs twee inskrywings gehad het. Altesaam 40 lammers is dus op 15 Julie 2024 ingeskryf. Die diere is op 28 Augustus geweeg om te sien watter lammers die beste in die voerkraal presteer het, waarna hulle op die hoef beoordeel is. Op 29 Augustus is die diere by die Kyto-abattoir op Groblershoop geslag, waar Samic die beoordeling behartig het. 

Louis van Rensburg was die op-die-hoef-beoordelaar tydens die Marydale-slaglamkompetisie.
Louis van Rensburg was die op-die-hoef-beoordelaar tydens die Marydale-slaglamkompetisie.

Al die diere is op dieselfde manier afgerond. In die eerste week het hulle kruipvoer met koring/mieliereste gekry met die oog op aanpassing. In week twee het hulle kruipvoer sonder byvoeding gekry en daarna vir ’n maand lank slegs afrondingsvoer. Met die inskrywings het elke lam ook sekere inentings en doseermiddels gekry, sodat die speelveld vir almal gelyk was. 

Tussen die nege boere wat deelgeneem het, het Michael Loubser, Gerhard Loubser en Nicolaas Alberts behoorlik die kollig gesteel. 

In die voerkraalbeoordeling het Gerhard Loubser met die louere weggestap met Michael Loubser in die tweede plek en Alberts derde. 

Gerhard Loubser (regs) se diere het die beste in die voerkraal presteer en in die op-die-hoef-beoordeling het hy ’n derde plek verower. Jaco Janse van Rensburg (links) van Cavalier het sy pryse oorhandig.

Kampioene gekies 

In die op-die-hoef-beoordeling het ’n lam van Alberts die eerste plek verower. Michael Loubser was tweede en Gerhard Loubser in die derde plek. 

Nicolaas Alberts (regs) se diere was derde in die voerkraalbeoordeling. Hy het die op-die-hoef-beoordeling gewen en spog met die kampioen-enkelkarkas. Hy het sy pryse van Jaco Janse van Rensburg van Cavalier ontvang.

Nadat die diere by Kyto-abattoir geslag is, het Samic se beoordelaar oorgeneem en hier het Michael Loubser die kampioengroep vertoon en ’n groep van Abre Marais was die reserwe-kampioengroep. Die enkelkampioen-karkas het uit die kudde van Alberts gekom en Michael Loubser het die reserwekampioen-enkelkarkas vertoon. 

Abre Marais het die reserwekampioen-groepkarkasse vertoon.

Die amptelike prysuitdeling van die slaglamkompetisie is tydens ’n dans op Willie Maree se plaas, Kameelboom, buite Marydale gehou, waar Michael Loubser amptelik as die Marydale slaglam-boer van die jaar gekroon is. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Michael Loubser is as Marydale se slaglam-boer van die jaar aangewys. Sy lammers was tweede in die voerkraalbeoordeling en op-die-hoef. Hy het die kampioengroepkarkasse en reserwekampioen-enkelkarkas vertoon. Jaco Janse van Rensburg van Cavalier (links) oorhandig die pryse aan hom. 

Vir meer inligting, kontak Willie Maree by 078 843 6616. 

Popular stories