Mannheimia haemolytica: ’n Geslepe vyand van beeskuddes

Estimated reading time: 3 minutes

As gevolg van beeste se relatiewe ‘korter’ lugweë en beperkte longkapasiteit, is hulle meer vatbaar vir longinfeksies as ander spesies. Die bees se trachea bevat ’n meganisme wat skadelike partikels en patogene help verwyder. Dit werk soos ’n roltrap, waar die silia (klein, haaragtige selle) die partikels en patogene wat in die slym vasgevang is, in ’n ritmiese beweging na buite voer, weg van die onderste lugweë.

Verskeie siektes werk saam om hierdie natuurlike beskermingsmeganisme van die dier te ondermyn. Virusse wat aansteeklike beesrinotrageïtis (IBR), beesvirusdiarree (BVD) en parainfluensa tipe 3 (PI3) veroorsaak, verswak en verlam hierdie meganisme in die trachea. Dit baan die weg vir Mannheimia haemolytica-bakterieë om ongesteurd na die onderste lugweë te beweeg, waar dit patogenies raak. Om sake te vererger, kan BVD, IBR en beesrespiratoriese sinsitiale virus (BRSV) die dier se immuunselle so te sê heeltemal lamlê.

Wat is M. haemolytica?

Mannheimia haemolytica is ’n bakterie wat normaalweg in die boonste lugweg voorkom en slegs patogenies raak wanneer die bees se immuunstelsel uitgedaag of onderdruk word. Dit is eers Pasteurella haemolytica genoem, maar moet nie met Pasteurella multocida verwar word nie. Laasgenoemde veroorsaak ook longontsteking, maar ontaard makliker in ’n septisemie.

Beesrespiratoriese siekte verwys na ’n verskeidenheid patogene wat elkeen sy bydrae lewer om uiteindelik longontsteking te veroorsaak. Hierdie kompleks bestaan uit bakterieë (Pasteurella multocida en M. haemolytica) en virusse (IBR, BVD, BRSV en PI3).

Lees meer oor miltsiekte.

Van onskuldig tot gevaarlik

Waar M. haemolytica wel die longe bereik en patogenies raak, stel dit ’n spesifieke leukotoksien vry wat die dier se alveolêre witbloedselle, wat die longe teen patogene beskerm, verswak en vernietig. Dit lei tot ’n vermeerdering van M. haemolytica in die longe. Indien ’n infeksie te laat behandel word, kan dit uiteindelik tot vrektes as gevolg van asemnood lei.

Eksterne faktore wat beeste meer vatbaar vir hierdie infeksie kan maak, sluit in die teenwoordigheid van skadelike gasse soos ammoniak en koolstofmonoksied, stof, ’n hoë-koolhidraat dieet sonder om die diere vooraf aan te pas, inenting teen respiratoriese siektes wanneer diere reeds siek is, en spanningsfaktore soos speenskok, vervoer, chirurgiese prosedures, uitputting, beperkte spasie, vermenging van diere vanaf verskillende plase, temperatuurskommelings en dies meer.

Simptome van infeksie

Alle beesrasse word deur hierdie siektekompleks geaffekteer, met die uitsondering van gestreepte (brindle) Brahman/Sussex-kruisings, wat selde aangetas word. By voerkrale is die infeksiekoers gewoonlik die hoogste teen dag 21 vanaf inname.

Simptome van diere wat aangetas is, sluit gewoonlik ’n deursigtige afskeiding van die neus en oë in (wat later etterig raak), depressie en lusteloosheid, koors, verlies aan aptyt, diere wat styf of seer vertoon as hulle loop, vinnige, vlak asemhaling en ’n ligte hoes. Hierdie simptome is egter nie uniek tot Mannheimia-infeksies nie. Dit behoort dus deur ’n veearts, met behulp van diagnostiese toetse, bevestig te word.

Voorkoming is beter as genesing

Omdat Mannheimia-infeksie nie net tot vrektes lei nie, maar die produsent ook duisende rande in produksieverliese kos, is voorkoming die heel beste aanslag. Gelukkig is daar ’n entstof teen die respiratoriese siektekompleks beskikbaar.

Die entstof word gewoonlik sodanig vervaardig dat dit hierdie kompleks dek, maar dit bly die produsent en kuddeveearts se verantwoordelikheid om seker te maak dat al die komponente van die kompleks in die inentingsprogram gedek word.

Ideaal gesproke behoort die entstof twee tot drie weke vóór diere vervoer word, toegedien te word. Nadat die diere afgelaai is, kan ’n skraagdosis (booster) toegedien word. Die entstof wat M. haemolytica spesifiek teiken, sal teenliggaampies teen onder andere die leukotoksien wat deur M. haemolytica vrygestel word, aktiveer.

Behalwe vir inenting, behoort eksterne faktore wat die kudde meer vatbaar kan maak, tot ’n minimum beperk te word.

Mannheimia-infeksies kan met antibiotika en anti-inflammatoriese middels behandel word, tesame met die toediening van vitamien C en ’n brongodilator. Studies toon egter dat M. haemolytica weerstandig teen penisillien, tetrasiklien, sulfate en tilmikosien mag wees.  – Dr Estian van As, Bapsfontein Dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Estian van As by 082 713 6868.

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....

Ondersoek na vleisgehalte van die Boran-bees

Estimated reading time: 6 minutes Die Boran word beskou as ‘n vroeg-volwasse, medium-raam dier....