Maak kerflengte werklik saak?

Estimated reading time: 4 minutes

Kerflengte is ‘n sleutelaspek van suksesvolle kuilvoer. Wanneer die proses nie van die begin af korrek uitgevoer word nie, het dit onherstelbare nagevolge.

’n Goeie kuilvoerkerwer is daarom noodsaaklik. Die optimale snylengte is tussen 10 en 20mm. Hoe korter die kuilvoer gesny is, hoe meer voer kan die dier inneem. As dit egter te kort is, word die bees se rumen nie voldoende gestimuleer nie en kan dit ’n probleem gedurende die verteringsproses veroorsaak. As dit te lank gesny is, beïnvloed dit voerinname.

Snitlengte is een van die belangrikste fisiese eienskappe wat bepaal hoe doeltreffend herkouers die voer verteer, herkou en benut. Dit beïnvloed fermentasie, veeprestasie, rumenfunksie en -deurvloeitempo, en selfs kuilvoerstabiliteit.

1. Rumenfunksie en herkou

Herkouers benodig ’n bepaalde hoeveelheid effektiewe vesel om sekere liggaamsprosesse te stimuleer, insluitend die herkouproses, speekselproduksie en voldoende rumenmobiliteit.

Langer kerflengtes vermeerder die hoeveelheid effektiewe vesel, wat sodoende ’n optimale rumen-pH handhaaf en asidose (suurpens) voorkom. As die kuilvoer te fyn gekap en op sy eie gevoer word, kan herkouers nie voldoende herkou nie en produseer dus minder speeksel wat die rumen buffer. Dit kan, afhangend van die totale inname van ander voer, subakute rumenasidose veroorsaak en tot swakker veselvertering lei.

2. Digtheid en fermentasie

Fermentasie is ’n belangrike aspek van kuilvoermaak. Om suksesvolle kuilvoerfermentasie te verseker, moet suurstof so vinnig as moontlik verwyder word, die voginhoud moet optimaal wees en die pH moet vinnig daal.

Korter kerflengtes kompakteer beter, aangesien die klein deeltjies die spasies tussen vesels vul. Dit versnel anaërobiese fermentasie, verminder droëmateriaal (DM)-verliese en verhitting, en beperk die groei van skimmels en giste.

As die kerflengte te lank is, kan dit problematies wees: Die kuilvoer kompakteer moeilik, suurstof bly vasgevang, fermentasie is stadig en ondoeltreffend, en die risiko van bederf neem toe.

3. Inname van kuilvoer

Die doel van kuilvoer is om diere op die lang duur doelmatig te voed en optimale groei te verseker. Daarom is voldoende inname van hierdie voedingsbron baie belangrik.

Verder beïnvloed kuilvoerlengte DM-inname: As die kerflengte te lank is, vreet die beeste te lank daaraan en belemmer dit voerinname.

As die kerflengte te kort is, is die rantsoen te ‘fyn’. Die gevolg is dat die diere meer vreet, maar die deurvloeitempo word beïnvloed en rumengesondheid is moontlik in gevaar. Die korrekte kerflengte balanseer inname met gesonde rumenfunksie.

4. Kieskeurige beeste

Beeste wat kuilvoer inneem behoort nie kieskeurig te wees nie, veral nie wat totaal gemengde rantsoene (TGR’e) betref nie.

Koeie is geneig om lang voerdeeltjies uit te kies en dit lei tot inkonsekwente voedingstofinname. Korter, meer eenvormige voer verminder sortering en help beeste om die geformuleerde rantsoen te benut.

5. Vertering en deurvloeitempo

Die verteringsproses en deurvloeitempo word ook deur kerflengte beïnvloed. Dit behels onder meer die oppervlakarea vir mikrobes, spoed van mikrobiese aanhegting en tempo van veselvertering.

Korter deeltjies gebruik meer oppervlakarea, daarom verteer mikrobes dit vinniger. Langer deeltjies bly weer langer in die rumen – dit kan voordelig wees vir rumenstabiliteit, maar nadelig vir inname.

6. Meganiese oorwegings

Kerflengte is egter nie ’n uitgemaakte saak nie, en daar is geen definitiewe of vaste reël wat vir alle gewasse geld nie. Kerflengte hang van die gewassoort (mielies x sorghum, gras x hawer), voggehalte, pitverwerking (mielies) en bergingsmetode (bunker, silosak of baal) af. Byvoorbeeld, sorghum met ’n hoë veselinhoud kan fyner wees, terwyl mieliekuilvoer met voldoende pitverwerking ’n effens langer kerflengte kan hê.

Die keuse van kerflengte is dus nie sommer in lukrake besluit nie. Die voedingkundige wat die rantsoene formuleer moet by die besluit betrokke wees. Stel die kuilvoerkerwer op die gewenste snylengte en beoordeel dan die eindproduk. Die toestand van die masjienkomponente wat by die snyproses betrokke is, kan ook meebring dat die werklike kerflengte nie altyd ooreenstem met die instelling nie.

Die Penn State-skudkas is een van die doeltreffendste instrumente wat kerflengte kan evalueer. Dit meet die partikelgroottes in minstens drie verskillende groottes: grof, medium en fyn. Die relatiewe verhouding bied ’n goeie aanduiding van hoe bruikbaar die eindproduk is in verhouding met die teikenlengte. – Richardt Venter, AgSci Unlimited

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...