Lisensies en appèlle vir watergebruik: Hersiening van die aansoekproses

In Junie 2020 het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) hom daartoe verbind om lisensie-aansoeke vir watergebruik te versnel en daadwerklik betrokke te raak by die voorkoming van vertragings sodat watergebruikslisensies binne 90 dae uitgereik kan word.

Veeplaas het by Anil Singh, adjunkdirekteur-generaal vir watersektorregulering by die DWS, gaan uitvind of daar enige nuwe verwikkelinge is wat die aansoekproses vir watergebruikslisensies betref.

Volgens Singh werk die DWS sedert die hersieningsproses onverpoos om hul doel van ’n 90-dae omkeertyd te bewerkstellig. “Ons sal binnekort werkswinkels vir beide opvangsgebiedbestuursagentskappe (OBA’s) en aansoekers in die streke begin fasiliteer. Sodra hierdie sessies plaasgevind het, sal die 90-dae-program uitgerol word,” sê hy.

Hy het ook ’n paar vrae wat ons aan hom gestel het, beantwoord.

V: Kan enigiemand die aanlynaansoekproses gebruik?

A: Absoluut. Die aanlynstelsel is gebruikersvriendelik en enige geletterde persoon wat Engels redelik magtig is, kan die stelsel gebruik. Daar is ’n hulpgids vir diegene wat sukkel en die departement het ook ’n tegniese span wat gereed staan om aansoekers aanlyn of telefonies met die proses te help.

Die proses is duidelik uiteengesit en die regulasies dui aan watter stappe in die aansoekproses op watter rolspelers van toepassing is. Elke saak of aansoek word aan ’n beampte van die departement wat waterhulpbronbestuur sowel as die aansoekproses verstaan, toegewys. Die saakbeampte moet die aansoeker deur die proses lei. Daar is saakbeamptes asook twee OBA’s in al nege provinsies van Suid-Afrika.

V: Wat is die stappe in die aansoek- en appèlproses vir watergebruikslisensies?

A: Daar is agt stappe in die proses:

  1. Navraag voor die aansoek.
  2. Inhandiging van die aansoek.
  3. Ontvangserkenning van die aansoek.
  4. Terreininspeksie.
  5. Samestelling en indiening van ‘n tegniese verslag oor watergebruik.
  6. Aanvaarding of verwerping van die watergebruikslisensie-aansoek (WULA) se tegniese verslag – dit sluit die aansoek af of laat dit voortgaan.
  7. Assessering.
  8. Beslissing en kommunikasie aan die aansoeker.

V: Hoe kan aansoekers die proses opvolg?

A: Aansoekers kan enige tyd die vordering van hul aansoeke nagaan deur die elektroniese stelsel vir watergebruikslisensie-aansoeke (e-WULAAS) by die DWS te gebruik. Alternatiewelik kan aansoekers ’n saakbeampte of bestuurder in enige van die provinsies of OBA’s skakel.

V: Hoe word die verskillende aansoeke verwerk, en verkies die DWS dat die aansoek deur die aansoeker self of deur ’n konsultant gedoen word?

A: Daar is geen voorskrif deur die DWS of in die regulasies wat aandui of die aansoek deur ’n aansoeker of ’n konsultant hanteer moet word nie. Ons raai aansoekers aan om die departement in hul streek of een van die twee OBA’s te kontak om navraag oor magtiging vir watergebruik te doen.

Ons saakbeamptes word opgelei om vas te stel watter tipe magtiging en inligting nodig is. Hierdie inligting maak dit makliker vir aansoekers om te weet of hulle ’n konsultant moet aanstel. Die kompleksiteit hiervan wissel op grond van verkillende tipes magtiging.

Daarbenewens verskil aansoeke op grond van hul kompleksiteit. Aansoeke om lisensies vir enkel watergebruik is gewoonlik baie makliker as geïntegreerde lisensies (veelvuldige lisensies vir watergebruik). Sommige lisensies vir watergebruik is meer ingewikkeld as ander, soos lisensies vir afvalwater wat waterbronne kan besoedel. Dit is belangrik om daarop te let dat, waar tegniese verslae benodig word, hierdie verslae deur persone wat by professionele instansies in hul toepaslike vakgebiede geregistreer is, opgestel moet word.

V: Kan ’n konsultant die proses bespoedig?

A: Die DWS kan hom nie uitspreek oor die vraag of konsultante die proses kan bespoedig nie.

Vir meer inligting, kontak Sputnik Ratau, direkteur van mediaskakeling by die DWS, by 082 874 2942 of besoek www.dwa.gov.za. – Carin Venter, Veeplaas

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...