Lig aan die einde van die Eskom-tonnel

Estimated reading time: 4 minutes

Dit gaan ‘n spanpoging verg om Eskom se dilemma op te los, maar private sake-ondernemings en veral die landboubedryf kan in hierdie verband ‘n verskil maak. Produsente wat primêre voedelverskaffers is en ‘n kritiese bydrae tot die land se ekonomie lewer kan daarom regmatig hul sitplek inneem en ‘n positiewe bydrae lewer tot die elektrisiteitskrisis waarin Suid-Afrika homself bevind.

Dít was Jan Oberholzer, voormalige bedryfshoof van Eskom, se kernboodskap op Vrystaat Landbou (VL) se algemene jaarkongres, wat Woensdag in Bloemfontein plaasgevind het. Oberholzer het die bedryf aangemoedig om in alternatiewe kragopwekking te belê en om op grondvlak met Eskom hande te vat om ‘n uitweg te vind waarby albei partye kan baat.   

Bestaande uitdagings

Volgens Oberholzer is daar verskeie redes waarom die nasionale kragvoorsiener, wat ‘n geïnstalleerde kragopwekkingsvermoë van ongeveer 48 000 megawatt (MW) het, nie in die land se behoefte aan elektrisiteit, wat in wintermaande tussen 33 000 en 34 000 MW is, kan voorsien nie. Eskom se beskikbare basiskapasiteit (steenkool en kernkrag) speel in hierdie verband ‘n belangrike rol. Sowat 40 000 MW word deur steenkool, en 2 000 MW deur kernkrag, voorsien, terwyl die oorblywende krag deur gas- of dieselturbines, die pompskema, asook hidro- en windkrag voorsien word.

Min instandhoudingswerk is deur die jare aan Eskom se steenkoolkragstasies gedoen en dit vorm deel van die rede waarom die kragvoorsiener nie aan die aanvraag kan voldoen nie. Volgens Oberholzer se jongste inligting is 16 000 MW van die totale 42 000 MW basiskapasiteit in hierdie stadium nie beskikbaar nie. Daar is ook 2 300 MW wat nie beskikbaar is nie weens onderhoudswerk.      

Nog uitdagings wag

Volgens Oberholzer het die ontploffing by die Medupi-steenkoolkragstasie in 2021, die drie eenhede van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga wat sedert verlede jaar buite werking is en ‘n brand by hierdie kragstasie se eenheid 5, asook vertragings met die vervanging van stoomkragopwekkers by die Koeberg-kragstasie, bygedra tot ‘n verlies aan energie-opwekking. Altesaam 4 500 MW se energie of vyf fases van beurtkrag is weens hierdie redes nie beskikbaar nie.

Eskom bevind hom nou in ‘n “tawwe situasie”, omdat die 12 oorblywende steenkoolkragstasies (uitsluitend die twee nuwe kragstasies onderskeidelik by Medupi en Kusile) ‘n gemiddelde leeftyd van 44 jaar het. Hy meen hierdie vloot kragstasies gaan die einde van hul leeftyd in die volgende dekade en ‘n half bereik, wat nog ‘n uitdaging inhou.   

Positiewe aspekte rondom Eskom

Volgens Oberholzer skilder hierdie uitdagings ‘n donker prentjie, maar hy glo daar is lig aan die einde van die tonnel. Dit is reeds sigbaar aangesien beurtkrag hierdie winter beter daarna uitgesien het as verlede jaar waar hoër fases beurtkrag toegepas is. Dit kan toegeskryf word aan die groot hoeveelheid geld wat Eskom in die afgelope drie jaar aan onderhoudswerk spandeer het. Die stelsel is stadig besig om beter te presteer.

Daar is ook vanjaar ‘n laer aanvraag na elektrisiteit teenoor verlede jaar. Daarmee saam het Eskom beplande onderhoud tot die been gesny (2 300 MW) om laer vlakke van beurtkrag te verseker. Meer geld word spandeer om diesel te verbrand, omdat daar voorsiening gemaak is vir meer finansiële reserwes, terwyl sonkragenergie ook ‘n rol speel met 4000 MW wat oor die afgelope twee jaar toegevoeg is.

Lees meer oor Agbiz se skakeling met Eskom.

Eskom se fokuspunte

Oberholzer meen Eskom kan nie vir alles blameer word nie. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie is die beleidmaker en Eskom voer dit slegs uit. Daar is volgens hom vyf kardinale aspekte waarop Eskom tegelyk en met dieselfde toewyding en energie moet fokus:

  • Die menslike element is belangrik. Eskom se werkerskorps moet op ondervinding en mentorskap fokus.
  • Die kwessie van die beskikbaarheid van fondse is krities.
  • Eskom moet voortbou in terme van onderhoud en “respek betoon teenoor sy beskikbare bates”.
  • Suid-Afrika moet so gou as moontlik bykomende kapasiteit genereer. “As jy 20 000 MW oor die volgende 15 jaar (basiskapasiteit) van die stelsel verwyder, moet dit met ten minste 50 000 tot 60 000 hibriede-kapasiteit vervang word.”
  • Kriminaliteit en korrupsie is ‘n kanker wat Eskom op alle vlakke betrek het en sal aangespreek moet word.    

Goeie vordering

Oberholzer is positief dat daar goeie vordering gemaak word in terme van addisionele energiekapasiteit en hy is hoopvol dat die drie Kusile-eenhede asook dié kragstasie se eenheid 5 teen die einde van die jaar in werking sal wees. Daar sal dan 2 800 MW bykomend beskikbaar wees. Daarmee saam lê die somer voor waartydens daar ‘n afname is in elektrisiteitsaanvraag. Koeberg se eenheid 1 behoort teen die einde van Oktober vanjaar beskikbaar te wees en die Medupi-steenkoolkragstasie teen September volgende jaar. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Eienaarskap van lewendehawe: Die regte en verpligtinge van plaasbewoners

Estimated reading time: 4 minutes Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en...

Op die skeerplatform: Goeie praktyke in die skeerseisoen

Estimated reading time: 6 minutes Wanneer die skeerseisoen op die plaas aanbreek, is ordelikheid, deeglike...

Rotavirus: The cause of severe diarrhoea in young calves

Estimated reading time: 5 minutes Newborn calves often present with diarrhoea, which leads to sizable...

Werkstye en rustye op Suid-Afrikaanse plase

Estimated reading time: 4 minutes In Suid-Afrika word plaaswerkers se werksure hoofsaaklik bepaal deur Sektorale...