Estimated reading time: 6 minutes
Andries Gouws, een van die bekendste landboujoernaliste in Suid-Afrika, het op die ouderdom van 84 besluit om die pen neer te lê na ’n loopbaan van 64 jaar, waarvan 51 jaar in landboujoernalistiek was. En wat ’n loopbaan was dit nie! Hy het diep spore in die Suid-Afrikaanse en Namibiese joernalistieke bedryf getrap.
Andries se loopbaan het in 1961 by die destydse oggendkoerant, Die Transvaler, begin. In 1966 het hy na Namibië (destyds Suidwes-Afrika) verhuis om by die koerant, Die Suidwester, te werk. In 1973 het hy na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy ’n aanbod van die koerant, Hoofstad, in Pretoria gekry het. Sy loopbaan in landboujoernalistiek het in 1975 begin toe hy by Landbouweekblad begin werk het.
Hoewel hy nie formele joernalistieke opleiding gehad nie, het hy in ’n radio-onderhoud met kollega, Lise Roberts van RSG Landbou, gesê sy koerant-ondervinding het hom geleer om fyn te luister en te onderskei wat nuuswaardig is en wat nie. Dit het hom baie in sy loopbaan as landboujoernalis gehelp. Akkurate beriggewing was vir hom ononderhandelbaar.
’n Mense-mens
Andries is lief vir mense, ’n bok vir sports en ook ’n uitstekende fotograaf. Hy was nog altyd ewe tuis by ’n stywe werksgeleentheid as by ’n lekker, ontspanne jagtog saam met vriende en kollegas. Vir hom was sy loopbaan ’n lewenswyse wat hy voluit uitgeleef het.
Sy kennis van en passie vir landbou het hom verskeie plaaslike en ook internasionale toekennings besorg, onder meer die Internasionale Landbouskrywersvereniging (IFAJ) se Internasionale Landboufotograaf van die Jaar-toekenning en die Internasionale Landbouskrywer van die Jaar-toekenning.
Hy was altyd op die man af, maar kan op ’n mooi manier vir jou sê dat hy nie met jou saamstem nie. Hy kon wel soms op ’n paar tone trap en het dus nie altyd die erkenning gekry wat hy verdien het nie.
Kollegas onthou
As die slothoofstuk van sy loopbaan het hy vanaf 2013 by Plaas Media gewerk en talle artikels en nuusberigte vir onder meer Veeplaas en Stockfarm geskryf. In hierdie tyd was hy altyd bereid om sy kennis met ander te deel. As jy met sy kollegas oor hom praat, kom sy bereidwilligheid om ander te help, altyd deur.
Van Andries se kollegas by Plaas Media het hul gedagtes laat gaan oor die tyd wat hulle saam met Andries gewerk het:
- Susan Marais, Plaas Media se nuusredakteur sê: “Ek het Andries tydens ’n werksonderhoud ontmoet. Die onderhoud het uit vier groot name in die landboumedia bestaan – Andries Gouws, Charl van Rooyen, Nico van Burick en Ainsley Moos. Scary manne vir ’n jong vrou in haar twintigs. (Hulle lag seker lekker as hulle dit hier lees, maar my broek het gebewe.) Die enigste mooiweerpraatjie waaraan ek kon dink om te maak was die feit dat ek en Andries as joernaliste vir ons onderskeie publikasies genooi was om die opening van ’n nuwe saadaanleg in Zambië by te woon. Om ’n paar finansiële pitte te spaar, het die maatskappy my en Andries se vliegtuigkaartjies sommer na my toe gekoerier.
Al waaraan ek kon dink buiten ‘aangename kennis’ was dat ons saam Zambië toe gaan en ’n verbale diaree-verduideliking het gevolg oor die vliegtuigkaartjies. Aarde sluk my in! Andries het net geantwoord: ‘Nou … wil jy hê ek moet jou oppas of moet ek jou leer?’
“Vandag herkou ek aan daardie woorde, want dis nou 17 jaar later en as ek terugkyk hét Andries my opgepas én geleer. So op sy eie, unieke manier, sonder inspanning. By Andries het ek geleer hoe ’n ‘skerp foto’ lyk, dat daar iets soos genetiese verbetering is, en dat ’n mens soms die ernstige goed opsy moet skuif om ’n stuk wortelkoek en koffie saam met kollegas te gaan geniet.
“Van alles wat ek by hom geleer het, het die feit dat elke landboujoernalis se paadjie anders kronkel en dat hierdie veld baie ruimte vir individualiteit los, die meeste uitgestaan. Ek het ook geleer dat mens na ’n hart eerder as na woorde moet luister, want in ’n hart lê die ware betekenis van daardie woorde opgesluit. Andries se woorde kan soms dalk skerp val, maar sy hart was altyd sag en ek voel jammer vir mense wat nooit daardie groot, sagte hart gaan ken nie.
“Suid-Afrika is verseker ’n beter plek en ons boere boer beter omdat hulle vir ’n halwe eeu goeie artikels uit hierdie briljante landbouskrywer se pen kon geniet.”
- Christal-Lize Muller, Plaas Media se joernalis en streekverteenwoordiger in Noordwes sê oom Andries se kundigheid en jarelange ervaring maak hom ’n onontbeerlike steunpilaar in die wêreld van joernalistiek.
“Sy skerp nuusinsig, onwrikbare etiek en passie het hom vir baie jare in staat gestel om stories met die grootste akkuraatheid, menslikheid en diepte te vertel.” Hy is ’n ware legende in landboujoernalistiek en sy artikels laat blywende indrukke. Dit is veral die manier waarop hy stories vertel het, wat ’n standaard vir komende geslagte stel. Sy werk laat blywende indrukke en ons sal hom onthou vir die meesterskap van sy lewenswerk in joernalistiek.”
- Carin Venter, Plaas Media se joernalis en streekverteenwoordiger in die Oos-Kaap, sê haar eerste indrukke van oom Andries was dié van ’n sagmoedige reus en ’n gesoute en intelligente joernalis met baie lewenservaring op sy kerfstok.
“Ek kyk op na oom Andries as ’n mens wat baie gemaklik rondbeweeg tussen die ligter en dieper kant van die lewe. Dit het my ook altyd opgeval hoe hy voortdurend omring word deur mense. Oom Andries se vlymskerp kies-in-die-mond sêgoed – tydig of ontydig – is iets wat my gereeld onkant betrap het. En dan is daar die enkele kere wat hy nou regtig die hoenders in raak oor ’n ding en terwyl hy nog brom-brom daaroor, sluip die sagmoedigheid waaraan hy so gekenmerk word eenvoudig maar net weer terug op sy plek.
“Oom Andries, jy verouder soos ’n volronde Shiraz met ’n diep en uitnemende karakter, en ’n tikseltjie donker soet en sout sjokolade daarby. Mag jou glas nooit leeg word nie.”
- Izak Hofmeyr, redakteur van Stockfarm, vertel dat hy rondom 1982 vir die eerste keer van Andries Gouws bewus geword het. “Ek was ’n student wat op ’n plot buite Pretoria gebly het. Die plot-eienaars het ’n perdestoet gehad en ek het myself die titel ‘stoetmeester’ aangematig.
Andries het toe vir Landbouweekblad gewerk en ’n artikel oor die stoet kom doen. Dit was die eerste keer dat ek ’n landbouskrywer in aksie gesien het. Dit het my verstom en ek vermoed hy het die eerste saadjie gesaai van hoe my eie pad later geloop het. Omtrent dertig jaar later word ons toe kollegas! O, en ek en die stoethings het toe op die voorblad van Landbouweekblad verskyn!” – Hugo Lochner, Plaas Media