Estimated reading time: 4 minutes
Wanneer produsente en verbruikers om dieselfde spit byeengebring word, word die storie agter die produk deel van die ervaring. Dit is presies wat op Erfenisdag vanjaar by Hoër Landbouskool Boland in die Paarl gebeur het, toe sowat 100 skaapprodusente vir die Lamb Champs Boland-kompetisie byeengekom het.
Altesaam 100 spitbraaie, lamsvleis van regoor die land en ’n feesprogram wat die publiek nader aan die skaapbedryf gebring het, het die fokus op die boer én die produk op die verbruiker se bord geplaas.
Lamb Champs Boland-wenner
By Lamb Champs word inskrywings onder meer volgens geur, tekstuur, sappigheid en sagtheid beoordeel. Lammers word onder soortgelyke omstandighede voorberei, met slegs sout en peper as geurmiddels, sodat die vleis self die praatwerk kan doen.
Vanjaar se Lamb Champs Boland-kampioen was Kyla Wasserman van SJ Familieboerdery in Albertinia. Sy het met ‘n Dohne Merino-lam gewen. Dit was die tweede keer dat sy aan die kompetisie deelgeneem het. “Dit is ’n ongelooflike gevoel om te wen – ek is baie opgewonde oor wat in die volgende jaar voorlê!” het sy ná haar oorwinning gesê.
PK Uys van Robertson het die tweede plek met sy Dormer behaal, en Nico Kruger van Springfontein in die Vrystaat was derde met sy Konsortium Merino-lam. Henk Linde van Cradock was vierde, ook met ’n Konsortium Merino-lam, en Jacques de Villiers van Victoria-Wes was vyfde met sy Merino.
Die boer bly die middelpunt
Die uiteenlopende herkoms van die finaliste het volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai), bewys hoe wyd die vermoë om gehalte-lamsvleis te produseer strek. “Ongeag die verskillende streke, rasse en boerderystelsels, produseer elkeen uitsonderlike lamsvleis. Dit is presies wat ons wil hê verbruikers by Lamb Champs moet ervaar,” sê Rossouw. “Daar is ’n boer, ’n plaas en ’n storie agter dit wat op ons borde beland.”
Vir deelnemende produsente gaan Lamb Champs oor meer as bloot die kampioentitel. Die voorbereiding agter ’n goeie eindproduk begin lank voordat die spit aangesteek word. Genetika, voeding, veld, bestuur en die ouderdom van die dier speel elk ’n rol in die gehalte van die uiteindelike vleis.
Die dag het ook aan verbruikers die geleentheid gebied om nie net die verskillende lamsvleisinskrywings te proe nie, maar om met die mense agter die produk te gesels. Sodoende word die afstand tussen die plaas en verbruiker al hoe kleiner en kry mense ’n beter begrip van waar hulle kos vandaan kom.
’n Verbintenis wat saak maak
Tydens die twee bokslam-veilingsessies het Johan van Heerden van Victoria-Wes ‘n hele R100 000 vir sy Konsortium Merino-lam behaal. Tussen die spitbraaie en kompetisies deur was daar ook heelwat ander vermaak, insluitend optredes deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars.
“Hoewel Lamb Champs groot pret is, gebeur iets belangriker onder die oppervlak,” sê Rossouw. “ ’n Verbruiker wat gewoonlik net ’n pakkie lamsvleis op ’n supermarkrak sien, kry hier die geleentheid om langs die vuur te staan, die produk te proe en die persoon wat dit geproduseer het, se hand te skud. Daardie verbintenis maak saak.
“Lamb Champs was nog nooit iets wat Saai alleen kon bou nie. Pick n Pay, Toyota, ZARbet, Zoetis en ons ander vennote verstaan waarom familieboerdery belangrik is. Hulle ondersteuning stel ons in staat om die boer in die hartjie van die voedselverhaal te hou.”
Suid-Afrika versus Namibië
Die Lamb Champs-reeks word nou in Pretoria voortgesit, waar die eerste Lamb Champs Invitational op 31 Oktober by Silverlakes Farm Hotel sal plaasvind. Tien Suid-Afrikaanse en tien Namibiese produsente sal dan aan ’n lamsvleiskragmeting deelneem.
Die onlangse bek-en-klouseer-uitbreking in Namibië bring egter belangrike oorwegings mee wat dieregesondheid, die verskuiwing van diere en biosekuriteit betref. Volgens Rossouw is Lamb Champs en sy Namibiese vennote in gesprek om die situasie te monitor en saam met veeartsenykundige owerhede en kundiges die verantwoordelike pad vorentoe te bepaal.
“Ons is ongelooflik opgewonde oor hierdie internasionale kompetisie, maar landbou kom eerste. Indien die logistiek of formaat aangepas moet word om dieregesondheid te beskerm en streng biosekuriteit te handhaaf, sal ons dit doen.” – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na web@lambchamps.co.za of besoek www.lambchamps.co.za
