Artikel 9-implikasies vir die suiwelbedryf

Estimated reading time: 4 minutes

Vir dr Mark Chimes is streng biosekuriteit en verantwoordelike optrede nou van groter belang as ooit. Hy stel voor dat alles wat die BEK-virus kan dra as besmet behandel word en dat daar voorkomend opgetree word.

Die afgelope jaar het bek-en-klouseer (BEK)-uitbrekings melkprodusente regoor die land lamgelê en dit was vinnig duidelik dat die bestaande regulasies vir die hantering van die siekte, nie voldoende was nie. Dit was onprakties aangesien dit vir ’n BEK-vrye land opgestel was. ’n Ministeriële taakspan is gevolglik aangestel en uiteindelik is die sogenaamde Artikel 9-regulasies ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) afgekondig.

Dr Mark Chimes, veeartsenykundige raadgewer by Melk SA, het die nuwe regulasies tydens ’n webinaar van die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) toegelig.

Registreer by die Departement

‘n Belangrike aankondiging wat met die regulasies se aankondiging saamgehang het, was dat Onderstepoort Biologiese Produkte nie meer die enigste invoerder en verskaffer van BEK-entstof is nie. Enige gelisensieerde entiteit kan voortaan goedgekeurde entstowwe invoer en versprei.

Die eienaars van gesplete-hoef diere kan ook registreer om self hul diere teen BEK in te ent. Dit is egter onderworpe aan sekere voorwaardes, soos voldoening aan die regulasies met betrekking tot biosekuriteit, naspeurbaarheid en aanmelding. Produsente wat self hul diere inent, maar nie hieraan voldoen nie, kan vervolg word.

Produsente wat self hul diere wil inent, moet ook eers by die Nasionale Direkteur van Dieregesondheid registreer. So ‘n produsent moet ook die betrokke staatsveearts of provinsiale direkteur in kennis stel van die voorneme om diere in te ent, asook die besonderhede van die entstof wat gebruik gaan word. Dit moet minstens vyf dae voor die inenting aanlyn of skriftelik ingedien word.

Die produsent moet, binne 14 dae nadat die diere ingeënt is, ’n inentingsverslag by die staatsveearts of provinsiale direkteur indien. Versuim om hierdie dokument in te dien, kan sy of haar volgende aansoek vir entstowwe affekteer.

Belangrike suiwelverwante aspekte

Selfs ’n vermoede van BEK in ‘n kudde moet gerapporteer word, waarna die geaffekteerde epidemiologiese eenheid geïsoleer moet word. Die beweging van diere, diereprodukte, toerusting of enige ander materiaal wat moontlik die virus kan bevat, moet sover as moontlik beperk word. Toegang tot die geïsoleerde perseel word streng beperk tot die staatsveearts.

Alle diere moet individueel identifiseerbaar wees en ’n volledige register moet beskikbaar wees. Hierin moet alle aankope, verkope, slagtings, sterftes en geboortes aangeteken wees. Die diere moet ook op ’n vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel geregistreer wees.

Waar kuddes wel positief toets, mag geen ongepasteuriseerde melk aan die publiek voorsien word nie – slegs gepasteuriseerde melk mag vanaf ’n plaas wat onder kwarantyn is, verkoop word. Onverwerkte melk (of roumelk) vanaf plase wat onder kwarantyn is, mag slegs met ’n rooikruispermit na ’n melkverwerker vervoer word. Hierdie permit word deur die staatsveearts uitgereik.

Ingevolge die ou bepaling moes die melk van gekwarantynde kuddes apart gehou word van die melk van nie-geaffekteerde kuddes en dit kon geensins in dieselfde voertuig vervoer word nie. Hierdie bepaling het egter verval. Voortaan kan beide in dieselfde vragmotor vervoer word, wat ‘n enorme verligting ten opsigte van vervoerkoste beteken.

Dr Chimes maan dat ander produkte op die plaas ook aandag moet kry, soos beesmis of hooi wat verkoop word en die virus kan bevat. “Aanvaar eerder dat dit besmet is en tree voorkomend op. Maak ook seker dat die mis van beeste wat onder kwarantyn is, op so ’n manier behandel of gekomposteer word dat dit die verspreiding van die BEK-virus sal beperk. Wanneer jy voer aankoop, maak seker dat dit skoon is van enige moontlike virus.”

Verwerkers het ook verpligtinge

Melkverwerkers moet ook bepaalde vereistes nakom. Goeie rekord moet gehou word van die melk wat vanaf ’n gekwarantynde plaas afkomstig is. Rekords sluit die plaas van oorsprong, die plaas se infeksiestatus en die wyse waarop die melk verwerk is, in.

Dr Chimes maan dat streng biosekuriteit toegepas moet word wanneer melk opgelaai word. Voertuie moet deeglik skoongemaak en ontsmet word nadat die melk by die verwerkingsaanleg afgelaai is. “Wanneer ’n vragmotor melk oplaai en een van die plase is onder kwarantyn, is dit raadsaam om dié plaas se melk laaste op te laai. So kan die vragmotor direk na die aanleg ry en skoongemaak word.”

Indien melk vir die binnelandse mark geoormerk is, is slegs enkel-pasteurisasie nodig. Dit hoef nie meer dubbel-gepasteuriseer of slegs as UHT-melk gebruik te word nie.

Melk vir die uitvoermark

Indien ’n verwerker melk aankoop van ’n plaas wat onder kwarantyn is en dit vir die uitvoermark verwerk, moet daar eers by die staatsveearts aansoek gedoen word om dit uit te voer. Hierdie melk hoef nie noodwendig geskei te word van melk vanaf BEK-vrye plase nie; dit hang egter af van die betrokke invoerland se bepalings.

Geouditeerde bewyse is wel nodig dat die melk volgens die standaarde van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid verwerk is. Melk wat nie aan hierdie standaarde voldoen nie, mag slegs uitgevoer word indien die invoerland toestemming gee. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Mark Chimes by 074 510 7316.

Must read

LandbouRadio: 9 Oktober 2026

Hierdie week se LandbouRadio word met trots aan jou gebring deur BKB, die betroubare tuiste van landbou.In Vrydag, 9 Oktober se LandbouRadio, kan jy...

Die Noordweste en sy mense

Estimated reading time: 5 minutesDie Boesmanland en Namakwaland in die Noordwes-Kaap is klipharde wêreld wat sy mense slyp. Die mense wat hier gebore en...

Excellence and achievement take centre stage at LRF gala

Estimated reading time: 8 minutesExcellence in breeding, genetic progress, and outstanding service to the livestock industry. These were the attributes that took centre stage...

Stockman School 2026: Breeding better beef, from DNA to dinner plate

The second session on day two of the 2026 LRF Stockman School kicked off with a presentation on breeding better beef. Charné Claassen, division...

Foetal programming to BREEDPLAN: A jampacked second day at Stockman School

The second day of the Livestock Registering Federation’s (LRF) Stockman School at Aldam in the Free State kicked off with a session sponsored by...