Estimated reading time: 2 minutes
Op 15 Februarie 2024 het Konsortium Merino sy 100ste veiling aangebied en dit was net so suksesvol soos die vorige 99. Byna 500 ramme is opgeveil, waarvan net 14 nie verkoop is nie.
Gawie en Madelaine van Heerden, bestuurslede van Konsortium Merino, het saam met ander belanghebbendes by die groep die aand voor die veiling ’n gesellige dinee vir lede aangebied om hul waardering vir die groep se prestasie te betoon.
Sowat 250 gaste het die geleentheid bygewoon. Elkeen van die 16 skitterende ramme wat tydens die dinee se liefdadigheidsveiling opgeveil is, is na ’n belangrike figuur in die geskiedenis van Konsortium Merino vernoem. Die hoogste bod was R65 000 vir ’n ram wat na Van Heerden vernoem is. Jaco en Anine Pieters van Ermelo het die ram gekoop. Die gemiddelde prys wat hierdie 16 ramme behaal het was R39 062.
Die groot veiling, of geraasveiling soos dit ook bekendstaan, het op 15 Februarie plaasgevind. Sowat 200 ramme is teen ’n gemiddelde prys van R11 642 verkoop. Matt Philips van Hofmeyr het die hoogste bod van R40 000 vir ’n ram gemaak.
Daar is 286 ramme op ’n stilveiling aangebied en hulle is teen ‘n gemiddeld van R6 126 verkoop.
Lees meer oor die Merino-skou in Victoria-Wes hier.
Konsortium Merino in ’n klas van sy eie
In minder as drie dekades het Konsortium Merino ’n ryk geskiedenis opgebou. Volgens Van Heerden is die Konsortium Merino-tipe ’n groot vleiskarkas met ’n lae mikron en ’n goeie stapellengte. Die groep teel ’n soort Merino wat groter, gladder en beter as ander groei.
By die Nasionale Skou vir Gemete Produksie in 2004 het hulle ses nasionale kampioene gelewer, waarvan vyf die Suid-Afrikaanse grootkampioen was en een die reserwe kampioen. Sedertdien het die groep nog vele presteerders opgelewer. Konsortium verkoop elke jaar die meeste ramme in Suid-Afrika.
Na afloop van hul 100ste produksieveiling het hulle al 17 384 ramme verkoop en hul kopers is só tevrede dat hulle jaarliks terugkom. “Kuddeprodusente hoef nie eers die katalogus te raadpleeg nie. Hulle kan toe oë ’n bakkievrag ramme by ons koop. Ons ramme is eenvormig en aangepas om vir enige kuddeprodusent wins te maak,” sê Van Heerden. – Koos du Pisanie, Plaas Media