Thursday, April 24, 2025

Klimaatsverandering, bosluise en bosluisoorgedraagde siektes (deel 2)

Estimated reading time:7 minutes

  • Elke ontwikkelingstadium vereis dat bloed vanaf ’n gasheer ingeneem word, waarna hulle gewoonlik afval.
  • Klimaatsverandering kan ’n meer komplekse uitwerking op multigasheerbosluise hê.
  • Te hoë of lae temperature kan direk tot onaktiwiteit, dehidrasie, uitdroging, en die dood van bosluise en hul eiers lei.
  • Verskillende bosluisspesies het verskillende temperatuurbehoeftes en ’n verandering in temperatuur kan ’n direkte invloed op ’n spesie se bevolkingsgrootte en verspreiding hê.
  • Onder ongunstige klimaatstoestande kan die teenoorgestelde tydens belangrike stadiums plaasvind en daartoe lei dat die bosluis se fisiologiese vereistes en aanpassingsvermoë nadelig oorskry word.

In deel een van hierdie artikel in die November-uitgawe van Veeplaas, het klem gelê op die indirekte wyses waarop klimaatsverandering bosluisbevolkings en hul verspreidingsgebiede kan beïnvloed deur ‘n verandering in die beskikbaarheid van en hoeveelheid plantegroei en gashere.

In hierdie aflewering ondersoek ons sekere aspekte van bosluise se lewensiklusse en hul anatomie, fisiologie asook faktore soos stres, vrektes, vrugbaarheid, gedrag en aktiwiteite, en die moontlike rol wat klimaatsverandering daarin kan speel.

Verstaan die lewensiklus

Om die moontlike uitwerking van klimaatsverandering beter te verstaan, is dit goed om die basiese beginsels van bosluise se lewensiklus te verstaan. Dit begin met ’n eier wat uitbroei, en ‘n larf wat dan tot ’n nimf en volwasse bosluis ontwikkel. Elke ontwikkelingstadium vereis dat bloed vanaf ’n gasheer ingeneem word, waarna hulle gewoonlik afval.

Die meeste tipes bosluise paar op hul gasheer, waarna die volgesuigde bosluiswyfie afval en haar eiers in die grond lê. Daar is dus tye waarin ’n bosluis se ontwikkeling op die gasheer plaasvind en ander tye op plante. ‘n Onderskeid moet ook getref word tussen enkel- en multigasheerbosluise. In sekere gevalle kan multigasheerspesies langer as vyf jaar neem om een lewensiklus te voltooi. Klimaatsverandering kan dus ’n meer komplekse uitwerking op multigasheerbosluise hê.

blank
’n Bloubosluiswyfie kan tot 3 500 eiers op ’n slag lê. Die eiers is vatbaar vir uiterste klimaatsomstandighede en kan uitdroog of doodgaan. As die klimaat gunstig is, kan meer eiers gelê word en uitbroei.

Bosluisaktiwiteite

Vir die meeste hardedopbosluise sal die aktiewe soeke na ’n bloedmaal deur omgewingsfaktore soos fotoperiode, ligintensiteit, omgewingstemperatuur, gemiddelde jaarlikse reënval, en relatiewe humiditeit geprikkel word. Die laaste drie is belangrike faktore en wanneer vogtigheid nie ’n beperkende faktor is nie, is bosluise se aktiwiteite (soek na ’n gasheer, voeding, ontwikkeling van larf na nimf en volwassene, paring en lê van eiers) dan grootliks van hitte afhanklik.

Verskillende bosluisspesies het verskillende temperatuurbehoeftes en ’n verandering in temperatuur kan ’n direkte invloed op ’n spesie se bevolkingsgrootte en verspreiding hê. Te hoë of lae temperature kan direk tot onaktiwiteit, dehidrasie, uitdroging, en die dood van bosluise en hul eiers lei.

Binne die vereiste en aanpasbare temperatuurreikwydtes, kan ’n bosluis se metabolisme en aktiwiteite volgens die heersende omgewingstemperatuur dus vertraag of versnel word terwyl dit steeds oorleef. Die ontwikkeling van larwes, nimfe en volwasse bosluise kan heeltemal tot stilstand kom as die temperatuur onder ’n kritieke punt daal. Bosluise kan dan lank onaktief bly en minimaal energie verbruik. Faktore soos droë winde kan aansienlik meer bosluise laat uitdroog en vrek.

Aktief-geïnduseerde dormansie (diapause) is ’n natuurlike verskynsel of gedragsaanpassing wat deur dagliglengte beïnvloed word. In Suid-Afrika sal ’n ongevoede, volwasse bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus) nie tydens hierdie proses voed of beweeg nie, eers ná Julie te voorskyn kom en teen ongeveer November begin voed. Hul eiers en nimfe ontwikkel gewoonlik onder gunstige toestande in die warm en nat seisoen vanaf Desember tot Mei.

Verskille in voedingspatrone

Voedingstye neem min tyd in ’n bosluis se lewensiklus in beslag en bosluise se voedingspatrone en -wyses kan verskil waar sommige aktief na ’n gasheer soek, terwyl ander op plante vir ’n geskikte gasheer wag. Die meeste bosluisspesies kom gedurende hul verskillende lewenstadiums op verskillende hoogtes plante voor.

Gewoonlik word larwes en nimfe by die basis van plante (met nimfe hoër op) gevind, en volwasse bosluise op die hoogste vlakke. Onder meer geskikte toestande sal al drie stadiums tydens voeding vir etlike dae almal hoër op die plantegroei wees.

As toestande ongunstig raak, beweeg die bosluise weer na areas met ‘n meer geskikte temperatuur en/of vogtigheid – gewoonlik na die dieper en onderste gedeeltes van plantegroei. In ongunstige toestande kan die duur van sommige bosluise se soeke na ’n gasheer ook met twee tot vier maande verkort word.

In studies van Ixodes ricinus in die Noordelike Halfrond, is bevind dat droër toestande die aktiwiteite van larwes en nimfe meer laat afneem as volwassenes s’n. Nimfe het byvoorbeeld onder droër toestande laer af op die plantegroei op hoofsaaklik klein knaagdiere gevoed. Daar is ook aanduidings dat dieselfde bosluisspesie in verskillende klimaatstreke by verskillende temperature kan aanpas, met geen veranderinge in hul gedrag of voedingsaktiwiteite nie.

Vogtigheid is vir alle bosluise se oorlewing belangrik en hulle kan in verskillende stadiums van hul lewensiklus vir te min vogtigheid (dehidrasie en uitdroging) of te veel vogtigheid (oorhidrasie) vatbaar wees. Bosluise het anatomies (struktuur van die vel/dop) en fisiologies maniere waarop hulle poog om optimaal vogtig te bly.

Beperking van vogafskeiding

Hardedopbosluise produseer higroskopiese afskeidings deur speekselkliere en wasagtige neerleggings op die vel, wat atmosferiese waterdamp absorbeer. ’n Hoër wasafskeiding kan waterverliese met tot meer as 50% beperk. Dit word meestal gesien in ’n lewenstadium waartydens bosluise nie voed nie of onaktief is. Sommige bosluise pas onder omgewingstres (verskillende vogtigheidsvlakke) soos droë omstandighede aan, deur was uit hul mis en uitskeidings te herabsorbeer.

Wanneer ’n bosluis ’n bloedmaal inneem, sal waterinname deur middel van die waterryke bloed dramaties verhoog. Dit hou ’n groot risiko van oorhidrasie in omdat die bosluis swel en die dop/vel rek, wat die liggaamsoppervlak vergroot en tot meer vogverlies kan lei. Bosluise kan ook water verloor deur dit tydens ’n bloedmaal met hul speekselkliere in die gasheer terug te pomp. Waterverliese tydens bloedinname kan meer as 50% in nimfe en meer as 80% in wyfies wees.

Wanneer bosluise meer aktief is, verhoog hul metabolisme en respirasie, en gebruik hulle meer energie. Behalwe vir aktiewe beweging, word ’n bosluis se energie ook deur ander fisiologiese prosesse soos die aktiewe herabsorpsie van water verbruik. ‘n Bosluis se vetreserwes is noodsaaklik vir oorlewing. Sommige nimfe verbruik hul vetreserwes twee keer vinniger tydens droë tye as in nat tydperke.

’n Bosluis kan na raming vir 130 dae onder nat toestande leef teenoor 64 dae onder droë toestande, voor dit sal vrek. Die risiko vir ’n bosluis wat in ongunstige toestande na ’n bloedmaal soek, sal wees om te ver of te veel te beweeg, vetreserwes uit te put en dan as gevolg van ’n tekort aan energie en/of uitdroging te vrek as ’n gasheer nie betyds gevind word nie.

Lees meer oor Driegasheerbosluise: Pak dié bloeddorstige spesie met handskoene aan.

Die slotsom

Bosluise het verskeie unieke anatomiese kenmerke asook fisiologiese en gedragsaanpassings wat hul voortbestaan in veranderende omgewingstoestande help verseker. Klimaatsverandering kan die beskikbaarheid van geskikte plantegroei en gashere beïnvloed en sodoende ’n indirekte uitwerking op bosluise hê.

Klimaatsverandering onder geskikte omgewingstoestande kan ’n groter direkte uitwerking op bosluise hê. Dit kan byvoorbeeld die tydperk van onaktiwiteit of oorwintering van sommige verkort, die duur van hul soeke na ’n gasheer verleng, maar ook die tempo van voortplanting en uitbroei van eiers verhoog indien genoeg gashere beskikbaar is.

Onder ongunstige klimaatstoestande kan die teenoorgestelde tydens belangrike stadiums plaasvind en daartoe lei dat die bosluis se fisiologiese vereistes en aanpassingsvermoë nadelig oorskry word. Verskillende bevolkings van dieselfde bosluisspesie se aanpassing in verskillende streke sal verskil. Sommige kan slegs gedragsaanpassings wees, terwyl ander geneties oor ’n langer tydperk vasgelê kan word.

Hierdie is komplekse prosesse en talle ander faktore sal ’n rol speel. Daarom kan nie alle veranderinge en ‘n hoër voorkoms van bosluisoorgedraagde siektes noodwendig en uitsluitlik aan klimaatsverandering toegeskryf word nie. In sommige gevalle sal klimaatsverandering geensins ‘n bydraende faktor wees nie. – dr JH Vorster, Vetdiagnostix (Foto’s: Dr Danie Odendaal, Veearts Netwerk)

Vir meer inligting, kontak dr JH Vorster by 082 820 5030 of vorster@vetdx.co.za.

Clanwilliam-ekspo toon goeie groei

Estimated reading time: 10 minutes Die Canwilliam-eskpo wat na Covid erg onder vandalisme deurgeloop het,...

Beplande speentyd en aksies het groot waarde

Estimated reading time: 7 minutes Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in. Die speenneusringmetode...

Sectoral Determination 13 in a nutshell

Estimated reading time: 4 minutes South Africa’s labour legislation is highly regulated, creating a challenging...

Frikkie Wentzel: Om te boer, is in my hart

Estimated reading time: 5 minutes Frikkie Wentzel het tydens die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV Oos-Kaap)...