Thursday, December 12, 2024

Keer kouestres hierdie winter

Estimated reading time: 4 minutes

In Suid-Afrika is ons baie gesteld op hittestres by diere, maar die koue kan ook sy tol eis. Die grootste bydraende faktor tot kouestres is die vervoer van diere in die winter.

Spesialisveearts dr Jan du Preez sê hoewel dele van Suid-Afrika baie kouer winters ervaar, Europese beesrasse dié koue goed hanteer. Hulle kry eerder swaar in die hitte van die somer. Die Afrika-rasse is goed aangepas vir ons plaaslike klimaat se erge hitte én koue. Volgens hom is sekere inheemse rasse egter redelik vatbaar vir kouestres, aangesien hulle ’n los vel en dikwels groot skof het.

In Tabel 1 bied dr Du Preez ’n uiteensetting van die gemaklikheidsones wat omgewingstemperatuur betref, van groot- en kleinvee.

Reën en wind

“Soos alle soogdiere, is koeie warmbloedig en moet hulle ’n liggaamstemperatuur van 38˚C handhaaf,” sê dr Chris van Dijk, ook ‘n bekende spesialisveearts in Suid-Afrika. “Mense misgis hulself maklik met die verskil tussen omgewings- en aanvoelbare temperature. Namate temperature vriespunt nader, moet oorweging gegee word aan die koeie se produktiwiteit en doeltreffendheid.”

Hy verduidelik dat windspoed die aanvoelbare temperatuur tot ’n groot mate beïnvloed, en sê dat as die dier nat is, die aanvoelbare temperatuur nóg laer sal wees.

Vervoer van beeste

’n Boran-produsent van Heidelberg, Jaco de Bruin, sê sy beeste is vir die oop veld aangepas en kan koue redelik goed hanteer, maar met die vervoer van diere ervaar hy ook dat kouestres probleme veroorsaak, veral wanneer dit reën of daar swaar dou in die lug is, of as watersproei in die pad of urine op die wavloer opspat en die diere nat maak.

“Van die kouestressimptome wat ek al teëgekom het, is diere wat bewe en gaan lê om meer hitte te behou. Soms begin die bees ook om die beddegoed op die wa te vreet vir energie om sy liggaamstemperatuur te handhaaf. Soms vries die neusvloeistof ook,” sê hy.

Kouestres in die veld

Dr Van Dijk sê koue kan ook ’n lang-termyn invloed op beeste in die veld hê. Omdat hulle normale metaboliese prosesse die korrekte liggaamstemperatuur moet handhaaf, is dit noodsaaklik dat hierdie proses in stand gehou word.

Lees meer oor hittestresbeheer.

“Eerstens moet koeie ekstra goeie gehalte voer (veral energie) ontvang. Indien nie, sal hulle meer vet verbrand om metaboliese hitte te produseer. Hierdie koeie vermaer en raak gevolglik nog meer vatbaar vir kouestres. Hulle is ook geneig om moeiliker te kalf en lewer ligter kalwers. Dié kalwers is swak en raak makliker siek.” Lae-gehalte biesmelk, onvoldoende melkproduksie en lae vrugbaarheid kan ook verwag word, meen hy.

Voorsorgmaatreëls

’n Mens kan nie die temperatuur verander nie, maar jy kan wel jou boerderymetodes sodanig aanpas om kouestres so ver as moontlik te beperk en na die diere se welsyn om te sien. Hoewel sommige beesrasse se haarkleed verander om by dalende temperature aan te pas, is daar ’n paar veranderinge wat die produsent kan aanbring:

  • Monitor die weer en maak voortydig aanpassings in voeding. Let veral op na wind.
  • Beskerm diere teen wind deur skuilings beskikbaar te stel.
  • Maak seker dat kampe, sover moontlik, droog is.
  • Voorsien deurentyd water, want gevriesde krippe beperk diere se waterinname.

Met die vervoer van beeste, sê Jaco, moet die beeste wat tydens vervoer té koud kry, so gou as moontlik aandag kry. Die maklikste is om stil te hou, verkieslik op ’n sonnige plek, beskut teen wind, sodat die beeste geleentheid kry om weer hul liggaamstemperatuur op te bou. Gee ook weer voer.

“Om kouestres tydens die vervoer van diere te verhoed, is dit raadsaam dat daar dik hooi, skaafsels of sand in die wa is waarop hulle kan staan. Dit is ook wenslik om jou wa só in te rig, dat ’n plaat of seil die wind kan keer. Die belangrikste is om stadiger te ry wanneer jy beeste vervoer,” sê Jaco. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Jan du Preez by drjanh.dupreez@gmail.com, dr Chris van Dijk by 082 789 4499 of Jaco du Bruin by 082 854 6970.

Popular stories