HomeAgri NewsIs huidige vleispryse ‘n langtermyntendens?

Is huidige vleispryse ‘n langtermyntendens?

-

Estimated reading time: 3 minutes

“Die pryse wat veeprodusente ontvang is nie so goed soos wat verwag is nie. Na afloop van die droogte het baie produsente gedink hulle gaan hulleself uit die moeilikheid kan boer. Pryse het lieflik gestyg, maar kort daarna het dit begin daal en nou sukkel pryse om te herstel.” Dit was die boodskap by die onlangse Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) Noord-Kaap kongres in Kimberley.

Volgens dr Johan van der Merwe van AMT is daar verskeie redes waarom pryse vinnig gestyg en weer geval het. Na die droogte het Suid-Afrika en Namibië kleiner kuddes gehad en moes hulle weer kuddes bou.

Gevolglik is daar minder diere wat vir slagting aangebied is en die pryse was goed. Toe dit na die droogte begin reën het, het Covid-19 Suid-Afrika getref wat weer onsekerheid veroorsaak het en ook die pryse beïnvloed het. Mielieproduksie was goed en in dié tyd was die vleispryse op ’n hoër vlak.

Lees meer oor Gerhard van den Bergh se praaitjies tydens die kongres.

Ongelukkig het insetkoste in dié tyd ook gestyg wat baie van die winste uitgekanselleer het. Verder is produsente nou uit die kuddeboufase en meer diere is in die mark, ook uit Namibië. Daarom het die pryse nie die vlakke gehaal wat verwag is nie.

Dr Van der Merwe verwag dat daar nog nie ’n groot lig in die tonnel is nie en dat produsente hierdie tendens vir nog ’n seisoen of twee kan verwag. Produsente gaan hul gordels moet stywer trek, maar dit is volgens hom ’n internasionale tendens.

“Verbruikers gaan ook hul gordels moet stywer trek as gevolg van hoër rentekoerse en hoër inflasie. Hierdie faktore het ’n direkte impak op die vraag na bees- en skaapvleis, veral in die hoër LSM groepe wat hoër motor- en huislenings het. Vir die produsente lyk dit egter of daar ’n effense verligting kan kom in produksiekoste soos voer- en dieselkoste wat moontlik kan afkom, maar oorhoofse kostes gaan steeds hoog bly,” is sy mening.

Hy het egter ook die versekering gegee dat rooivleisprodusente steeds volhoubaar sal kan boer. Hy verduidelik dat daar in sulke tye ’n verskuiwing in die vraag is. Die vraag sal moontlik skuif na hoender en vark, maar wanneer die vraag daar hoog is en pryse styg, verskuif die vraag weer terug. Hy sê dit is ‘n algemene ekonomiese tendens wat voorkom.

Lees meer oor klimatoloog, Dr Henno Havenga, se berekeninge oor die weer.

Skaapvleis ‘n nisproduk

Volgens dr Van der Merwe gaan skaapvleis waarskynlik ’n nisproduk in Suid-Afrika word en rooivleisprodusente wat verder van stede geleë is, waar diefstal minder is, en veral in die droër gebiede waar skape beter produksie lewer, sal steeds volhoubaar kan boer al raak die mark kleiner.

Hy het die volste vertroue dat die bestaande skaapprodusente steeds ’n goeie aandeel in die mark het, maar dit kan daal omdat die pryse te hoog raak. Om dié markaandeel te vergroot sal skaapvleispryse vir die verbruiker nog verder moet daal.

Sy raad aan die rooivleisprodusente is dat hulle vir ’n moeilike seisoen moet voorberei, maar hulle moet hul langtermynbeplanning doen met die wete dat die tendens weer in hul guns sal draai. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Must Read

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...