Al moeiliker om te boer hoor RPO-kongres

140
Gerhard van den Burgh van die BFAP het tydens die onlangse RPO Noord-Kaap kongres gesê die uitdagings met boerdery word meer.

Estimated reading time: 2 minutes

Die Noord-Kaapse tak van die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) het onlangs ’n suksesvolle kongres gehou. Een van die sprekers was Gerhard van den Burgh van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) wat die RPO en ander rolspelers in die rooivleisbedryf help om die bedryf op te hef.

Van den Burgh het die produsente daarop gewys dat die rooivleisprodusent die beginpunt van die waardeketting is en die onmoontlike word soms van hulle verwag. Ondanks die uitdagings, is vooruitgang in landbou oor die laaste 30 jaar indrukwekkend.

Lees meer oor klimatoloog, Dr Havenga, se praaitjie tydens die kongres.

Hy sê Suid-Afrika was in 2011 ook in ’n bek-en-klouseer dilemma gewikkel, maar die land het homself daar uitgewerk en kon weer deel word van die wêreldmark. Net so is daar in die laaste 15 jaar baie C-karkasse uit die kuddes geslag omdat dit droog was en kuddes kleiner gemaak moes word. Op dié manier is kuddes gestabiliseer en verbeter. Daarom voer Suid-Afrika omtrent 50% meer vleis uit as 15 jaar gelede.

Volgens Van den Burgh is daar baie “verleenthede” of krisisse wat produsente in geleenthede kon omskep om steeds voedselsekerheid te waarborg. Hy erken dat dit al hoe moeiliker raak om te boer. Die produsent moet alles op die plaas wees – van die ekonoom tot die ingenieur, weervoorspeller, veearts ens.

Omdat Suid-Afrika ook deel van die wêreldmark geword het, moet produsente self hulle produkte bemark. Die regering verleen ook min hulp aan produsente, maar Van den Burgh glo daar is tog potensiaal vir landbou as rolspelers bereid is om saam met die regering te werk. Hy haal sy hoed af vir georganiseerde landbou wat hierdie taak vir die produsente doen.

Hy glo die landbougemeenskap moet ook by die landboumeesterplan betrokke raak en op dié manier ’n wen-wen situasie te skep wat landbou in geheel kan bevorder.

Volgens hom sal landbou nooit tot niet gaan nie omdat daar altyd ’n vraag na landbouprodukte sal wees en al die vennote in die bedryf moet eintlik hande vat en op vier aspekte konsentreer: Dieregesondheid, inklusiewe groei, markontwikkeling, en kompeteerbaarheid en volhoubaarheid in die hele waardeketting. – Koos du Pisanie, AgriOrbit