Estimated reading time: 2 minutes
Dr Henno Havenga, ’n klimatoloog van Noordwes-Universiteit, het nie goeie nuus vir die produsente tydens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se Noord-Kaap-kongres in Kimberley gebring nie. Volgens sy berekenings en voorspellings kan die produsente in die volgende jaar weer ’n droogtejaar verwag.
Hy sê die ergste is dat dit nie ‘n vlugtige verskynsel is nie. Droogtes gaan al hoe meer voorkom en wanneer dit reën, kan produsente in die toekoms al hoe meer intense donderstorms verwag waar die water eerder sal wegloop en nie in die grond intrek nie.
Volgens hom is dit ’n wêreldwye tendens en verlaagde voedselproduksie kan in die toekoms verwag word. Landbou gaan negatief beïnvloed word in die volgende 50 tot 70 jaar as gevolg van aardverwarming. Hy vertel ook dat indien die aarde met 2% warmer word, kan daar ’n afname van tussen 40% en 60% in graanproduksie verwag word.
Lees meer oor die RPO 2030 se Visie 2030.
Dr Havenga het egter nie net op die wêreldwye prentjie gefokus nie. Hy sê ’n projeksie vir die Noord-Kaap toon dat die gemiddelde reënval in die volgende jaar kan afneem en dat die temperatuur kan styg.
Dit lyk nie na ’n mooi prentjie nie, maar hy het ook genoem dat daar ’n paar lesse is wat uit die verlede geneem kan word en dat die landbousektor in die verlede gewys het die feitlik onmoontlike, is wel moontlik.
Hy vertel dat landbougrond sedert 1991 nie juis uitgebrei het nie, maar die wêreldproduksie van voedsel het sedertdien met 300% gestyg. Suid-Afrika het ook nie agtergebly nie. Hier het die voedselproduksie in die laaste 30 jaar met sowat 250% gestyg en hy glo daar is nog plek vir verbetering.
Hy glo landbouproduksie kan tot 80% verbeter ten spyte van negatiwiteit en bangmaakpraatjies. “Produsente moet meer aanpasbaar wees en die realiteit in die oë kyk en op dié manier op die voorpunt bly.”
Hy het ook gewaarsku dat dinge soos dieregesondheid en naspeurbaarheid op elke plaas in plek moet kom omdat markte dit al hoe meer van die produsente verwag.
Kry die nuutste weerverslag van Johan van den Berg.
Sy raad aan die produsente is:
- Maak kuddes kleiner.
- Selekteer vir toekomstige omstandighede.
- Bestuur hulpbronne beter.
- Beplan vir die toekoms deur langtermynvoorspellings in ag te neem.
- Beplan om water van donderstorms op te berg sodat dit nie wegloop nie.
Dr Havenga meen daar is baie potensiaal in Suid-Afrikaanse landbou, maar produsente moet die realiteit in die oë kyk en wetenskap ook inspan. – Koos du Pisanie, AgriOrbit