100 jaar van wolproduksie (Deel 2): Institusionele konsolidasie en piekproduksie (1926 tot 1996)

Estimated reading time: 8 minutes

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) van Suid-Afrika is op 26 Mei 1926 tydens ’n wolkonferensie in Middelburg in die Kaap gestig. Hoewel die organisasie eers in 1929 formeel gestalte gekry het, word die vroeëre datum as die stigtingsdatum erken en word die eeufees in 2026 gevier.

Leon de Beer, voormalige bestuurder van die NWKV, het in ’n 2014-uitgawe van die Wolboer/Wool Farmer geskryf dat verskeie onafhanklike wolkwekersverenigings teen 1926 reeds landswyd aktief was. Georganiseerde verteenwoordiging vir wolprodusente strek egter langer terug. In 1831 is ’n vereniging in die Kaap gestig om Merino-teling te bevorder. Dit is gevolg deur die stigting van die Nasionale Vereniging vir Wol- en Bokhaarkwekers in Port Elizabeth in 1906, en die Dewetsdorp Wolprodusentevereniging in 1907 vir die Oranjerivierkolonie. In 1918 is die Transvaalse Skaap- en Bokprodusente-organisasie op die been gebring.

LEES MEER: 100 jaar van wolproduksie deel 1.

’n Klassifikasiestelsel word gebore

’n Belangrike mylpaal is op 24 Mei 1924 bereik toe bedryfsrolspelers in die Middelburg-stadsaal vergader het om ’n gestandaardiseerde wolklassifikasiestelsel te ontwikkel. Die besprekings het onder andere gefokus op die verhandeling van wol op openbare veilings, verpligte dip van skape en interdistrik-wolkompetisies. Wetgewende aangeleenthede is ook voorberei vir voorlegging aan die regering.

Hierdie vergadering het die grondslag gelê vir die eerste wolkongres wat op 26 Mei 1926 in Middelburg gehou is. Claude Orpen van die plaas Avoca naby Barkly-Oos is as die eerste voorsitter verkies, met Thomas Murray as ondervoorsitter en Gerhard Rood as sekretaris. Orpen, ’n baanbreker-wolprodusent, het met innovasies soos jakkalswerende heinings en grensruiters vorendag gekom om die bestuur van groot skaapkuddes te vergemaklik.

In 1911 het hy Arabiese perde na Suid-Afrika ingevoer met bloedlyne wat vandag nog hul merk laat. Sy leierskap het bygedra om streeksverenigings tot ’n enkele nasionale liggaam te verenig, wat uiteindelik tot die stigting van die Suid-Afrikaanse Wolraad in 1930 gelei het.

Claude Orpen

Die Wolraad kry gestalte

’n Volledig-verteenwoordigende kongres van wolprodusente is vir die eerste keer op 18 September 1929 in Bloemfontein gehou. Twee belangrike besluite is daar geneem, vertel De Beer: ’n versoek is aan die minister van landbou, generaal Jan Kemp, gerig om ’n heffing op elke baal uitgevoerde wol in te stel, en ‘n wolraad is voorgestel om die minister oor die aanwending van dié fondse te adviseer.

’n Heffing van een sjieling per baal is op 1 Februarie 1930 ingestel, en die adviserende Wolraad is in dieselfde jaar gestig. Hul eerste taak was om die doeltreffendheid van die Wolprodusente-organisasie te verbeter en dit het gelei tot die herstrukturering van die NWKV onder ’n nuwe grondwet wat op 6 Januarie 1931 aanvaar is.

Die raad is belas met die formulering van verskeie strategiese doelwitte vir die bedryf. Dit het ingesluit:

  • Om die NWKV as amptelike spreekbuis van wolprodusente in Suid-Afrika te posisioneer.
  • Om die bedryf in samewerking met die NWKV te beskerm, bevorder en ontwikkel.
  • Om toe te sien dat die Springbokkop goedgekeur word as die amptelike handelsmerk vir Suid-Afrikaanse wol, sodat internasionale handelsmerk-erkenning verkry kon word.
  • Om bemarking, tegniese navorsing en advertensies vir sowel rouwol as woltekstiele te verbeter.

Gefokusde aandag aan hierdie aspekte het die Wolraad toegelaat om die wolbedryf te ontwikkel van ’n gefragmenteerde stelsel van streeksverenigings, na ’n verenigde nasionale liggaam wat internasionaal kon meeding.

Ontwikkeling van die bedryf

Jannie Moolman

Die Georganiseerde Wolboer se eerste uitgaweis op 25 Februarie 1932 in Afrikaans én Engels gepubliseer. In dieselfde jaar het die Wolraad sy eerste promosieveldtog, ‘Dra Meer Wol’, van stapel gestuur. Dié inisiatief het internasionale momentum gekry toe Suid-Afrika in 1937 aan ’n wolkongres in Melbourne, Australië deelgeneem het.

Die Internasionale Wolsekretariaat (IWS) is in Januarie 1937 in die lewe geroep om wol wêreldwyd te bevorder. Die stigterslede was Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, met Uruguay wat later aangesluit het. In 1946 is die adviserende Wolraad op grond van wetgewing in ’n statutêre liggaam omskep, wat op 16 September daardie jaar formeel in werking getree het.

Jannie Moolman van die plaas Rusoord in die Middelburg-distrik van die Karoo, was die eerste voorsitter. Hy was ‘n groot dryfkrag agter internasionale wolbevordering en het van 1951 tot 1964 as voorsitter van die IWS gedien.

Die raad het uit ’n voorsitter en agt lede bestaan, met twee addisionele gekoöpteerde lede. Een van hierdie lede, dr PJ du Toit, direkteur van Veterinêre Dienste, het mettertyd die eerste nie-produsent geword wat die hoogste eerbewys van die NWKV, die Goue Ramtoekenning, ontvang het.

Wolmark en beleidsverandering

In 1952 het die Wolraad die heffingstelsel hersien sodat wolprodusente voortaan ’n heffing op grond van totale wolgewig, eerder as per baal, sou betaal. Terselfdertyd het alle heffingsbetalende produsente outomaties lede van die NWKV geword en ’n eksemplaar van die Wolboer/Wool Farmer ontvang.

Dalende wolpryse in die laat 1950’s het gelei tot die instelling van ’n buffer-voorraad prysondersteuningskema in Maart 1958, wat op sy beurt tot die stigting van die Suid-Afrikaanse Wolkommissie op 1 Julie 1960 gelei het. Die skema is aanvanklik deur die Wolraad bestuur, maar is later aan die nuutgestigte Wolkommissie oorgedra om ’n vloerprysstelsel te bestuur en die mark te stabiliseer.

Die kommissie se primêre funksie was om produsente teen korttermyn prysskommelings te beskerm deur wol te koop wanneer markpryse onder ’n voorafbepaalde vlak sou daal. In 1972 het die Wolkommissie en Wolraad saamgesmelt tot ’n enkele entiteit wat toesig oor die totale bedryf gehou het. Hierdie verenigde struktuur het ’n volledige aankoopskema bedryf, totdat die bemarkingstelsel in 1993 geliberaliseer is. Die raad is uiteindelik in 1997 ontbind.

Nadat dit vir jare as ’n federasie van streekstakke gefunksioneer het, het die NWKV in 1987 ’n hoofkantoor in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gevestig. Die daaropvolgende jaar is Theuns Botha as die eerste voltydse bestuurder aangestel.

Die NWKV het reg deur sy geskiedenis ‘n kernrol gespeel, nie net wat produsenteverteenwoordiging betref nie, maar ook ten opsigte van die bevordering van standaarde vir wolklassifikasie, -verpakking en -bemarking.

Fokus op produksietendense

Wolproduksie in Suid-Afrika het in die vroeë 1900’s vinnig gegroei, teen die middel van die 1900’s ’n hoogtepunt bereik, en vanaf die 1970’s tot die 1990’s ’n langtermyn afname beleef.

Figuur 1: Historiese wolproduksietendense in Suid-Afrika.

Produksiefaktore

Invloedryke wolfamilies

Verskeie vooraanstaande telers het gedurende die 20ste eeu ‘n rol gespeel om die wolbedryf en veral die Merino-ras te help vorm. ’n Belangrike fokuspunt was die aanpassing van die ras by plaaslike toestande, veral deur die ontwikkeling van gladder (minder geplooide) tipes en dubbeldoelrasse soos die Dohne Merino.

‘n Aantal invloedryke families het nie net ’n bepalende rol in die ontwikkeling van die Merino en wolproduksie gespeel nie, maar ook ’n beduidende bydrae tot landelike ontwikkeling gemaak en gehelp om struktuur aan wolbemarking te gee. Hulle het ingesluit: Minnaar, Van Gent, Van Aardt, Orpen, Jordaan, Southey, Butler, Brodie, Shuman, Naudé, Kingwill, Van der Merwe, Heroldt, Rubidge, Murray, Clark, Pienaar, Moolman, Hobson, Du Plessis, Kock, Retief, Van Heerden, Bester, Cilliers, Scheepers, Hanekom, Uys, Van As, Geldenhuis en Saaiman.

Ineenstorting van die wolmark

In 1991 het die Australiese Reserweprysskema (RPS) wat sedert 1970 minimumpryse gewaarborg het, ineengestort as gevolg van oorproduksie en die druk wat daarmee gepaard gegaan het. Die Australiese Wolkorporasie het ’n voorraad van 4,7 miljoen bale opgebou, tesame met bykans AUS$3 miljard se skuld.

Aangesien die skuldlas onvolhoubaar geword het, het die Australiese regering die minimumprys op 11 Februarie 1991 laat vaar, waarna pryse byna onmiddellik met sowat 70% getuimel het. Duisende skape is geslag of vir vleis verkoop, omdat die wol minder werd was as die koste van skeer.

Die Australiese ineenstorting het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur. Plaaslike wolpryse wat tot in hierdie stadium aan die Australiese mark gekoppel was, het skerp gedaal. Die Suid-Afrikaanse Wolraad het self groot voorrade en toenemende skuld opgebou as gevolg van sy eie prysondersteuningspogings. Hierdie krisis het buffer-voorraadskemas wêreldwyd in diskrediet gebring en in Junie 1993 is die Suid-Afrikaanse wolprysstabiliseringskema beëindig.

Die 1991-ineenstorting het die druk vir vryemarkhervorming in die Suid-Afrikaanse landbou aansienlik verhoog. Die statutêre enkelkanaalbemarkingstelsel op grond waarvan die Wolraad alle verkope beheer het, is in 1993 afgeskaf en produsente was in staat om hul wol onafhanklik of deur veilingshuise te bemark.

Die 3%-wolheffing vir die 1995/96-seisoen wat die NWKV tydens sy kongres goedgekeur het, was die laaste heffing wat Suid-Afrikaanse wolprodusente moes betaal voor die deregulering van die bedryf.

Die Suid-Afrikaanse Wolraad is in Augustus 1997 formeel ingevolge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, 1996 (Wet 47 van 1996) ontbind. Sy bates is na die Woltrust oorgedra en Cape Wools SA is as ’n nie-winsgewende bedryfsorganisasie in die lewe geroep. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Related

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige maak of deel van sosiale...

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende...

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar van sy bestaan. Die organisasie is in 1926 in die...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by vee en veroosaak lewerskade, geelsug en fotosensitiwiteit, en lei dikwels...