Daar is byna niks so opwindend vir ’n stadsjapie wat lief vir die natuur is as om ’n paar dae lank op die rug van ’n perd op ’n Karooplaas deur te bring nie.
Karoo Ranching het onder meer ten doel om boerdery ’n “cool” beeld te gee. Onder die vaandel hiervan, bied Julie Truter ’n jaarlikse “cattle drive” op hul familieplaas Elandskloof, naby Graaff-Reinet, aan. Die geleentheid is oudergewoonte in Oktober vanjaar aangebied. Tydens hierdie drie dae lange geleentheid is daar nie werklik tyd om op jou agterstewe te sit en droom nie – behalwe miskien in ’n perdesaal iewers in die veld – vanwaar jy die natuurskoon kan bewonder. Dit is ook die ideale kans vir fotograwe om hul veelsydigheid ten toon te stel.
Die idee is om te leer hoe om beeste in die veld bymekaar te maak en dan met hulle in ’n kraal te werk. Volgens Julie is dit ’n geleentheid waar mense die plaaslewe en werk wat daarmee gepaard gaan, fisies beleef.
So het ’n groepie besoekers vanjaar van heinde en ver gekom om die ervaring mee te maak. “Elkeen het ’n perd gekry en het oor die drie dae hegte bande met hul diere gesmee. Daarna is hulle in groepe verdeel sodat almal ’n kans kon kry om te perd met die beeste te werk,” sê Julie.
Sy skroom nie om te sê dat dit harde werk is en dat die dae lank kan word nie, veral as die son op die aarde neerskroei. “Ek glo die cattle drive gee mense wat nie direk by landbou betrokke is nie, ’n goeie idee van hoe ’n produsent se dag verloop. Een van die hoogtepunte was om te leer hoe om met die beeste te werk met die minste moontlike stres vir die diere.”
Julie beskou dit persoonlik as ’n voorreg en leersame ervaring om mense aan die plaaslewe bloot te stel. “Ek hoop ons kan meer plase en produsente in die nabye toekoms betrek. Voedselsekerheid raak almal van ons en dit begin waar mense bewus gemaak word van boerdery as ’n leefwyse waarvan baie min mense kennis dra.”
Vir navrae, kontak Julie Truter gerus by 076 984 4695 of stuur ’n epos na julie@karooranching.co.za. – Carin Venter, AgriOrbit