Estimated reading time: 6 minutes
Net ’n bietjie meer as twee derdes van die totale oppervlakte van Suid-Afrika word as weiding geklassifiseer. Dié weiding moet grootliks deur vee benut word, maar nie alle weiding het dieselfde potensiaal nie. Dit sal dus ’n invloed hê op die tipes produksiestelsels wat op die verskillende weidings toegepas kan word.
Benewens weiding moet ’n paar ander aspekte ook in ag geneem word wanneer veeproduksiestelsels oorweeg word. Hierdie artikel, die eerste van twee, fokus spesifiek op aspekte wat oorweeg moet word wanneer grootveeproduksiestelsels teenoor mekaar opgeweeg word. In die tweede artikel word verskillende aspekte van kleinveeproduksiestelsels met mekaar vergelyk.
Speenkalfproduksiestelsels
Speenkalfproduksie, of ’n koei-kalf-stelsel, is die vernaamste veeproduksiestelsel vir kommersiële beesboere in Suid-Afrika. Buiten die verse wat as vervangingsverse teruggehou word, word die res van die kalweraanwas jaarliks op ’n ouderdom van tussen vyf en sewe maande bemark. Die speenkalwers word hoofsaaklik aan voerkrale verkoop, wat vir die afronding van sowat 75% van die land se beesvleis verantwoordelik is.
Die winsgewendheid van dié tipe stelsels word grootliks deur die heersende speenkalfprys beïnvloed. Die speenkalfprys word op sy beurt deur onder meer die mielieprys en die aanbod van kalwers in die mark beïnvloed.
Wanneer die graanprys hoog is, daal die speenkalfprys, omdat dit duurder raak om die diere af te rond. Net so styg die speenkalfprys gewoonlik wanneer die prys van graan daal. In so ’n geval is dit nie net voerkrale wat bereid is om meer vir die kalwers te betaal nie; graanboere is ook geneig om hul eie kalwers terug te hou (laer aanbod) en ook kalwers in te koop (hoër vraag) wanneer graanpryse laag is, in ’n poging om meer waarde tot hul graanoes te voeg.
Speenkalfproduksie kan as ’n eenvoudiger stelsel gesien word as osproduksie. Die produksiesiklus is korter, meer koeie kan aangehou word en produsente het minder infrastruktuur soos kampe nodig. Die nadeel van hierdie stelsel is dat koeikuddes in tye van droogte kleiner gemaak moet word om druk op die veld te verlig.
Osproduksiestelsels
In dié tipe stelsel rond produsente self hul vee op die veld af. Die ouderdom waarteen produsente hul diere bemark, verskil wel tussen produsente. Die inkomste uit osproduksiestelsels word bepaal deur die karkasprys, gewig en die klassifikasie wat die karkasse behaal, eerder as deur die speenkalfprys.
Die produksiesiklus van dié stelsels is ook heelwat langer as in die geval van speenkalwers en dít kan stremming op ’n boerdery se kontantvloei plaas wanneer van ’n speenkalf- na ’n osproduksiestelsel oorgeskakel word. Die koeikudde gaan kleiner wees, omdat kalwers langer gehou word en meer infrastruktuur nodig is om meer troppe te akkommodeer.
Die voordeel van ’n osproduksiestelsel is dat van die diere vroeër bemark kan word indien ’n droogte sou toeslaan. Sodoende hoef nie onnodig aan die koeikudde gesny te word nie.
Hoe lyk die somme?
Om die twee stelsels met mekaar te vergelyk, toon Tabel 1 en 2 die aannames wat in die berekeninge gebruik is, met die verskille in bruto inkomste tussen die stelsels wat in Figuur 1 aangedui word. Die resultate word per raamgrootte en per stelsel getoon. Die pryse wat in die berekeninge gebruik is, is die gemiddelde pryse oor die afgelope twaalf maande.
Dit is opvallend hoeveel die bruto inkomste per stelsel en raamgrootte verskil. Die grootste bruto inkomste is vir mediumraam-speenkalfproduksie bereken. By al die raamgroottes het speenkalfproduksie ’n hoër inkomste gegenereer.
Dit is wel belangrik om te onthou dat die speenkalfprys die afgelope paar maande hoog was – sowat 74% van die A-graadprys. Indien dit sou terugsak tot op ’n vlak van rondom 60 tot 65%, sal dit osproduksie baie meer mededingend maak.
Buiten inkomste, sal ook bereken moet word wat die koste van die onderskeie stelsels sou wees. Oor die algemeen word teen kleinraam inheemse rasse se speenkalwers gediskrimineer en laer speenkalfpryse word gewoonlik vir dié kalwers aangebied. Indien dit die geval is, moet dit deel vorm van die analise, om te verseker dat ’n akkurate prentjie geskets word.
Verse vir teelmateriaal
Sommige produsente verkies om bykomende vervangingsverse groot te maak, met die oog daarop om hulle as kommersiële teelmateriaal te bemark, eerder as speenkalwers. Die verse wat as dragtig of ‘gereed vir die bul’ verkoop word, se prys word nie soseer deur die speenkalfprys bepaal nie, maar eerder deur die markprys van teeldiere op ’n gegewe tydstip.
Hier is dit wel belangrik dat die verse van goeie gehalte moet wees en dat hulle die korrekte inentings ontvang het om gemoedsrus by die koper te vestig.
Beskikbare hulpbronne
Daar moet seker gemaak word dat die plaas se drakrag korrek bereken is en dat die getal diere binne die beskikbare drakrag bestuur word. Dit is belangrik dat die korrekte raamgroottes gebruik word om die waardes te bereken.
Winter in suurveldgebiede kan baie taai raak en aandag moet dus aan diere se voedingsbehoeftes geskenk word, sodat nie op produksie ingeboet word nie. In ’n osstelsel gaan speenkalwers in die winter nie veel in gewig toeneem sonder byvoeding nie. Hulle sal waarskynlik gewig verloor op suurveldweidings.
Indien oesreste beskikbaar is, sal dit goedkoper en makliker wees om diere daarop te oorwinter.
In soetveldstreke sal dit makliker wees om diere op die veld te oorwinter. Dit blyk dat die gebruik van hoëdrukbeweidingstelsels dit moontlik maak om ’n plaas se drakrag te verbeter, deurdat alle materiaal bewei word. Hier boet produsente soms in op produksiesyfers (speenpersentasie en gewig), maar die toename in die getal koeie maak weer hiervoor op.
Hoëdrukbeweidingstelsels verg noukeurige bestuur en is meer arbeidsintensief as tradisionele beweidingstelsels.
Ligging van die plaas
Die omgewing en ligging van die plaas, tesame met die plaaslike klimaat, moet ook in aanmerking geneem word wanneer produksiestelsels oorweeg word. Bergagtige gebiede sal minder geskik wees om teeltroppe aan te hou en kan dalk beter benut word in ’n osproduksiestelsel. Diere kan in hierdie dele aangehou word om uit te groei, terwyl die koeie en kalwers in minder bergagtige kampe gehou word.
Dit sal raadsaam wees om eerder ’n osproduksiestelsel te oorweeg in gebiede waar droogtes gereeld voorkom, sodat getalle makliker aangepas kan word sonder om die koeikudde uit te dun. Neem ook die algemene siektes in die omgewing in ag wanneer jy op ’n stelsel en geskikte ras vir jou plaas besluit.
Bykomende oorwegings
Nadat al hierdie aspekte goed deurdink en die somme gemaak is, moet elke produsent self besluit wat hy wil doen. Wil jy speenkalwers produseer so goed jy kan of wil jy eerder jou eie diere afrond? Neem jou voorkeure – dit waarvan jy hou – in ag en te bepaal of dit in jou boerderystelsel gaan inpas indien veranderinge aangebring moet word. – dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr WA Lombard by lombardwa@ufs.ac.za.