Estimated reading time: 2 minutes
Gelukwensings was aan die orde van die dag op 10 Junie toe Richard Hutton-Squire (40), ’n appel- en peerprodusent van Grabouw, as die Agri Wes-Kaap/Santam Jongboer van die Jaar vir 2026 aangewys is.
Die gesogte toekenningsgeleentheid is by die moderne Ashanti-landgoed naby die Paarl aangebied, waar finaliste, bedryfsleiers, borge en gaste byeengekom het om uitnemendheid in die landbou te vier.
Innovasie en leierskap
Die Agri Wes-Kaap/Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie erken uitstaande jong produsente wat elk op hul eie manier verbind is tot die toekoms van landbou in die Wes-Kaap.
Vanjaar se vier finaliste het ’n uiteenlopende verskeidenheid landbou-ondernemings in die Wes-Kaap verteenwoordig. Die ander drie finaliste, benewens Richard Hutton-Squire, was:
- Pieter-Kruger Uys van Clanwilliam – wyndruiwe, perskes en appelkose.
- Albert Smit van Clanwilliam – rooibostee, sitrus en skape.
- Roux Conradie van Tulbagh – wyndruiwe, olywe en beeste.
’n Viering van jong talent
Onder die gaste was landbouleiers, borge en regeringsverteenwoordigers wat die belangrike rol van jong produsente in voedselsekerheid, ekonomiese groei en landelike ontwikkeling beklemtoon het.
Voor die langverwagte aankondiging van die wenner, het die aandprogram toesprake deur bedryfsverteenwoordigers en belanghebbendes ingesluit, asook vermaak deur die Afrikaanse musiekgroep RAAF, voorheen bekend as The Bottomless Coffee Band.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr Ivan Meyer, het tydens sy toespraak na die uitdagings in die Wes-Kaapse landboulandskap verwys. Hy het ook ’n persoonlike dimensie aan die aand gegee deur ’n gedig oor die tema ‘tuiste’ voor te dra. Hy het sy verbintenis tot Suid-Afrika se landbou herbevestig en beklemtoon dat hierdie land, ten spyte van uitdagings, steeds sy gekose tuiste bly.
Santam bevestig verbintenis
As ’n jarelange ondersteuner van die landbousektor het Santam weer eens sy verbintenis tot die bedryf bevestig deur sy borgskap van die kompetisie. “Boere verteenwoordig 38% van Santam se kliëntebasis,” het Dennis Geldenhuys, besigheidsontwikkelingsbestuurder vir Santam Agri en verhoudingsbestuurder in die Wes-Kaap, gesê.
Die kompetisie beklemtoon jaarliks die uitsonderlike gehalte van jong landbouleiers in die Wes-Kaap. As die provinsiale wenner, sal Richard Hutton-Squire later vanjaar teen Suid-Afrika se voorste jong produsente in die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie meeding. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, besoek Agri Wes-Kaap se webwerf by www.awk.co.za.












