Estimated reading time: 4 minutes
Produsente is opgewonde oor wat na ’n goeie gemiddelde appel- en peerseisoen lyk danksy die positiewe produksietoestande wat wyd ervaar is.
Die Wes-Kaapse appel- en peerproduksiegebiede het ’n laat, maar koue winter met uitstekende reënval beleef. Toestande was gunstig tydens blom en vrugontwikkeling het bevredigend geskied. “Tot dusver is ons somer lekker koel, en oorlede Robert Zulch van die Witzenbergvallei het altyd gesê ’n koel somer dui op ’n goeie appelseisoen. Ons sien dit tans in die vruggrootte. Wanneer temperature te hoog is, ervaar die boom spanning en die appels gaan staan stil, maar in koeler omstandighede kry jy weekliks 3–4mm groei en die bome lyk sommer gelukkig,” vertel Calla du Toit, Tru-Cape se verkrygingsbestuurder en self ’n appel- en peerprodusent van die Witzenbergvallei. Die wind het ook nog nie tot dusver uitermatige probleme veroorsaak nie, en in alle produksiegebiede het die vrugte ’n mooi skoon voorkoms. Buiten ’n kouefront wat ’n bietjie ysreën in November gebring het, beskryf hy die seisoen as “volmaak tot op hede”.
“In geen van ons produksiegebiede was daar noemenswaardige wind- of vloedskade nie, en ons het eintlik baie om voor dankbaar te wees.” Tans lyk dit of die appeloes sowat ’n week later as gewoonlik gaan aanbreek, maar latere kultivars sal waarskynlik op tyd wees. “Ons verwag nie ’n rekordoes op dié stadium nie, want Fuji-tipes, Royal Gala en Pink Lady lyk ietwat ligter, maar ons is versigtig optimisties dat dit ’n goeie gemiddelde seisoen gaan wees met uitstekende gehalte deur die bank.”
Volgens aanduidings is Europa en die Verenigde Koninkryke gretig om vroeg weg te spring met Royal Galas.
“Ons is baie opgewonde oor die geleenthede wat dit bring, aangesien Tru-Cape se Royal Gala-aanbod die afgelope jare fluks gegroei het, veral danksy die toevoeging van BigBucks Gala en Flash Gala,” vertel Calla.
Hernieude fokus op blospere
Pere sou egter kon baatvind by warmer somerweer en Rosemarie, waarvan die oes hierdie week waarskynlik ten einde loop, lewer kleiner vrugte op. Vanjaar lui egter ’n opwindende nuwe hoofstuk by Tru-Cape in, met goeie kommersiële hoeveelhede van Cape Blush wat vir die eerste keer gepluk is. “Dit bring heel nuwe geleenthede vir ons,” sê Calla opgewonde oor die groeiende blospeerkategorie. “Cape Blush is ’n vroeë kultivar met baie goeie kleur en vruggrootte, wat natuurlik voordelig is vir produsente. Ons proewe en evaluasies toon ook dat dit baie goed opberg, anders as Rosemarie wat geneig is om te vergeel. Ons het dus nou die geleentheid om met vroeë blospere markte te betree wat verder van ons geleë is en ook markte wat groter vrugte wil hê, soos Kanada en Viëtnam. Ons kan ook die gesogte Chinese mark aanvat met Cape Blush, danksy die vrugte se mooi blos. Dit stel ons in staat om regdeur die jaar blospere aan markte soos Viëtnam en China te verskaf, want ons kan Forelle daarmee opvolg.”
Merkbare verbetering in die Kaapse hawe
Die appel- en peerbedryf is vol moed dat logistiek nie vanjaar so ’n groot struikelblok sal wees soos in die verlede nie. Die Kaapse hawe het in Desember merkbaar beter gevaar as in vorige jare, sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape. Hoewel dit ’n treëtjie in die regte rigting is, het Roelf beklemtoon daar is steeds ruimte vir verbetering. “Hawe-owerhede het meer tyd gehad om voor te berei en druk te verlig tydens die tradisionele pieke, want die vrugteuitvoerseisoen het bietjie later afgeskop as gewoonlik. Weerstoestande was ook gunstiger in Desember en die wind het vir minder ontwrigting gesorg as in ander jare.”
Pienaar sê die hawe se algehele produktiwiteit het nie veel verbeter nie, maar bedrywighede was beslis meer stabiel. “Anders as in vorige Desembers, waar bedrywighede dikwels tot stilstand gekom het, was toerusting vanjaar meer geredelik beskikbaar en die bedryfsprosesse het beslis verbeter. Ons is baie dankbaar vir die goeie werk wat Hortgro en ander belanghebbers doen om die krisis te help oplos.” – Persverklaring, Tru-Cape