Estimated reading time: 6 minutes
Draai jy by die plaas Gedachtenis in die Eeram-omgewing van Harrismith in om by Gert en Lize Loggenberg aan te gaan, is jou eerste indruk dat hierdie produsent op netheid en orde gesteld is. Gert bevestig daardie indruk wanneer hy sê Lize reken dat hy ’n beheervraat is. “Ek wil by alles op die plaas betrokke wees,” sê hy onomwonde.
Gert boer met Merino-Landskape en Simbra-tipe beeste. ’n Saaiboer, sê hy, is hy nie. Daarom verhuur hy sy lande vir ’n persentasie van die mielie-opbrengs en kry hy die voordeel van die oesreste vir winterweiding.

Ekonomiese doeltreffendheid
“Ek het nie ’n groot boerdery nie, maar ek probeer alles so doeltreffend as moontlik doen. My benadering is nie maksimum wins nie, maar eerder optimale opbrengs, wat beteken dat ek insetkoste so laag as moontlik wil hou, en soveel as moontlik waarde tot my produk toevoeg om die beste inkomste te genereer.”
Hy sê hulle boer konserwatief. “As ek ’n uitgawe wil aangaan, maak ek eers seker dat daardie uitgawe my boerdery meer doeltreffend sal maak. So, byvoorbeeld, het ons ’n klompie jare gelede ’n pilmasjien gekoop om ons eie rantsoene te verpil. Dit was ’n uitstekende besluit, want ons bespaar heelwat op onnodige vermorsing, en omdat ons nou pille voer, kan ons van selfvoerders gebruik maak, wat aansienlik op arbeid spaar.”
Lees meer van klimaatslim veeboerdery hier.
Natuurlike, gehalte lamsvleis
Dit geld veral vir die skape. Hulle bemark al die slaglammers direk aan die eindverbruiker onder die handelsmerk Grasslandlamb. Hulle het ’n ooreenkoms met Mountain View by die Engen Eenstop net buite Harrismith, waar kliënte verpakte lamsvleis kan koop.
“Ons uitgangspunt is dat ons ’n gehalte produk aan ons kliënte wil verskaf. Ons gebruik geen groeistimulante of hormone in ons slaglammers nie, en spuit ook nie antibiotika of ander middels in die voerkraal nie.”
Lamseisoene en -grootmaak
Een van die voorvereistes om direk aan die verbruiker te bemark, sê hy, is dat jy regdeur die jaar slaglammers beskikbaar moet hê. Daarom het hulle drie lamseisoene per jaar – in Maart/April, Junie/Julie en Oktober/November.
“Ons sinkroniseer ons ooie sodat hulle in hanteerbare groepe in ons lamhokkies kan lam. As daar byvoorbeeld 200 ooie is wat moet lam, sal ons hulle volgens gewig in drie groepe verdeel en ’n week uit mekaar sinkroniseer, sodat hulle binne drie weke klaar lam.”
Alle tweelinglammers word met ’n kepie in die linkeroor gemerk, sodat Gert hulle in aanmerking kan neem wanneer vervangingsooitjies en ramme geselekteer word. Die lammers word op ongeveer drie maande gespeen en die vervangingsooitjies word geïdentifiseer en gemerk. Lammers wat ongeveer 33kg weeg, gaan dadelik voerkraal toe, terwyl die res in kampies loop tot hulle die regte gewig bereik. As ’n lam 55kg bereik, word hy geslag.
“Dit is moeilik om ooitjies te voer dat hulle 55kg bereik sonder om te veel vet aan te sit. Dit help as jy hulle eers swaarder laat word vóór hulle voerkraal toe gaan. Die ideaal is om hulle eers op 36kg te begin voer.”
Boerderystatistieke
Gert het oor die afgelope twaalf lamseisoene uitgewerk dat die mortaliteit in die herfs- en lenteseisoen ongeveer 1,8 en 1,68% onderskeidelik is, terwyl die winterseisoenmortaliteit 3,8% is. Dit gee hom ’n gemiddeld van 2,43% oor die jaar.
Die langtermyn gemiddelde daaglikse toename in die voerkraal, oor die afgelope 47 groepe geneem, is 373,57g/dag, en die gemiddelde aantal dae in die voerkraal is 52,9. Die gemiddelde inkomgewig is 35kg per lam.
Hulle skeer elke agt maande en die gemiddelde vag per skaap weeg 2,55kg. Vandat hy elke agt maande begin skeer het, het sy skoonwolopbrengs met 12% verbeter.
Selfvoerders en rantsoene
Gert gebruik selfvoerders in die voerkraal én die lamhokkies. “Die pille wat ons gebruik help om die selfvoerders doeltreffend te laat werk en maak bestuur heelwat makliker, teenoor die arbeid wat nodig is om drie of vier keer per dag te voer.”
Hulle maak twee pilrantsoene: ’n voerkraalrantsoen en ’n hoë-vesel ooirantsoen wat hulle in die lamhokkies gebruik.
Die voerkraalrantsoen bestaan uit mieliemeel, soja-oliekoekmeel, Feedtek se Mutton Gainer, melassemeel en Feedtek se bufferpak. Dieselfde rantsoen word as kruipvoer gebruik, sodat die lammers reeds aangepas is wanneer hulle in die voerkraal kom. Wat hy moontlik aan resultate in terme van die kruipvoer verloor, wen hy dubbel en dwars in terme van vereenvoudigde bestuur, sê hy.
Ongeveer 14 dae voor lamtyd, ontvang die ooie ’n lek bestaande uit Voermol se Maksiwol-konsentraat, mieliemeel en sout. Sowat drie dae voor lamtyd skakel hulle na die ooirantsoen oor. Omdat die ooie reeds op die mieliemeel aangepas is en die ooirantsoen so hoog in vesel is, sukkel hulle nie met spysverteringsprobleme nie.

Die beesvertakking
Op die vraag met watter tipe bees hy boer, moet die antwoord seker Simbra wees, sê Gert. Hy gebruik suiwer Simmentaler- en Brahmanbulle oor en weer, en hou ook van sy eie bulle terug. Die gevolg is ’n koeikudde waarin beide die Brahman- en die Simmentaler-invloed opmerklik is.
“Die bulletjies wat ek terughou, begin ek vier maande vóór hulle koeie toe gaan, met Voermol se SB 100 en hooi in die veld te voer. In die vierde maand is hulle weer net op die veld. Ons plaas die kosbakke ver van die water af sodat hulle gedwing word om te stap.
“As hulle uiteindelik koeie toe gaan, kry hulle geen ekstra kos behalwe die lek vir die spesifieke seisoen nie. Op hierdie manier help ek hulle aanvanklik, maar daarna moet hulle bewys dat hulle op veld kan produseer.
“Ons het twee kalfseisoene om kontantvloei te bevorder. Die herfskalfseisoen is tussen Maart en Mei, en die lenteseisoen tussen Augustus en Oktober. Afgesien van die kontantvloeivoordeel van twee kalfseisoene, is daar die verdere voordeel dat indien ek ’n voertekort inloop, net die helfte van die kudde erg geraak word. Die ander helfte is waarskynlik droog en dus nie so kwesbaar nie.”
Tweede kanse
As hy nie in sy lewe tweede kanse gehad het nie, sê Gert, sou hy nie vandag hier gewees het nie. “Ek voel ek skuld dit aan my diere om hulle ook ’n tweede kans te gee. Ek kan nie daarop aanspraak maak dat my bestuur onfeilbaar is nie, so as ’n dier nie dragtig is nie, kan dit maklik weens my bestuurstekortkominge wees.
“Met dié dat ek meervoudige kalf- en lamseisoene per jaar het, en ons verse op 18 maande dek, is dit natuurlik makliker om tweede kanse te gee, want sy skuif net oor na die volgende dekseisoen as sy nie dragtig is nie. As sy egter daarna wéér oorslaan, moet sy gaan.”
As hy kon, sê Gert, sou hy sy boerdery Genadeboerdery wou noem. “Alles wat ons hier het, is bloot genade. As ek oor ons lewens terugkyk, was daar baie oomblikke waarin ons eerlik nie geweet het waarheen nie. Dan het ’n deur doodgewoon oopgegaan, wat ons in staat gestel het om weer aan te gaan. Dít is die gees waarin ons wil leef: genade.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
