Estimated reading time: 4 minutes
Deur ’n goed-deurdinkte winterlekprogram te volg, kan jy die toekomstige produktiwiteit van jou kudde verseker. Die doel van ’n winterlekprogram is meervoudig: Ons wil die diere se kondisie behou, jong diere se groei ondersteun, en seker maak dat dragtige diere genoeg goeie gehalte voeding tydens laatdragtigheid ontvang.
Die gehalte van winterweiding wissel van gebied tot gebied en het ’n groot impak op die sukses van jou beeskudde. Die grootste deel van Suid-Afrika kry somerreën, wat beteken dat die weiding se groeiseisoen in die somer val. In die winter of droë seisoen begin die gehalte van die weiding vinnig afneem. Grasse begin dan om energie in hul wortels en sade te berg vir die volgende groeiseisoen, die proteïeninhoud begin afneem en die weiding se smaaklikheid neem af. Hoe vinnig en hoeveel die voedingswaarde en verteerbaarheid van die weiding afneem, gaan afhang van die tipe veld (soet- of suurveld), die grondtipe, die reënval in die gebied, en ook die produsent se weidingsbestuur.
’n Goeie winterlekprogram behoort uit drie dele te bestaan, naamlik ’n oorgangsfase, winter en laatwinter. Vir elke fase van die droë seisoen sal die voedingstrategie moet verander om die veld in sy huidige vorm ten beste te benut. Dit is belangrik om te onthou dat natuurlike weiding die goedkoopste voedingsbron is. ’n Goeie lekprogram sal verseker dat die weiding optimaal gebruik word en nie met ’n lek vervang word nie.
Vind meer uit oor die beginsels van veldverbetering.
Oorgangsfase
Tydens die oorgangsfase is daar nog genoeg redelike goeie gehalte weiding beskikbaar. Hierdie tydperk is ideaal om jou diere voor te berei vir die hoë nie-proteïenstikstof (NPN)-inhoud van winterlekke. Die mikrobiese gemeenskap in die rumen het tyd nodig om van een dieet na die volgende aan te pas.
Dit is belangrik om jou diere oor ’n minimum van 14 dae aan te pas deur te begin met ’n klein hoeveelheid van die lek, en dan elke paar dae die dier meer toegang tot die lek te gee. Indien moontlik moet jong diere wat nog groei, apart bestuur word om koste te bespaar. Natuurlike proteïenbronne is belangrik vir die ontwikkeling van jong diere, veral verse. Hierdie is ’n baie duur voedingsbron en moet dus strategies op die regte plek en regte lewensfase aangewend word.
Wanneer om oor te skakel
Sodra die eerste ryp voorgekom het, is dit tyd om volkome oor te skakel na winterlekke. Hierdie lekke het gewoonlik ’n hoë NPN-inhoud, aangesien proteïen die eerste beperkende komponent in winterweiding is. Ureum is die algemeenste NPN-bron wat in winterlekke gebruik word. Die NPN word deur mikrobes gebruik as boustene vir hul eie proteïenbehoeftes in die rumen. Hierdie mikrobes word dan deur die dier self verteer om die proteïen te benut.
Dit is ook belangrik om steeds ’n mineraalaanvulling te voer as deel van jou winterlek, afhangend van die grond in die gebied se mineraalprofiel. Aan die begin tot middel van die winter is daar gewoonlik nog genoeg volume weiding om aan die diere se onderhoudsenergiebehoefte te voldoen. Dit is wel belangrik om aandag te gee aan jong, groeiende diere en dragtige diere se voeding, aangesien hulle ’n hoër energiebehoefte sal hê.
Laatwinter
Teen die einde van die droë tydperk is daar nie noodwendig meer genoeg weiding op die veld oor nie en die verteerbaarheid daarvan is baie swak. Dit sal dus nodig wees om gedurende hierdie tydperk beide proteïen en energie in die vorm van ekstra ruvoer en ’n produksielek aan te vul.
Voorkom dat diere kondisie verloor, veral verse en eerstekalfkoeie. Koeie moet in ’n goeie kondisie kalf om hulle kanse op herbesetting en produktiewe leeftyd te verbeter. Dit is baie duurder en moeiliker om in hierdie tydperk kondisie te verbeter as om dit te behou.
Bestuur jou weiding doeltreffend en gebruik lekaanvulling strategies om jou diere se liggaamskondisie en groei te ondersteun. – Mari Bronkhorst, Voermol Voere
Vir meer inligting en verwysings, kontak Marí Bronkhorst by 083 386 8378 of epos mari.bronkhorst@tongaat.com.

