Excelsior se grootste biltonggroeikoning-kompetisie nóg

Ten spyte van bek-en-klouseergevalle wat in die Kuruman-omgewing uitgebreek het, asook swaar reën, oorstromings en selfs die sluiting van die N14 tussen Vryburg en Kuruman, het Excelsior Abattoir vanjaar sy grootste Biltong Groeikoningkarkaskompetisie nóg aangebied. Dit is die sesde keer dat die kompetisie aangebied word.

Rianes de Klerk, mede-eienaar en hoofuitvoerende beampte van die abattoir, sê hoewel verskeie telers vanjaar aangedui het dat hulle nie aan die kompetisie kon deelneem nie, daar steeds 623 beeste geslag is.

Die wenners van die kompetisie is op Saterdag, 30 Mei, tydens ’n gesellige kuierfunksie by die André Kock-veilingkrale in Kuruman bekendgemaak. Verlede jaar se wenners het weer uitstekend presteer. Willem Scholtz was vanjaar se wenner met ’n karkaspunt van 99,9%. Willie de Jager was tweede en Christo Jacobs derde. In die groepkarkasafdeling het Willem Scholtz ook skoonskip gemaak met ’n punt van 98,5%. Die reserwegroepkarkas was dié van Hein Booysen.

Rianes verduidelik dat daar op elke plaas ’n vet koei of twee is wat vir die teler nie veel sal inbring as dit geslag word nie. Vir biltongmakers is hierdie diere egter goud werd. Dit was juis dié geleentheid wat die oorsprong van die kompetisie gevorm het. Hy en sy bestuur het besluit om iets met daardie vet koeie te doen en bied dus aan boere ’n uitstekende geleentheid om van hierdie diere ontslae te raak.

Wat maak ’n wen-biltongkarkas?

Hulle het wegbeweeg van die South African Meat Industry Company (Samic)-kriteria en hul eie maatstawwe bepaal. Waar Samic ’n A-graad-kompetisie aanbied, word daar by hierdie biltongkarkaskompetisie gekyk na goeie geelvetverspreiding, veral oor die snitte wat vir biltong gebruik word. Hoe geler die vet, hoe beter die biltong. Rianes beskryf dit as die beste Suid-Afrikaanse biltongeienskappe en sê dit was moeilik om die wenners te kies.

Die 40 beste karkasse uit 623 is uitgestal, en hieruit moes hy ’n finale beoordeling doen. Hoewel dit geen maklike taak was nie, was die persentasieverskil tussen hierdie karkasse minder as 10%.

Na afloop van die prysuitdeling is boere en kuiergaste bederf met ’n gesellige saamkuier rondom biltong, droëwors en heerlike biefstukke, en daar is tot laatmiddag gekuier. Persone wat belangstel in hierdie kompetisie, kan Rianes de Klerk skakel by 083 285 1910. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Popular stories