Estimated reading time: 2 minutes
Disco Bonsmara, ’n Platinum-wenner by Logix se streekstoekennings, se 9de produksieveiling het Vrydag, 25 Julie, plaasgevind. Die veiling het gepaardgegaan met ’n gemoedelike atmosfeer en goeie mededinging tussen die voornemende kopers by die veilingslokaal en diegene wat aanlyn op die Meerkat-toepassing gebie het.
Die Bonsmara-vertakking is deel van Venter Boerdery by Addo in die Sondagsriviervallei. Vanjaar se aanbod het 19 Bonsmara-bulle, 45 dragtige Bonsmara-koeie, 20 dragtige verse, en 38 oop Bonsmara-kommersiële verse (reg vir die bul), ingesluit.
Afslaersvernuf
Johan van der Nest, ’n onafhanklike afslaer, het homself goed van sy taak gekwyt en Vleissentraal se beamptes, wat die veiling gereël het, was agter die skerms bedrywig.
Die hoogste bod vir die dag is op Lot 8, VJN 22070, vir ’n bedrag van R150 000 toegeslaan. Die koper was Sakkie Steynberg van Schietnek Bonsmara, Steynberg Boerderytrust.
Die stoetbulle se gemiddelde bod op die veiling was R64 210 en die gemiddelde bod vir die stoetkoeie was R20 178. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Boeram Venter van Venter Boerdery by 082 576 1684 of Gappie Aucamp van Vleissentraal PE by 082 450 9635.