HomeMagazinesDie rooivleisprystameletjie: Waarom die wanbalans?

Die rooivleisprystameletjie: Waarom die wanbalans?

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die jaar 2023 het beslis nie goed afgeskop vir speenkalfprodusente nie. Hierdie jaar se speenkalfprys het in Januarie egter op dieselfde vlak as in 2021 begin en toe net verder gedaal en wéér onder 2018 se prysvlakke gebly.
  • Produsente verstaan dat speenkalfpryse onder druk kom wanneer die aanbod van kalwers hoog is of wanneer die vraag laag is.
  • Tans wil dit egter voorkom asof rooivleis in die kleinhandel baie duur bly terwyl die karkaspryse skerp daal.
  • Alhoewel beurtkrag al vir jare met ons is, en baie al planne gemaak het om op ’n manier steeds voort te gaan met hul bedrywighede terwyl die krag nou en dan vir ’n paar uur af is, het die omvang en impak van beurtkrag baie toegeneem.
  • Duur brandstof jaag nie net die prys van finale produkte op weens duurder vervoer nie, maar knyp ook die verbruiker se sak aangesien daar nou meer betaal moet word om daagliks by die werk uit te kom.

Die jaar 2023 het beslis nie goed afgeskop vir speenkalfprodusente nie (Figuur 1). Die vorige twee jaar het ons werklik goed behandel wat speenkalfpryse betref het, veral in ag genome dat 2019 en 2020 se pryse meestal laer as die 2018 pryse was.

Figuur 1: Weeklikse speenkalfpryse 2023.

Hierdie jaar se speenkalfprys het in Januarie egter op dieselfde vlak as in 2021 begin en toe net verder gedaal en wéér onder 2018 se prysvlakke gebly. Die probleem het egter al in die laaste kwartaal van 2022 begin toe speenkalfpryse begin daal het en nié die normale styging na die einde van die jaar getoon het nie.

Lees meer oor die nuutste verwikkelinge in die rooivleisbedryf hier.

Veranderinge teen die tendens

Alhoewel wisselvallige pryse deel is van landbou, is daar hierdie jaar baie vrae rondom die veranderinge in prys. Produsente verstaan dat speenkalfpryse onder druk kom wanneer die aanbod van kalwers hoog is of wanneer die vraag laag is. Hulle verstaan dat hoë voerkoste die speenkalfprys onder druk plaas en dat geen voerkraal baie vir ’n kalf gaan betaal indien daar nie vooruitsigte vir sterk A2-karkaspryse is nie. Die groot verskil tussen die huidige prysdaling en dié van vervloë gevalle is die feit dat die speenkalf-, A2-karkas- en winkelrakpryse in die verlede gewoonlik redelik met mekaar tred gehou het.

Hierdie keer is dit egter glad nie die geval nie. Alhoewel die prys van A2-karkasse ook nie in Desember 2022 die gewone styging na Kersfees getoon het nie (Figuur 2) en boonop aan die begin van 2023 begin daal het, was die prys steeds bo, of net onder, die 2022-prys. Die prys van karkasse het dus nie na die prysvlakke van 2018 teruggeval soos in die geval van die speenkalfprys nie. Dit het die gaping tussen speenkalf- en karkaspryse drasties vergroot.

Figuur 2: Weeklikse A2-beeskarkaspryse.

Nog ’n opmerking wat dikwels gemaak word is dat dit nie lyk asof die kleinhandelpryse van beesvleis dieselfde tendens volg as die speenkalf- en karkaspryse nie. Alhoewel daar dekades lank al hare gekloof word oor die pryse van sommige kleinhandelsnitte wat nie noodwendig karkaspryse volg nie, het vorige navorsing bewys dat die prystransmissie tussen karkas- en kleinhandelpryse wel reg werk indien al die snitte op die winkelrak in ag geneem word en daar ’n paar weke ruimte gelaat word vir die reaksie om plaas te vind.

Tans wil dit egter voorkom asof rooivleis in die kleinhandel baie duur bly terwyl die karkaspryse skerp daal. Een van die redes wat voorgehou word vir die daling in karkaspryse, is dat die vleis nie in die kleinhandel oor die rak skuif nie. Dan is die vraag egter onmiddellik: Hoekom pas die kleinhandel nie hul pryse afwaarts aan sodat die verbruiker weer die produk kan koop nie?

Daar is beslis nie genoeg bladsyspasie om al die uitdagings rondom die huidige prysscenario te bespreek nie, maar ons kan op ’n paar van die belangrikste faktore wat tot die huidige situasie bydra, fokus.

Klik hier vir die weeklikse rooivleispryse.

Speenkalfpryse

Indien ons by die speenkalfprys begin, het die volgende faktore afwaartse druk op prys geplaas sonder dat dit werklik die res van die waardeketting beïnvloed het. Die eerste is hoë voerpryse. Die mielieprys het die afgelope jaar of twee skerp toegeneem en selfs bo R5 000/ton gedraai, wat dit baie duur gemaak het om kalwers af te rond. Daarmee saam het die pryse van oliesade, en dus die byproduk in die vorm van oliekoek wat ’n belangrike proteïenbron in voerrantsoene is, ook skerp toegeneem sedert Rusland vir Oekraïne ingeval het, wat verdere druk op voerpryse geplaas het.

Die tweede faktor was bek-en-klouseer (BEK) wat nie net hier en daar buite die beheerde gebiede uitgebreek het soos in die verlede nie, maar soos ’n veldbrand versprei het en selfs in voerkrale uitgebreek het. Die voerkrale met BEK was onder kwarantyn geplaas en kon nie nuwe kalwers inkoop nie, wat die vraag na en dus die prys van speenkalwers laat daal het.

Nog ’n bydraende faktor is die feit dat dit lyk of daar hierdie jaar meer kalwers in die mark is as die vorige paar jaar. Die land se nasionale beeskuddegetal het skerp gedaal met die droogte van 2014 tot 2018, en daarna het produsente ’n kuddeboufase betree wat speenkalfgetalle beperk het. Vanjaar lyk dit egter of baie produsente terug is by hul oorspronklike getalle en dus nou meer kalwers die mark in kan stoot.

Faktore wat karkaspryse beïnvloed

Indien ons na karkaspryse kyk, is daar ’n paar faktore wat die pryse beïnvloed. Alhoewel daar beslis ’n groot verskil tussen karkas- en kleinhandelpryse is, beïnvloed baie van die faktore wat die karkasprys raak ook die kleinhandelprys.

Die eerste faktor is die stand van die ekonomie. Met die aanbreek van Covid-19 het rentekoerse in Suid-Afrika redelik skerp gedaal en vir bykans 30 maande laag gebly. Alhoewel ons rentekoerse nie so laag soos die res van die wêreld s’n was nie, was dit steeds baie bekostigbaar om krediet aan te gaan en dit het inflasie skerp laat styg, wat weer die monetêre beleidskomitee genoop het om rentekoerse te verhoog. Die skerp rentekoersstygings sedert 2022 het baie geld uit die verbruiker se sak gehaal, wat op sy beurt die vraag na luukse produkte soos beesvleis laat daal het.

Nog ’n faktor, en een wat ons maklik miskyk, is dat abattoirs in Suid-Afrika onder geweldige druk is weens lae vyfdekwartpryse. In die verlede het abattoirs karkasse verkoop teen dieselfde pryse as waarteen hulle dit aangekoop het. Die daling in die vyfdekwartprys, veral in die prys van huide, het abattoirs egter genoop om ’n marge by karkaspryse te voeg om sodoende winsgewend te bly. Hierdie marge vergroot dan die verskil tussen die prys wat die produsent of voerkraal ontvang en dít wat die winkel vir vleis vra.

Kyk Plaas TV se insetsel oor die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf.

Rol van beurtkrag

Nog ’n olifant in die kamer is beurtkrag. Alhoewel beurtkrag al vir jare met ons is, en baie al planne gemaak het om op ’n manier steeds voort te gaan met hul bedrywighede terwyl die krag nou en dan vir ’n paar uur af is, het die omvang en impak van beurtkrag baie toegeneem.

Beesvleis is ’n produk wat afhanklik is van ’n koue ketting sodat dit nie bederf nie. Dit beteken dat abattoirs, groothandelaars en kleinhandelaars nou vir tot nege ure op ’n dag moet staatmaak op kragopwekkers om koel- en vrieskamers te laat werk. Dit stoot hulle kostes aansienlik op en aangesien dit iewers verhaal moet word sodat hulle winsgewend kan bly, word hierdie kostes by die prys van die produk gevoeg.

Nog ’n gevolg van beurtkrag wat ons soms miskyk, is die impak daarvan op verbruikers. Die meeste van die verbruikers is van Eskom afhanklik om saans hul kos gaar te maak. Ongelukkig is dit so dat die goedkoper rooivleissnitte ’n langer gaarmaaktyd vereis – as jy weet jy gaan net ’n uur na werk elektrisiteit hê om kos voor te berei, moet jy jou wend na ’n alternatiewe proteïenbron wat vinniger gaargemaak kan word. Die laer vraag na goedkoper snitte sal die pryse van daardie snitte laat daal sodat dit verkoop kan word, maar aangesien die hele karkas steeds winsgewend verkoop moet word, word die pryse van duurder snitte nie so maklik aangepas nie.

Die laaste faktor wat ek wil noem, alhoewel daar sekerlik nog is wat pryse beïnvloed, is die invloed van hoë brandstofpryse die laaste 18 maande. Duur brandstof jaag nie net die prys van finale produkte op weens duurder vervoer nie, maar knyp ook die verbruiker se sak aangesien daar nou meer betaal moet word om daagliks by die werk uit te kom.

Logiese gevolge

Indien ons die faktore wat hier genoem is oorweeg, raak dit duidelik dat die al hoe groter verskil tussen speenkalf-, karkas- en kleinhandelpryse tog logiese verduidelikings het. Hierdie faktore het gelyktydig afwaartse druk op die speenkalfpryse en opwaartse druk op verbruikerspryse veroorsaak, wat weer die gaping tussen die pryse laat vergroot het. – Prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, kontak die outeur by MareFA@ufs.ac.za.

Must Read

Ekonomiese oorsig vir April: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het tydens April redelik sywaarts beweeg en gedurende die middel van April verswak, maar het weer goed versterk,...