Thursday, March 13, 2025

Die moets en moenies van kruipvoer vir lammers

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die waarde van kruipvoer in die voorsiening van lammers se voedingsbehoeftes moet nie onderskat word nie.
  • Vyftig persent van ’n vier- tot ses-weke oue lam se voedingsbehoeftes kan, bo en behalwe ’n ooi se melk, deur alternatiewe bronne soos kruipvoer en gras voorsien word.
  • Alhoewel ’n lam se grootpens (rumen) eers op drie tot vier weke begin funksioneer, moet kruipvoer so gou as moontlik verskaf word.
  • Een van die belangrikste vereistes by die toediening van kruipvoer is die gebruik van verstelbare kruiphokke wat vergroot word soos die lammers groei.
  • Lammers se daaglikse gewigstoename en voeromset verbeter ook, en hulle kan vroeër gespeen en bemark word.

Die waarde van kruipvoer in die voorsiening van lammers se voedingsbehoeftes moet nie onderskat word nie.

Unity Joubert van Trouw Nutrition sê lammers groei heel waarskynlik volgens hul maksimum genetiese potensiaal wanneer ooie hul piek melkproduksie bereik. Terwyl die ooi se melkproduksie stelselmatig begin afneem, neem die lam se voedingsbehoeftes toe. Lammers se groeitempo kan afneem indien hul voedingsbehoeftes nie bevredig word nie.

Vyftig persent van ’n vier- tot ses-weke oue lam se voedingsbehoeftes kan, bo en behalwe ’n ooi se melk, deur alternatiewe bronne soos kruipvoer en gras voorsien word. Die vermoë van ’n lam om melk en voer doeltreffend in vleis om te skakel, is afhanklik van hul ouderdom. Jonger lammers het ’n beter voeromsetvermoë. Indien kruipvoer binne die eerste 42 dae voor speen toegedien word, kan ’n voeromsetdoeltreffendheid (VOD) van 1:1 benut word om sodoende maksimum groei in ’n jong lam te bereik, sê Joubert.

Vroeë blootstelling

Lammers se verteringstelsel funksioneer tydens die eerste paar weke van hul leeftyd soos dié van ’n monogastriese dier. Alhoewel ’n lam se grootpens (rumen) eers op drie tot vier weke begin funksioneer, moet kruipvoer so gou as moontlik verskaf word. Die normale aanbeveling is vanaf sewe tot tien dae nadat ’n ooi gelam het.

In intensiewe skaapstelsels kan dit selfs vinniger geskied wanneer ooie na lamhokke geskuif word. Joubert sê lammers raak vinniger gewoond aan kruipvoer, pas makliker aan, en lei in dié geval minder aan speenskok.

Lees meer oor die beginsels van kruipvoer.

Goeie formulering

’n Ooi se melk, sê sy, is hoog in proteïene maar laag in energie. Kruipvoer moet geformuleer word om hoog in verteerbare energie asook proteïene en minerale te wees. ’n Mengsel moet droë-energie voere bevat om die rumen te ontwikkel.

Natuurlike proteïene in die vorm van oliekoek is nog ’n element wat die nodige aminosure vir groei en ontwikkeling kan verskaf. ’n Hoogs verteerbare veselbron soos lusern is nodig. Medikasie in die vorm van antibiotika en koksidiostate (ionofore) is belangrik om siektes te beheer. Anioonsoute soos ammoniumchloried of ammoniumsulfaat is nodig om nierstene/ blaasstene te verhoed, veral in die geval van jong ramme.

Kruipvoer moet smaaklik wees; daarom is lusern en melasse nodig om lammers te lok om vinnig te begin vreet. Die tekstuur is ook belangrik vir rumenontwikkeling en kruipvoer moet grof genoeg wees om die nodige krapfaktor in die rumen te verskaf.

Gebruik van kruipvoerhokke

Een van die belangrikste vereistes by die toediening van kruipvoer is die gebruik van verstelbare kruiphokke wat vergroot word soos die lammers groei. Joubert sê lammers moet maklike toegang tot hierdie hokke hê. Om koksidiosebesmetting te verhoed en voerinname te verhoog, moet daar altyd vars kruipvoer in die hokke wees. Ooie kan vir die eerste twee dae by die kruipvoer geplaas word sodat lammers by hulle kan leer vreet. Kruiphokke moet voldoende vreetspasie hê sodat alle lammers toegang daartoe het.

Lees meer oor kruipvoer in die kalfseisoen.

Gemiddelde kruipvoerinnames

Volgens Joubert sal ’n lam se kruipvoerinname in die eerste paar weke laag wees, maar gemiddelde kruipvoerinnames kan lyk soos in Tabel 1 vervat.

Tabel 1: Gemiddelde voerinnames.

OuderdomInname (gram per dag)
Twee weke2g-4g
Een maand50g-80g
Twee maande300-500g
Drie maande (100 dae) –speenouderdomTotale inname = 20-25kg

Voordele van kruipvoer

Eerstens word ’n swaarder speenlam (tussen 3 en 8kg en meer) geproduseer. Lammers se daaglikse gewigstoename en voeromset verbeter ook, en hulle kan vroeër gespeen en bemark word. Meer ooie kan aangehou word wat vleis- en wolproduksie verhoog. Speenskok word uitgeskakel en lei tot minder spanning by speen. Boonop is ’n lam dan klaar aangepas vir ’n nuwe omgewing en swaarder lammers word oor ’n korter tydperk afgerond.

Lees meer oor speenstelsels en speenskok.

Die vermoë om vinniger te bemark, verlaag voerkoste en verhoog wins. Kruipvoer bevat medikasie en dus is daar minder vrektes en ’n verhoogde speenpersentasie. Die verkorte speentydperk gee ooie langer tyd om hul kondisie te verbeter wat tot verhoogde konsepsies lei. Dit is ook meer kostedoeltreffend om ’n lam direk te voer as om ’n ooi te voer sodat sy melk vir haar lammer kan produseer. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Unity Joubert by 084 506 7829 of unity.joubert@trouwnutrition.com.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 8 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die...