Die invloed en voorkoming van speenskok by lammers

Estimated reading time: 6 minutes

Speentyd is ’n baie spanningsvolle tyd vir die ooi en haar lam. Deur ’n paar riglyne te volg, kan hierdie proses sonder speenskok en ekonomiese verliese verloop. Speenskok verwys na ’n afname in groei tot geen groei, of in sommige gevalle selfs massaverlies nadat lammers gespeen word.

Oor die algemeen word lammers eers op die ouderdom van 100 tot 120 dae gespeen. In ekstensiewe gebiede vind dit meestal eers op ouderdom 150 dae plaas. Sommige produsente speen glad nie en bemark lammers direk vanaf die ooie op ’n ouderdom van vier tot sewe maande. Vroegspeen word in meervoudige lamseisoene (soos agt-maande lamstelsels) toegepas op ongeveer 64 dae. Die sukses van vroegspeen vereis egter goeie bestuur en voeding.

Speenmassa is belangrik

Lammers se speenmassa is belangriker as hulle ouderdom. Lammers wat swaarder is met speen, sal beter groei na speen. Lammers moet met speen minstens 45%, maar verkieslik 50%, van die ooie se paarmassa weeg. Die minimum speenmassa moet verkieslik 25kg wees.



Lammers wat te lig, te jonk of op swak weiding en/of voeding gespeen word, ervaar dikwels speenskok en herstel eers daarvan as hulle weer hul speenmassa herwin het.

Voordele van kruipvoeding

Die voorsiening van kruipvoer aan lammers is ’n praktyk wat met groot sukses onder intensiewe sowel as ekstensiewe praktyke toegepas kan word. Dit hou vir beide die produsent en die voerkraal groot voordele in.

’n Lam is aanvanklik hoofsaaklik van biesmelk en daarna melk afhanklik. Die rumen is dan nog onaktief en moet eers ontwikkel. Die rumenpapillae moet verleng en die rumen moet vergroot om verhoogde volume vir die stoor en vertering van ruvoer te skep.

Lees meer oor die versorging van speenlammers.

Die korrekte mikrobes moet vestig en vermeerder, aangesien dit hulle gaan wees wat die ruvesel en stysel vir die lam moet verteer en in verbindings omskakel wat die lam as voedingstowwe kan gebruik. Spesifieke rumenmikrobes vestig as hulle die korrekte kos kry. As lammers byvoorbeeld net melk en ruvoer kry sal ruvoerverterende mikrobes aanwesig wees, maar geen styselverterende mikrobes nie.

Kruipvoer kan baie suksesvol gebruik word om rumenontwikkeling doelgerig en suksesvol te bestuur. Die bestuur van lammers se rumenontwikkeling sal bydra tot optimale groei en suksesvolle speen sonder speenskok.

Met kruipvoeding is dit moontlik om lammers onder alle voedingstoestande 28 dae vroeër (selfs meer) in ekstensiewe praktyke te speen. Lammers wat suksesvol kruipvoer vreet, se speengewig kan 10 tot 20% hoër wees. ’n Lam vreet 15 tot 25kg kruipvoer tot op speenouderdom en die gewigsvoordeel kan tot 6kg wees teenoor lammers wat nie kruipvoer gevreet het nie, gemeet onder veldtoestande waar lammers op ongeveer ouderdom 120 dae gespeen is.

Benut gunstige voeromset

Met kruipvoer kan die groeipotensiaal van lammers beter benut word weens ‘n beter voeromset op ’n vroeë ouderdom. Die voeromset van lammers by verskillende ouderdomme word in Tabel 1 aangetoon. Hiervolgens is dit duidelik dat jonger lammers voer doeltreffender benut. Die voorsiening van kruipvoer maak dus ekonomies sin aangesien dit doeltreffend verbruik word.

Positiewe effek op ooie

Spanning by die ooi tydens laktasie word deur die voorsiening van kruipvoer verminder en bring gevolglik beter kondisie en konsepsie teweeg, veral waar versnelde lamseisoenstelsels toegepas word.

Tabel 1: Tipiese voeromsetverhouding van lammers op verskillende ouderdomme.

Die ooi bereik tydens laktasie haar piek melkproduksie op ongeveer vier tot ses weke, waarna dit begin afneem terwyl die lam se voedingsbehoeftes toeneem. Die ooi se melk kan dus nie alleen voldoende voorsien in die vinnig-groeiende lammers se voedingsbehoeftes nie. Dit is veral die geval by ooie met meerlinge.

Die beste resultate in terme van rumenontwikkeling en groei, word behaal waar lammers vanaf ouderdom twee tot drie weke kruipvoer ontvang het. Dit is dus voordelig dat lammers so vroeg as twee weke ná lam reeds toegang tot kruipvoer het. Indien lammers dan suksesvol kruipvoer vreet, kan hulle alreeds op ouderdom vier tot ses weke ongeveer 50% van hulle voedingstowwe vanaf ander bronne as melk doeltreffend benut.

Naspeense groei en produksie

Kruipvoer bevorder naspeense groei, wat die leeftydproduksie- en reproduksie-potensiaal van ooilammers verhoog. Waar lammers voor speen kruipvoer ontvang het en dit vir 14 dae na speen volgehou word, ondervind hul feitlik geen groei-terugslae met speen nie. Trouens, die meeste hou aan met groei. Indien kruipvoer nie voorsien word nie, kan speen-lammers se groei egter met tot ’n maand na speen weens speenskok benadeel word.

Kruipvoeding kan ’n groot bydrae lewer tot suksesvolle aanpassing in ’n voerkraal wat betekenisvol bydra tot die meer winsgewende afronding van lammers. Dit is belangrik om te onthou dat styselverterende mikrobes afsterf as hulle nie meer stysel inneem nie. As gespeende lammers wat kruipvoer ontvang het dus eers ’n week of langer in ’n kamp loop waar hulle nie styselaanvullings ontvang nie, is dit so goed asof geen stysel vooraf gegee is nie. Alle goeie aanpassingswerk word dan ongedaan gemaak.

Bestuur van ooie met speentyd

Die ooie moet ook met speen voor-berei word vir die speenproses, veral by vroegspeenpraktyke. Hulle kragvoer of lekaanvulling kan ’n paar dae voor speen weggeneem word. Hulle het dan slegs toegang tot lae-gehalte ruvoer en water.

Die skielike daling in proteïen- en energievlakke sal ’n daling in melk-produksie veroorsaak. Ooie behoort op ’n lae-gehalte ruvoerdieet te bly totdat hul uiers begin krimp en opdroog. Uiers moet vir die eerste paar dae na speen dopgehou word vir tekens van rooierigheid en swelling. Ooie moet behandeling ontvang indien mastitis waargeneem word. As sy baie ongemaklik is, kan die uier ‘n bietjie uitgemelk word, maar nie alles moet uitgemelk word nie aangesien dit melkproduksie sal stimuleer.

’n Goeie gesondheidsprogram

Volg ’n inentings- en ontwurmings-program wat deur ’n veearts saamgestel is om naspeense vrektes te voorkom. Lammers moet die meeste van hulle inentings voor speen ontvang. Ontwurming, kastrering en die merk van lammers moet lank voor speen voltooi word, aangesien hierdie praktyke ekstra spanning op hulle plaas indien dit tydens speen gedoen word.

Indien van die praktyke na speen moet plaasvind, sal dit wys wees om te wag totdat die lammers weg van hul moeders aangepas is. Die eerste drie weke na speen is die belangrikste tyd om lammers deur die speenskok te help. In hierdie tyd is daar baie druk op die lammers se immuunstelsels weens verhoogde druk van eksterne patogene en ’n verlaagde immuunrespons. Hul gesondheid moet vir ’n paar weke na speen gemonitor word en enige siektetekens moet dadelik behandel word.

Neem die ooie weg

Verwyder eerder die ooie met speen van die lammers, en nie andersom nie, sodat die lammers in ’n bekende omgewing agterbly. Deur lammers in dieselfde groepe as voorheen te hou, sal eensaamheid verminder en sosiale interaksie bevorder word. Spanningsvlakke daal en speenskok word voorkom. – Deur Esmari Rautenbach (Pri.Sci.Nat), Feedtek

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan die outeur by esmari@feedtek.co.za.

Must read

Agbiz sheds light on EU citrus disputes

Van boeredae tot kuilvoerkompetisies – Plaas TV dek dit alles

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Wolfe Braude of Agbiz gives us background on the European...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these prices calculated?https://drive.google.com/file/d/1Dkq1o6hyVk_XbciPOvsJUaFjhnuparoH/view?usp=sharing The Red Meat Abattoir Association (RMAA) gathers pricing data...

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after Jan van Riebeeck’s tenure in the Cape, but it was not until the 1960s that this cactus was recognised for...
red meat tomahawk steak

RMAA Price Information System report for week 35 2024

Estimated reading time: 2 minutes The Red Meat Abattoirs Association (RMAA) is an independent membership-based organisation, which was established in February 1991 with its primary aim being providing specialised training and technical support. The data provided...

RPO bespreek uitvoere, predasiebestuur en veranderende wetgewing

Estimated reading time: 7 minutes Terwyl oorgrenshandel en die vervoer van lewende hawe en dierlike produkte op verskeie vlakke problematies bly, beleef die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Nasionaal se uitvoerende raad heelwat positiewe momentum met betrekking tot...